Haar ma se kind. Helena Hugo
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Haar ma se kind - Helena Hugo страница 7
“Hoekom nie?”
“Jy kan val.”
“Ek is versigtig.”
“Pasop vir straathonde.”
“Ek ken hulle.”
“Netnou is hulle so bly om jou te sien, hulle spring teen jou op.”
Hy maak strepe in die stof met die een kruk. “Maak nie saak nie.”
Dania frons. Hoekom klink hy so moedeloos?
“Jy moet regkom dat ons weer kan krieket speel,” troos sy.
“Voel of ek nooit weer sal speel nie.”
“Nee, man, jy sal!”
Sy praat so hard, hy moet opkyk van sy gekrap in die stof. “Ek wens ek kan so gelukkig soos jy wees,” sê hy.
Gedagtes maak swerms deur haar kop. Hy kyk so deurdringend na haar, waarvan praat hy? Weet hy dat sy die vlerke se bande afgeknip het en gelukkig genoeg was om nie uitgevang te word nie, of weet hy dat sy Londen toe gaan?
“Het jy gehoor ek gaan Londen toe?” waag sy dit.
“Lekker! Wanneer?”
“Volgende jaar as dit lente is in Londen en skoolvakansie by ons. Dis einde Maart.”
“Kort vakansie?”
“Ek vat ’n ekstra week.”
“Jy sal nie veel mis nie, jy’s slim genoeg.”
Dis ’n kompliment, maar hy kyk weer so snaaks na haar, dis asof hy deur haar kan sien. Is dit Talita se vlerke wat hy sien of wat?
“Ek moet waai,” sê sy en spring weg voor hy haar beskuldig.
“Lekker draf!” roep hy agterna.
Hoe spyt is sy nou sy het nie langer gesels nie! Hy sou nie so gaaf klink as hy haar van die vlerke verdink nie, en niemand het haar beskuldig nie. Juffrou Pool het in elk geval als in die skool se konsertstoor weggepak … Nee, wag – dis nou genoeg! Talita het niks daarvan oorgekom nie. Dis haar pa – hý is die een wat haar seergemaak en verneder het, nie Dania Pietersen nie. Die Here het haar vergewe, Rodger praat met haar – en dis meer as wat sy verwag het, plus Londen! Wat maak dit saak as daar nie skaapvet in Londen is nie? Sy is anyway nie meer lief daarvoor nie. Maar sy moes nie gemoan het oor die pakkies nie, antie Dora het moeër as gewoonlik gelyk.
Dania vertraag haar pas toe sy van ver af sien hoe haar antie juis op daardie oomblik hul tuinhekkie toemaak en stadig wegstap. In een hand dra sy haar werkstas en in die ander ’n swaar inkopiesak.
Vier
“Niks wat ’n koppie tee nie kan regruk nie,” sê Dora toe sy uitasem op een van die drie stoele in die kliniek se kantoortjie neersak.
Emma kyk na haar met ’n bekommerde uitdrukking op haar gesig. “Lyk my meer na ’n ernstige geval van somergriep.” Sy skakel die elektriese ketel aan. “Ek gaan vir jou van ons beroemde sinuspille uittel en jou reguit huis toe stuur.”
“As ek nou loop, haal ek dit nie. Dis beter dat ek werk en eenuur gaan, dan kan ek Jonnie bel om my met die kar te vat. Ek het die vleis vir môre se sopkombuis vanoggend opgesit, die wortels is geskil en gesny, hy sal my met die aartappels handgee.”
Dora se hart klop te vinnig en haar asem jaag, sy sit haar hand op haar hart en probeer normaal inasem.
Emma se skerp oë mis niks. “Jy werk nie vandag nie.” Met koel vingerpunte raak sy aan Dora se voorkop. “Koorsig is jy! Allewêreld, wil jy almal hier aansteek? Ek bel Johan dat hy jou kom haal.”
Dis te veel gevra!
“Nee, Emma, moenie hom pla nie, nie vir my nie.”
“Gee sommer vir hom jou sopkombuisvleis en die groente, ek en Rosie sal dit afhandel.”
O, ellende! Dis nie in haar geaardheid om van ander mense se goedhartigheid afhanklik te wees nie, allermins van die wit kerk se predikant en sy vrou – al is sy ’n kollega en ’n goeie vriendin, sy kan onmoontlik van haar verwag om háár werk vir haar te doen. Sy sal dat Dominee haar huis toe neem. By die sopkombuisgoed trek sy die streep, en sy sê dit reguit.
Die ketel kook en Emma gooi water op die teesakkies in die bekers asof sy nie ’n woord gehoor het nie. Toe sy klaar is, draai sy om. “Dora,” sê sy, “ek hou jou geruime tyd al dop. Jy is een van my staatmakers, maar Ansie Willemse spog net so met jou. Boonop werk jy voltyds, doen huisbesoek, bak koesisters en maak klere, alles sonder ’n huishulp. Geen mens kan dit volhou nie.”
Dora besef dit, maar dis soos sy is, haar lewe lank.
“Ek het hulp,” keer sy. “Dania is fluks, sy help my baie.”
“Dania skryf eksamen en ek glo nie sy is altyd daar as jy haar nodig het nie. Vra my, ek ken tieners.”
Dora se hart krimp. Skielik sien sy Dania op haar parmantigste.
Ek gaan Londen toe! Julle het belowe as ek sestien is, gaan ek Londen toe.
Dania is Maartmaand sestien.
Dit voel vir Dora asof sy iets vashou wat in haar hand kriewel om te ontsnap. Emma het die spyker op die kop geslaan. Dania sal nie lank meer hier wees nie, maar sy wil haar goedpraat.
“Sy doen genoeg en sy het haar skoolaktiwiteite.”
“Ja, sy’s ’n oulike kind, maar volgende jaar gaan sy koshuis toe.”
“Ek en Jonnie werk saam.”
“Dis mooi en goed. Julle is ’n voorbeeld vir die dorp, maar julle word nie jonger nie.”
Emma gooi drie lepels suiker in Dora se beker, ’n titseltjie melk.
“Soet,” sê Dora toe sy dit proe. Die hand waarmee sy haar beker vashou, bewe verskriklik – amper stort sy.
“Wanneer laas het jy jou bloeddruk laat meet?” vra Emma.
“Laas saam met jou.”
“Toe was dit laag.”
“Joune ook.”
“Wel, vandag voel ek beslis beter as jy, my goeie vriendin.”
Goeie vriendin! Beste vriendin! Van al die vroue met wie sy saamwerk, is Emma die een in wie se geselskap sy die meeste tyd deurbring. Saam het hulle babas in die wêreld gebring en sien grootword, hulle het lewens gered en dooies uitgelê, geen onderskeid getref tussen ryk en arm nie.
Soggens begin hulle hul dagtaak met gebed en Bybelstudie, nie met soet tee en troos nie.
Behalwe vandag – en dis haar skuld. Sy het hier op die stoel neergeplof en tee bestel sonder om Emma in