Annelize Morgan Omnibus 6. Annelize Morgan

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Annelize Morgan Omnibus 6 - Annelize Morgan страница 11

Annelize Morgan Omnibus 6 - Annelize Morgan

Скачать книгу

      “Ek begryp, U Eksellensie. Tot siens.”

      Sy verlaat die vertrek ingedagte. As selfs die kommandeur haar nie kan help nie, hoe kan sy óóit hoop om haar vader op te spoor?

      Dan kry sy ’n ingewing. Miskien moet sy op die Marquessa na leidrade begin soek. Sy moet op die skip kom en daar rondkyk. Die geld en die juwele kon nie sommer so tussen neus en oë verdwyn het nie. Dit moet iéwers wees. En as sy dít gevind het, is sy seker dat sy uiteindelik ook haar vader sal vind.

      Die volgende oggend gaan koop sy ’n uitrusting wat ’n boeremeisie sal dra. Sy betaal met ’n goue Louis daarvoor en kry ook nie veel kleingeld nie. Dan haas sy haar terug na die Kasteel, waar sy haar verklee. Sy bind die wit kopdoek om haar swart hare en stryk die voorskoot glad oor die rok van bruin, growwe materiaal. Dit het aan ’n boeremeisie behoort en is reeds baie gedra. Sy gee nie om vir die uitrusting nie. Sy is bereid om alles te doen om haar pa op te spoor.

      Teen eenuur staan sy op die strand in haar nuwe klere. Sy staar na die Marquessa wat rustig aan sy ankertoue wieg. Hoe gaan sy op die skip kom?

      ’n Matroos slenter in haar rigting.

      “En wat soek ’n mooi duifie soos jy hier?” wil hy met ’n grynslag weet.

      Sy kyk vinnig om na hom. “Ek wil na die Marquessa gaan,” antwoord sy en hoop dat sy ongeërg genoeg klink.

      Die matroos lag dawerend.

      “As jy na die kaptein soek, misgis jy jou. Hy lê nog en slaap in een van die tavernes.”

      Sy druk met haar hande in haar sye en kyk uitdagend na hom.

      “Dit het niks met jou te make hoekom ek na die skip wil gaan nie.”

      Hy lag.

      “Kyk nou net! Jy het sowaar die vermetelheid om die bootman van die Marquessa só aan te spreek!”

      Véronique dink vinnig.

      “Hoe kan ek op die skip kom?”

      Hy haal sy skouers op.

      “Iemand moet jou oorroei.”

      “Sal jy dit kan doen?”

      Hy loer na haar.

      “Hoekom moet ek?”

      Sy druk haar ken in die lug en kyk skeef na hom.

      “Jy is nie dalk bang vir my nie? Sies tog, dat ’n groot man soos jy vir ’n vrou moet bang wees.”

      Hy lag weer, maar met ’n bietjie minder selfversekerdheid as flussies.

      “Ek’s g’n bang vir jou nie.”

      Sy haal diep asem.

      “Ek sal jou goed beloon as jy my na die skip roei en net ’n kort rukkie daar laat dat ek na iets kan gaan soek.”

      “Wat gaan jy soek?” vra hy agterdogtig.

      “As jy my nie oorroei nie, gaan ek jou nie beloon nie en ook nie sê nie.”

      Hy aarsel, maar ’n gierige lig verskyn in sy oë.

      “Nou maar goed, maar ek doen dit nie verniet nie!”

      Sy glimlag.

      “Ek verwag dit ook nie.”

      Later, toe hulle in die skuit op pad na die skip is, wonder sy hoe sy haar uit hierdie gemors gaan draai. Sy sal van hom afhanklik wees om terug te kom, en dan sal sy hom nie kan ontsnap nie. Sy probeer om nie nou al daaraan te dink nie. Die belangrikste is dat sy op die skip moet kom om na ’n paar leidrade te gaan soek. Sy twyfel sterk of sy enigiets gaan vind, want daar het intussen al meer as ’n jaar verloop. Baie ander mense het al op lang reise met die skip gegaan, en as haar vader sy skatte aan boord van die Marquessa versteek het, sou iemand anders dit lankal gekry het. Tog wil sy darem gaan kyk. Miskien kan sy inligting kry oor die ander passasiers wat saam met haar vader gereis het.

      By die skip word sy deur die matroos, wat homself intussen as Pedro voorgestel het, aan boord gehelp. Vier ander matrose bly op die skip om dit op te pas, en hulle skater dit uit van die lag toe Pedro met Véronique aan boord kom. Gedagtig aan die beloning wat op hom wag, stuur Pedro haar vinnig by hulle verby na sy kajuit.

      In sy kajuit bly hy in die deur staan en grinnik vir haar.

      “Gou maak, poppie, ek is haastig.”

      Sy druk weer by hom verby na die smal gangetjie.

      “Ek wil na die ruim gaan waar die passasiers reis.” Sy klink skielik baie saaklik en dit laat hom skeef na haar kyk.

      “Gaan maar, maar ek waarsku jou, jy gaan nie wegkom sonder om my my beloning te gee nie.”

      Sy draai na hom.

      “En hoe dink jy gaan ek weer van die skip af kom sonder jou?” Dan draai sy om en stap vinnig weg.

      Sy ken nie dié skip nie, maar hulle is almal basies dieselfde. Onder in die ruim word die passasiers gehuisves. Dit kos haar ’n rukkie om die luik te vind, dan klouter sy met die trap na onder.

      Dis baie donker in die ruim omdat die patryspoorte onvoldoende lig deurlaat. Sy ril effens. Noudat die ruim leeg is, voel dit koud en klam. Sy loop voel-voel dieper na binne. Die dik balke wat die raamwerk van die skip vorm, kan sy net vaagweg uitmaak. Hier en daar staan ’n paar kiste rond en bondels vuil komberse lê in hope gegooi. Rotte skarrel oor die plankvloer.

      Véronique voel oor die wand van die skip. Dis grof en klam onder haar vingers. Plek-plek is dit dik met teer bestryk. Sy vorder tot agterin die ruim sonder dat sy op iets onreëlmatigs afkom. Dan begin sy ’n paar kiste verskuif wat opmekaar gestapel is. Die boonstes is nie juis swaar nie en die een tuimel af en kom met ’n oorverdowende slag op die plankvloer te lande. Sy hou haar asem op. Sy hoop dat Pedro haar nie hierheen gevolg het nie.

      Toe niks gebeur nie, begin sy om die onderste, swaarder kiste weg te stoot. Sy is stokflou teen die tyd dat sy by die laaste kis is. Wat sal gebeur as daar niks is nie? wonder sy, en begin dan stadig aan die laaste kis te skuif.

      Toe staan sy terug en staar na die luik waarvan sy net die punt kan sien. Dis die ideale wegsteekplek, dink sy opgewonde. Dis net ’n klein versteekte valdeurtjie! Vinnig buk sy vooroor om dit beter te bekyk in die dowwe lig.

      “Dit is so ver as wat u gaan, senorita,” sê ’n stem wat haar yskoud laat word skielik agter haar.

      4

      Véronique swaai verskrik om toe sy die stem agter haar hoor. Al wat sy van die man kan uitmaak, is sy silhoeët. Sy deins terug.

      “Ek … ek …” stamel sy, maar kan nie verder kom nie.

      Hy kom stadig nader. Haar hart hamer in haar keel. Sy is alleen op die Marquessa en hier is niemand wat haar te hulp sal kom nie.

      “U oortree op my skip, senorita,” vervat die man.

Скачать книгу