Haar ma se kind. Helena Hugo
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Haar ma se kind - Helena Hugo страница 8
Emma kom staan by haar en vryf haar rug. “Huil maar, Dora, jy was lank genoeg almal se steunpilaar, en nie een van ons dink daaraan dat jy ook van vlees en bloed is nie.”
Dora haal ’n snesie uit haar mou. “Jammer … huil al … heelnag. Jonnie het my gelos dat ek laat slaap. Ek was laat … met alles.”
Sy blaas haar neus, soek nog ’n snesie en kry een in die boks op die lessenaar.
“Het julle woorde gehad?” waag Emma dit. “Ek kan mos maar vra, of hoe?”
“Daar is ’n saak waaroor ek en hy nie saamstem nie.” Dora praat asof sy kaalvoet in ’n plaat duwweltjies beland het. “Ek is … bang.”
Ek is bang die kind kry seer, ek is bang ons verwoes haar lewe, ek is bang ons spat uitmekaar.
Emma sit haar hand op haar skouer. “Wat is dit, Dora?”
Dis byna nege-uur. Daar staan ’n tou mense voor die deur. Dit is nie nou die regte tyd nie, was nog nooit nie, sal ook nooit wees nie, tensy … Sy kan huil, maar sy hou haar in. ’n Halwe waarheid, dink sy, is beter as ’n volslae leuen.
“Dis oor Jo-Anne wat Dania uitgenooi het om in Londen te gaan vakansie hou.”
Emma se oë rek. “Is dít die groot ontsteltenis, dat Dania dalk so ver weg moet gaan?”
“Dis nie net die vakansie nie.” Dora bondel die snesie op en los dit op haar skoot. Sy vat die beker tee vas en drink ’n paar slukke. “Ek is bang sy hou haar daar.”
Dis uit, en Emma lag!
“Ag nee, Dora! Hoekom sal Jo-Anne dit wil doen? Sy is jonk en lewenslustig, ’n tiener is die laaste ding wat sy nodig het om haar lewe om te krap. Ons ken mos vir Jo-Anne – sy toer die wêreld vol. Wat sal sy tog met Dania daar maak? Buitendien, Dania is ingeskryf by Hoërskool Graafwater en sy sien so uit daarna, niks sal haar in Londen hou nie. Wens Jo-Anne wil mý uitnooi. Kan ek nie in haar plek gaan nie?”
Jo-Anne het haar pastei net halfpad geëet. Sy skuif dit eenkant toe en kyk oor die eetsaal na die kinders om die tafels. Soos gewoonlik soek sy na een wat soos Dania lyk, al is dit net naastenby. Daar sit genoeg om van te kies, sommige wat sy nog nie voorheen raakgesien het nie.
“Is jy nie honger nie?” vra William en wys met sy vurk na haar bord.
“Te sout,” sê sy en skuif dit oor na hom.
Dis middagete-tyd en sy en William Morgan hou saam toesig.
“Jy mors met kos,” sê hy en val weg.
Tipies manlike alleenloper. Hy kook nie self nie, en die porsies wat hulle by die skool inskep, is belaglik klein vir ’n groot man soos hy. Soms eet sy net haar slaai en gee die res vir hom.
“Jammer ek het gisteraand se ete by jou gemis,” sê hy toe hy sy mes en vurk neersit.
Sy het hom ook na haar sopaand toe uitgenooi, maar die tyd het met sy kooroefening gebots. William kom van Cardiff in Wallis en is, soos die meeste Walliesers, geseënd met ’n stem soos dié van ’n engel – ook maar goed, want hy is nie juis aantreklik nie. Nogtans het hy ’n aantreklike persoonlikheid en kan grappe vertel wat jou laat krul van die lag.
“Vandag se pastei,” sê hy, “laat my wonder wat hulle met daai blou hoenderhaan op Trafalgar Square gaan doen.”
“Vervang met ’n pienk hoenderhen?” stel Jo-Anne voor.
Hy lag. “Julle feministe kan gerus die plein vir die manlike chauviniste los. Min mense het in elk geval ’n idee wat die haan veronderstel is om te versinnebeeld.”
Al wat Jo-Anne weet, is dat sy nie anders kan as om te glimlag as sy die slag op Trafalgar Square beland nie. Die blouselblou haantjie staan ’n kordate vyf meter hoog op sy voetstuk, ’n helder spatsel kleur op die grys plein met sy ewe grys standbeelde, almal van mans, en almal met dieselfde aangeplakte haantjie-houding – nes Danny Koopmans, die man wat haar lewe verwoes het. Eintlik sal sy bly wees as die haantjie kan bly staan tot Dania kom kuier, sodat sy ’n aanknopingspunt kan kry om haar teen die spoghaantjies van die lewe te waarsku. Hulle het selfvertroue, hulle het planne en hulle is harteloos selfsugtig.
William se stem dring tot haar deur. “Jo-Anne, het jy gehoor wat ek sê?”
Sy skud haar kop.
William glimlag. Hy het klein ogies en ’n stomp knoets van ’n neus, maar sy gesig versag as hy glimlag. “Jou gedagtes dwaal.”
Ja, na sonnige Suid-Afrika waar die kinders sit en sweet oor hul eksamenvraestelle.
Sy vat die laaste sluk van haar koffie, wat intussen afgekoel het. “Ek dink aan Dania en wat sy van daai haantjie te sê sal hê.”
“As sy hier is voor die volgende kunswerk opgesit word.”
“Sy kom in April.”
“Fantasties, jy kon toe alles uitsorteer!”
“Min of meer. My pa is makliker as my ma.”
William se glimlag verdwyn, hy lyk besorg. “Is jy seker dis ’n goeie idee, om die verlede te gaan staan en oopkrap?”
Sy knik. “Anders sal ek nooit my kind terugkry nie.”
“Jy kan haar vir goed verloor.”
“Dis die kans wat ek waag.”
“Dapper vrou.”
Die klok lui. Nog ’n uur en die skooldag is verby. Omdat dit eksamentyd is, is daar geen klasse nie, net studietoesig. ’n Halfuur later sit Jo-Anne agter haar lessenaar en lees terwyl die kinders kastig studeer. Sy hoor hulle skuifel en giggel, sien vaagweg hoe ’n selfoon aangegee word.
Iemand het weer iets beet wat nie bevorderlik is vir jong gemoedjies nie. Sy kan opspring en die selfoon, wat onwettig ingesmokkel is, konfiskeer. Of sy kan hulle die opwinding gun en verder lees in die Danielle Steel wat sy gekoop het omdat dit oor ’n moeder-dogterverhouding gaan.
Dissipline was nog nooit haar sterk punt nie – selfdissipline ook nie, helaas. Noudat sy ouer is en baiekeer huis toe verlang, dink sy aan haar kinderjare in die Weskusdorpie waar haar ouers steeds woon. Sy het saam met arm kinders in die stof gespeel, terwyl hulle as die ryk mense van die buurt bekend gestaan het – oor die huis. Sy was in graad twee toe haar pa die vervalle plaashuis op die grens van die oudorp gekoop het en vreeslik skaam toe hulle uit een van die nuwe skakelhuisies daar ingetrek het.
Vandag is dit ’n statige woning met blink gepoleerde houtvloere en rame, ’n netjiese strooidak en stoepe reg rondom, op vier erwe beplant met allerhande soorte vrugtebome en met ’n groentetuin om van te droom. Haar ouers kon lankal in die bodorp gaan bly het, maar dis te verstane dat hulle nie wil verkoop nie.
Destyds het hulle nie ’n keuse gehad nie. Apartheid het hulle in die bruin gemeenskap vasgehou, maar hulle was leiers en kerkmense wat respek afgedwing het. Haar pa het vir laerskoolkinders skoolgehou, al was hy opgelei om vir hoërskool klas te gee. So