Hartstog op Hartenbos. Trish Goosen
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Hartstog op Hartenbos - Trish Goosen страница 3
Hy staan glimlaggend voor haar. Hy lyk presies soos sy hom onthou. Kort donkerbruin hare in alle rigtings gejel. Blou skoolbaadjie met die kraag windmakerig opgeslaan. Die naat van die linkermou is besig om bo by die skouer los te trek. Karien onthou daardie dag op die sportveld só goed. Die baadjie het in die slag gebly toe Malan en die verwaande Anton Steyn mekaar te lyf gegaan het oor Anton lelik van haar ma gepraat het.
Toe hy met sy stukkende lip en deurmekaar kop van die gras af opstaan, het sy na hom toe gehardloop en hom omhels. Hulle sou vir altyd en altyd saam wees …
Hoekom is hulle dan nie meer bymekaar nie?
“Vlam.” Hy druk haar ken saggies op sodat hulle oë ontmoet. Sy kan in daardie donkerbruin poele verdwaal. ’n Warm gloed pols nou deur haar hele lyf.
“Ja?” antwoord sy amper hees.
“Jy maak ’n groot fout,” sê hy.
“Wat bedoel jy?”
“Jy weet wat ek bedoel.”
2
Karien word uit haar droom geruk toe die vliegtuig sy wiele op George se beknopte aanloopbaan neersit. ’n Mengelmoes van voorwerpe en kleure flits verby haar venster, en dan word die vliegtuig se remme aangeslaan. Die grensdraad net duskant die landingstrook pyl hopeloos te vinnig op haar af, en sy maak haar oë liewers toe. Sy het gelees van ’n passasiersvliegtuig wat in nat weer dwarsdeur daardie draad is en in die pad aan die ander kant beland het.
Die vliegtuig se remme ruk meteens tot stilstand.
Karien voel naar en duiselig. Skielik is die binneruim hopeloos te beknop en warm namate die mense opstaan en hul handbagasie soek. Sy spring op. Sy moet hier uit. ’n Middeljarige vroutjie wat ietwat knorrig lyk, versper die smal gangetjie. Die mense loop heeltemal te stadig na haar sin. Toe sy haar kop uiteindelik by die vliegtuig se deur uitsteek, en die verfrissende briesie haar klam nek koel blaas, begin sy effens beter voel. Sy klim haastig by die trap af, rig haar blik op die gebou voor haar en mik na die deur. Sy wil eerste by die bagasieband uitkom.
Vyftien minute later sit sy haar tas in die kattebak van haar gehuurde motor, ’n silwer Toyota Fortuner wat Shaun bespreek het. Sy skuif agter die stuur in en sit haar handsak op die passasiersitplek neer. Shaun glo ’n groter voertuig is altyd veiliger. Ai, hy is tog so besorg oor haar. Was dit nou regtig vroeër nodig om so gemeen met hom te wees?
En daardie droom? Malan Hugo is lankal nie meer haar tipe ou nie. Sy sal hom nie eens raaksien as sy verby hom in die straat loop nie. Ag, nee wat. Been there, done that. Het beslis ’n T-hemp met: Vlam loves Malan forever xoxo. Gmf. Forever nogal? Wat weet ’n sewentienjarige in elk geval van forever af? Genadiglik bly niemand vir ewig ’n tiener nie.
Maar hoekom voel sy steeds skuldig oor die droom? Die warm, intieme gevoel teenoor Malan is niks anders as verraad nie.
Nee, stop die bus. Sy skud haar kop. Komaan, jy is nou simpel, Karien. Ontspan. Jou verbeelding hardloop met jou weg. Dis tog net ’n paar betekenlose beelde uit jou verlede. Vergeet daarvan.
Karien dwing haar gedagtes terug na die taak op hande. Sy wil op Hartenbos kom nog voor dit heeltemal donker is en dit is ’n goeie vyftig kilometer, of dalk meer.
Sy probeer die slierte hare geïrriteerd uit haar gesig blaas. Dalk sal sy môre kyk of sy ’n afspraak by ’n haarsalon kan kry. Sy draai die sleutel net ver genoeg sodat al die liggies op die paneelbord aankom. Sy wil darem eers vertroud raak met die instrumentepaneel van ’n Toyota. Sy vroetel met die rathefboom tot sy weet presies hoe die trurat werk. Dan soek sy die ligte. Aha, hét dit. Sy wil die enjin net aanskakel toe haar foon lui. Seker Shaun.
“Liefie?” Sy is seker hy kan die skuldgevoel in haar stem hoor.
“Nee, dis ongelukkig nie jou liefie nie. Dis eintlik maar net ek. Dit is Lize.”
“Lize wie?”
“Nou maak jy my gevoelens so ’n bietjie seer. Ken jy dan baie Lizes?”
Toe snap Karien. In haar verbeelding sien sy twee skoolmeisies pouse onder ’n boom sit en Cream Soda drink. Lekker tye, onskuldige tye. Hoe toevallig dat sý nou bel. Sy het nie in jare met Lize gepraat nie.
“Lize, genade! Jammer, ek was nou effe onkant gevang. Hoe gaan dit met jou?”
“Goed, goed. Kan regtig nie kla nie, maar wil jy nie vanaand by my kom koffie drink nie, dan vertel ek jou al die nuus? Dit wil nou sê … as jy nie reeds planne het nie.”
Karien is verstom. Weet Lize miskien sy het pas op George geland?
“So, is jy lus om te kom?” vra Lize weer, vriendelik maar doodernstig. Karien voel hoe haar mond van verbasing oopval. Lize weet so wragtiewaar sy is op George.
“Hoe op dees aarde het jy geweet ek’s hier?”
“Big Brother is watching yooouuuu …” fluister sy in ’n bangmaakstem. Dan begin sy ongemaklik lag asof sy skaam oor haar grappie geraak het.
“Ha-ha! Baie snaaks. Nee, komaan, sê nou, asseblief.”
“Jong, ek het mos ’n informant op die lughawe. My sussie werk daar. Sy’t jou gesien verbystap. Ek kon dit amper nie glo nie, maar ek vat toe maar die kans en kyk of jou ou nommer nog werk. En sowaar!”
“Jy sê daai ding! Hoe toevallig. En Inge? Is sy regtig al oud genoeg om te werk?”
“Jip. Sy’s al negentien. Maar die madam het deesdae nogals ’n humeurtjie.”
Karien kan amper nie glo die oulike klein Inge-kind van destyds is al negentien nie. Die skuldgevoel tref haar asof sy teen ’n baksteenmuur vasgeloop het. Haar ma het altyd gesê ’n mens moet die paadjie van vriendskap gereeld loop, anders groei onkruid oor die pad. Sy voel sleg dat sy toegelaat het dat dit gebeur. Maar dalk moet Lize ook verduidelik. Vriendskap kom tog van twee kante af. Sy is mos ewe skuldig. Nee wat, hoekom moet sý sleg voel? Lize kon ook maar die moeite gedoen het om af en toe te bel.
Karien is pootuit. Hopeloos te veel negatiewe emosie vir een dag. Dis presies die rede waarom sy nie kans gesien het vir haar ou pêlle nie. Sy is hier om te werk en dit is presies wat sy gaan doen. Sy wil nou net by haar gastehuis kom en die aand rustig deurbring.
“Karien? Is jy nog daar?”
“Ek’s hier.”
“So kan ek vir jou my adres gee?”
“Weet jy, Lize, ek sal maar ’n reëntjekkie moet neem. Ek is eintlik vir besigheid hier en het heelwat huiswerk wat ek vanaand moet klaarmaak.”
“Ag, kom, asseblief. Ons het mekaar só lanklaas gesien. Ek is seker jou werk kan tot môre wag.”
“Regtig, ek kan nie vanaand nie. Maar moenie stres nie, ek gaan ’n hele paar dae hier wees. Ons kan dit môre of oormôre, whatever, ook mos doen.”
“Ja, oukei, maar Inge wil jou ook sien en sy ry môreoggend vroeg Jeffreys toe vir ’n week saam met haar vriende. Kom maak net ’n vinnige draai. Ek sal jou nie lank hier hou nie. Ek belowe.” Sy gee haar adres.
Karien