Sarah du Pisanie Omnibus 11. Sarah du Pisanie
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Sarah du Pisanie Omnibus 11 - Sarah du Pisanie страница 26
Karla kyk vererg na Christa. “Maar ék is sy moeder! Hy is mý kind en hy het die reg om dit te weet. Te weet dat ek hom liefhet …!”
Christa draai om na haar en ’n snaakse gevoel van weersin stoot in haar op. Is hierdie vrou werklik eerlik en opreg? Is dit werklik vir Kurt wat sy wil hê of is dit Kurt se oom wat die aantrekkingskrag is?
Karla kom kniel voor Adolf en huil kliphard. “Jy sal nooit so wreed wees om te weier dat ek my kind kan sien nie … nè, my lief?”
Adolf kyk fronsend oor haar kop na Christa. Maar in Christa het daar ’n oerdrang kop uitgesteek en sy veg nou soos ’n dier vir haar kleintjie.
“Ek sê nie jy mag hom nie sien nie. Ek sê net julle kan nie die nuus sommer so aan hom meedeel nie. Gee hom kans om jou te leer ken en wen sy liefde, dan sal dit vir hom makliker wees. In hierdie stadium is jy vir hom ’n vreemdeling wat sy gelukkige klein wêreldjie kom bedreig. As jy nou skielik vir hom moet sê jy is sy ma en jy vat hom weg van alles wat bekend en dierbaar is … hy … hy sal dit nie kan verwerk nie. Hulle het swaar genoeg gehad!” Christa se stem breek effens en sy sit dringend vorentoe op die bank.
Adolf frons gevaarlik as Karla haar vingers deur syne vleg. “Asseblief, Dolfie … gee my hierdie kans om my kind te leer ken. Om hom te leer om vir my ook lief te wees. Om hom te leer dat ek sy mamma is en dat ek hom liewer as my eie lewe het,” smeek sy.
“Ek weet nie, Karla. Jy gaan alles hier ontwrig. Ons het nie die personeel om nog gaste ook te ontvang nie. Christa doen alreeds so baie.”
“Ek sal nie ’n oorlas wees nie, Adolf. Laat my bly, ek smeek jou. Laat my toe om hom lief te hê … om hom te wys wat dit is om ’n eie moeder te hê.”
Christa walg van die vrou se woorde want dit wat sy sê, vind geen aanklank by die uitdrukking in haar oë nie.
Adolf kyk vraend na Christa en sy kan sien dat hy glad nie gediend is met hierdie idee nie. Vies wonder sy of hy liewer die arme Kurt aan ’n wildvreemde vrou wil uitlewer. ’n Vrou wat hy van geen kant af ken nie en hom net weer in eensaamheid gaan dompel. Hierdie vrou met haar koue blou oë is tot geen liefde in staat nie.
“Ek gaan vir ons koffie haal,” sê Christa en stap vinnig kombuis toe voordat Adolf haar kan keer. Sy berei die skinkbord voor en vra vir Bernard om dit in te neem. Sy het geen begeerte om verder in hulle geselskap te wees nie.
Verslae gaan sit sy op die kant van haar bed. Adolf se groot liefde is hier! Vol lewe en vasbeslote om Adolf weer in te palm, al moet sy ook vir Kurt gebruik om daardie doel te bereik.
Hoekom noem sy haarself Burmeister, hoekom is sy nie Von Leipsig nie? wonder Christa. Kan ’n ma werklik vyf jaar lank wegbly voordat jy jou kind kom opsoek? Kan ’n mens se lewe werklik so deurmekaar raak dat jy bereid is om jou kind af te gee … weg te gee soos ’n klein hondjie? Christa skud haar kop heen en weer. Dit klink nie vir haar moontlik nie, maar ’n ander mens se boeke is duister om te lees. Sy was nog nie in so ’n situasie nie, sy moet liewer nie oordeel nie.
Karla is die volgende oggend nie aan die ontbyttafel nie. Christa draai ná ontbyt al om die huis met die seuns om Karla ’n kans te gee om by hulle aan te sluit sodat sy Kurt beter kan leer ken. Die vakansie is al amper op ’n einde en as die skool eers weer begin, gaan sy veel minder tyd hê.
Christa is ongelukkig en hartseer. Adolf was afsydig aan tafel, asof hy haar kwalik neem omdat Karla nog hier is. Hy was baie beslis nie ten gunste van die voorstel dat sy hier moet bly en Kurt eers beter leer ken nie. Christa is in twee geskeur! Sy sal self ook graag wil hê dat Karla haar ry moet kry. Hulle kan mos nie ou Kurtie sommer so laat gaan nie … hy sal vreeslik ontsteld wees!
“Kom ons gaan stap, Mutti!” neul Klaus en Christa kyk moedeloos na die huis waar daar nog geen teken van Karla is nie.
“Goed!” Sy neem vinnig ’n besluit. “Gaan kry solank vir julle hoede. Ek gaan net gou vir die baron sê ons gaan ’n ent stap.” Christa draai om en stap vinnig terug huis toe.
Sy klop liggies aan die studeerkamerdeur en hy klink moeg en kortaf as hy haar gebied om in te kom. “Baron, ons … ek en die seuns gaan stap. Ons het vir juffrou Karla gewag, maar sy is blykbaar nog nie op nie en die seuns raak kriewelrig.”
“My naam is Adolf,” sê hy kortaf en vroetel met los velle papier op sy lessenaar.
Christa wil hom nie in so ’n bui alleen los nie. Sy wil haar arms om hom sit en hom liggies sus. “E … Hoekom noem sy haarself juffrou Burmeister en nie mevrou Von Leipsig nie?” vra Christa op die ingewing van die oomblik in die hoop dat hy vir haar sal sê hoekom hy so ongedurig lyk.
Hy bly ’n oomblik stil en sug swaar. “Omdat sy en Kurt nie getroud was nie.” Christa gaap hom verslae aan. Hy sê niks verder nie en kap vies met sy vuis op die tafel.
“Ek wil haar nie hier hê nie! Sy gaan alles kom omkrap en nou het jy met hierdie simpel idee vorendag gekom!” beskuldig hy haar.
Christa kyk vererg na hom. “Nou wat wil jy maak? Sommer vir Kurt op ’n skinkbord aan haar oorhandig en weer sy hele lewe ontwrig? Of haar net wegstuur? Onthou … sy is sy ma!” Christa se stem is nou meer pleitend. “Ons kan dit nie wegredeneer nie. Dalk is sy opreg, ons maak almal foute …”
“Gmf!” snork Adolf geïrriteerd. “Die geld wat my pa haar gegee het, is natuurlik op. Sy soek geld en niks anders nie!”
Christa stap om die lessenaar en sit haar hand op sy skouer, sonder om te dink. Hy lyk so moedeloos en … en bang! “Adolf, ek verstaan hoe jy voel. Maar sy is dalk werklik jammer … kan jy haar nie maar vergewe nie?”
Hy kap weer met sy vuis op die tafel. “Nee! Sy sal nie weer die voorreg hê om my seer te maak nie. Nooit weer nie! Buitendien …” Hy bly skielik stil en laat sak sy kop in sy hande.
Christa staan verleë met haar hand op sy skouer. Sy voel oneindig jammer vir dié groot man wat nou so uitgelewer is aan die weë van sy liefde.
“Is … is daar iets wat ek vir jou kan doen?” vra sy met die wêreld se deernis in haar stem.
“Los haar, dat sy die kind vat en net wegkom, ver weg, waar ek haar nooit weer hoef te sien nie,” antwoord hy gesmoord.
Christa staan geskok terug. “Maar … maar jy kan nie! Hy is net ’n ou seuntjie! Ons kan hom nie nou in die steek laat nie. Ons is al wat hy het,” soebat sy.
Hy sug soos ’n ou man. “Ja, gaan stap julle maar …” Daar is soveel matelose frustrasie in sy hele houding dat die trane warm agter haar ooglede brand.
“Adolf …” Sy sit haar hand terug op sy skouer. “Moenie daarteen veg nie. As jy nog lief is vir haar, laat jouself toe om te wees. Sy het berou, vergewe haar. Ons maak almal foute … die een of ander tyd.”
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную