Annelize Morgan Omnibus 6. Annelize Morgan
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Annelize Morgan Omnibus 6 - Annelize Morgan страница 15
Hulle veg weer naby mekaar, kruis swaarde en spring rats uit die pad van die ander se wapen.
Véronique hou monsieur Lorraine dop en sy weet dat die geveg so te sê verby is. Sal Don Diego sy lewe spaar?
Sy merk ’n vinnige beweging by monsieur Lorraine en sien dat hy ’n dolk uitgepluk het wat dof in sy hand glim. Voordat sy egter ’n waarskuwing kan skreeu, is die twee weer teenaan mekaar en uiter Don Diego ’n uitroep van pyn.
Die gaste sug verlig.
Véronique gil toe Don Diego stadig inmekaarsak.
5
Véronique hardloop nader toe Etienne Lorraine sy swaard lig om met Don Diego klaar te speel.
“Los hom!” gil sy verwilderd en die verbaasde gaste, wat ook nader beweeg het, steek vas. Sy buk sekondes lank oor Don Diego en kyk dan vinnig op na Lorraine. “Hy lewe!” sê sy gesmoord.
Lorraine verstrak.
“Dis my rég om hom dood te maak!” bulder hy nogtans.
Véronique kom orent, gluur haar werkgewer aan.
“Nie met ’n dolk nie, monsieur! U het hom met ’n dolk gewond!”
Hy hap na asem voordat hy sê: “Dis nie waar nie!”
“Maar ek het dit gesién!” Sy draai om na die ander gaste. Hulle staar vol afgryse na Lorraine en Don Diego. “Ek het gesien hoe hy die kaptein met die dolk steek!”
Simon van der Stel maak sy verskyning tussen die gaste; hy kom met die stoeptrappe af tot by Véronique.
“Ek het die geveg van daar bo af dopgehou, mijnheer,” sê hy aan Lorraine. “U het nie u swaard gebruik nie.”
“Maar ek hét!” Lorraine kyk woedend na Véronique, maar sy slaan nie ag op hom nie.
Van der Stel steek sy hand uit. “Laat ons dan die punt van u swaard sien, mijnheer.”
Lorraine wil eers weier, maar hy besef dat hy teen die kommandeur geen kans het nie. Hy hou die swaard na die kommandeur uit.
Van der Stel kyk na die punt, waaraan daar geen bloed is nie, en draai na Lorraine.
“Mijnheer Fernandez sal na die Kasteel vervoer word. As hy leef, sal u niks oorkom nie, omdat hy my versoek het om hom hierdie een geveg toe te laat. Sterf hy, sal u ook moet sterf, mijnheer.” Hy draai vinnig om en stap tussen die gaste deur die huis binne.
Véronique gaan langs Don Diego sit en skeur sy hemp sodat sy by die wond kan kom. Dit bloei vrylik. Dis nie ’n dodelike wond nie, merk sy verlig. As hy gelukkig is, kan hy lewe. Sy streel met haar koel vingers oor sy voorkop.
“Ek sal jou help, Véronique,” sê Lyzette skielik hier agter haar.
Véronique kyk op na haar en glimlag. “Dankie, Lyzette.”
’n Paar van die mans staan nader om die gewonde Don Diego die huis binne te dra. Hulle lê hom op ’n bed in een van die gastekamers neer.
Lyzette gaan haal intussen verbande en ontsmettingsmiddel uit haar pa se voorraad. Sy help Véronique swygend om die wond skoon te maak en te verbind. Toe hulle eindelik klaar is, begin Lyzette opruim.
Véronique kyk ondersoekend na haar. “Hou jy daarvan om siekes te verpleeg, Lyzette?”
“Daar is vir my niks lekkerder nie, Véronique. My pa behandel nog af en toe mense wat regtig siek is, en dan laat hy my nie toe om te help nie.” Sy lyk ongelukkig. “Pappa het verander vandat ons ryk is. Hy wil alles verander soos hy dit wil hê.”
“Hou jy dan nie daarvan om ’n jong dame met mooi klere en juwele te wees nie?”
Lyzette haal haar skouers op.
“Soms, ja, maar die meeste van die tyd hou ek nie daarvan nie. Ek wil koek bak en kos kook en klere versorg … Dis soos ek grootgeword het. Dis waaraan ek gewoond is.”
Véronique glimlag.
“Ek sal die skottel en lappe wegneem. Jou gaste wag op jou.”
Lyzette skud haar kop. “Nee, ek sal dit doen. Bly jy by hom … Jy moet by wees wanneer hy sy bewussyn herwin.” Sy draai om om die vertrek te verlaat, maar Véronique keer haar.
“Hoekom wil jy nie hier bly nie, Lyzette?”
Lyzette aarsel.
“Hy is ’n edelman … Ek is bang vir hulle. Jy is ook van die adel en ek dink julle sal mekaar beter verstaan.” Sy verlaat die vertrek en laat Véronique alleen by Don Diego.
Véronique kyk haar ingedagte agterna. Sy glo nie sy sal langer toegelaat word om hier op L’Espérance aan te bly nie. Monsieur Lorraine sal haar môre vra om te gaan. Na vanaand sal hy haar teenwoordigheid in die huis nie langer duld nie.
Sy kyk af na Don Diego. Hy beweeg rusteloos totdat hy sy oë skielik oopmaak en asof nikssiende na die plafon staar.
Sy buk oor hom. “Monsieur …”
Sy blik beweeg met moeite in haar rigting en dan kom daar ’n flikkering in sy oë.
“Senorita … ek moet … u iets vertel …”
Sy skud haar kop. “U moenie nou probeer praat nie, monsieur. Die kommandeur het gesê dat u vanaand nog na die Kasteel geneem sal word. Daar sal u goed verpleeg word.”
Maar dit lyk asof hy haar nie eens hoor nie.
“U moet … hier weggaan …” vervat hy.
Sy kyk onbegrypend na hom.
“Maar hoekom dan?” Hy weet nog nie dat ek hier sal móét weggaan nie, dink sy.
“Senor Lorraine is … ’n bedrieër …”
“Ek verstaan nie?”
Hy maak sy oë toe en haal moeisaam asem.
Véronique buig vinnig oor hom.
“Monsieur … Don Diego … praat met my, asseblief. Wat is fout? Ek móét weet!”
Sy oë gaan weer stadig oop, maar net lank genoeg om te sê: “Hy sal jou … vernietig.” Toe val hulle weer toe.
Die deur gaan skielik oop en ’n paar van die kommandeur se dragonders kom die kamer binne.
“Ons moet mijnheer Fernandez Kasteel toe neem,” sê een, en Véronique staan opsy.
“Hy slaap nou. Wees net versigtig, messieurs. Hy mag dalk weer aan die bloei gaan.”
Hulle