Hartstog op Hartenbos. Trish Goosen
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Hartstog op Hartenbos - Trish Goosen страница 6
“Ag, ek wonder sommer maar oor iets.”
“Hmm?” Lize se ondersoekende blik verlaat haar nie. Dan verander sy die onderwerp. “So, ek verstaan jy is deesdae ’n big shot, ’n hotelbaas daar in Kampsbaai. Wat issit nou weer wat jy presies doen?”
“Wel, ek het my mos maar in die gasvryheidsbedryf opgewerk en deesdae is ek die bestuurder van die Abalone Box-boetiekhotel, my verloofde se plek. Hy besit ’n ander hotel in Mosambiek ook.”
Lize frons effens.
“Ek weet wat jy dink, maar nee, ek was al ’n jaar bestuurder voor ons begin uitgaan het. Voorheen het ek by ’n hotel in Port Elizabeth gewerk.”
“Nee, is reg. Ek glo jou. Maar vertel my nou eers van jou liefie. Ek hoor hy is aangewys as die mees eligible bachelor in Kaapstad. Dit moet awesome wees.”
Karien se bors swel van die trots. “Ja, dit was so twee jaar gelede. Sedertdien moes ek die vroumense van sy lyf af weghou,” terg Karien.
“Dis nie goed nie,” merk Lize op.
“Ag, ek spot sommer. Hy is getrou aan my.”
’n Ongemaklike stilte. Toe vra Karien: “En jy? Wat maak jy deesdae met jouself?”
“Ek swot.”
“O, rêrig? Wat swot jy?”
“Onderwys, grondslagfase. As alles volgens plan verloop, maak ek uiteindelik dié jaar klaar.”
“Unisa?”
“Ja.”
“En dan is jy ’n juffrou?”
“Jip. Ek kan nou nog nie glo ek het só ver gekom nie.”
“Baie geluk. Ek weet sommer jy gaan ’n oulike onderwyseres wees.”
“Dankie.”
Lize leun vooroor uit haar stoel en neem ’n sliert van Karien se blonde hare tussen haar vingers. “Jy lyk nogal mooi as ’n blondine,” sê sy. “Maar ek moet bieg ek was ’n groter fan van jou mooi, rooi krulle. Sjoe, maar daai bos hare van jou was darem benydenswaardig. Of wat sê ek?”
“Dankie, maar ek is lankal nie meer ’n rooikop nie. Jy weet mos wat hulle sê: blondes have more fun.”
“Seker maar. Tog het ek altyd gedink jy was superpret met daai rooi kop van jou. Vlam was on fire.” Sy byt haar lip, en haar oë flits vir ’n oomblik opwaarts toe sy die naam sê. “ ’Skuus, sal nie weer nie. In elk geval wou ons almal soos jy wees: bang vir niks; sê nooit nee vir ’n dare nie. Beeldskoon, slim, die wêreld aan jou voete. Jy was darem lekker stout op jou dag, maar dis waarom ek so lief was vir jou en nog steeds is. En ek het altyd geweet jy gaan iets van jou lewe maak, jy is bestem vir groot dinge. En hier is jy nou in lewende lywe. You did it. Ek is trots op jou.”
Regtig? Is dit hoe Lize haar sien? Dat sy ’n groot sukses van haar lewe gemaak het? Dis nou alles goed en wel, maar Karien is op verre na nie tevrede nie. Daar is nog so baie wat sy wil vermag voordat sy vir haarself sal kan sê: I did it!
Tog maak Lize se verklaring haar skoon betraand en krapperig in die keel. Nou voel sy éérs skuldig. “Ek’s jammer, Lize.”
“Waarom nogal?”
“Jy weet waarom. Ek was die afgelope ruk nie ’n goeie vriendin nie. Ek verdien jou nie.”
“Moenie sleg voel nie, want ek voel nie sleg nie. Daar het baie water in die see geloop.” Lize staar na haar gestreepte voete.
Karien merk op dit is die eerste keer dat sy nie oogkontak maak nie. “Waar’s Inge? Gaan sy nie kom groet nie?” vra sy in ’n poging om oor iets anders te praat.
“Inge, Karien is hier! Los nou daai selfoon ’n slag en kom groet.”
“Dis oukei, sy kan maar eers klaarmaak. Moenie haar pla nie,” keer Karien.
Lize stoot haar byderwetse, pers brilraam verontwaardig op haar neus terug. “Nee, die kind het mos nie ore wanneer ek met haar praat nie. Voel ek praat met die muur.”
“Ag, man, los haar eers. Dalk is sy maar net …”
“Inge, ek praat nie weer nie. Kom nou!”
“Ja, Má,” roep Inge van anderkant die toe kamerdeur. Die oordrewe toon drup van sarkasme. Karien kan nie anders as om te wonder oor die een deur nie. Is daar dan nie nog ’n slaapkamer in die woonstel nie? Wie slaap waar?
“Ma? Sy noem jou ma?”
Lize sug en gooi haar hande moedeloos omhoog. “Ja, sy noem my ma wanneer, en ek haal aan, ‘ek aangaan soos ’n ou vrou met ’n nat broek’.”
Karien proes saggies agter haar hand. Dan kom die lag los. Lize lag ook, steek ’n arm uit en druk Karien styf teen haar vas, baie meer opreg as met die eerste druk.
“Inge? Ek praat nie weer nie!”
Die deur gaan met mening oop, en die meisie wat sleepvoet uit die kamer kom, lyk soos ’n jonger weergawe van Lize. Sy is net ’n bietjie langer en skraler en lyk glad nie meer soos die dogtertjie van elf jaar gelede nie.
Inge frons van konsentrasie, haar blou oë – ook agter ’n bril –steeds op die selfoon in haar hande gerig. Haar vingers tik verwoed terwyl sy tydsaam nader stap.
“Het ek nie mooi gevra dat jy die selfoon asseblief nou bêre nie?”
Inge loer verontwaardig oor haar bril na haar ouer suster.
“Nee, jy’t nie mooi gevra nie. Jy’t al weer op my gegil.”
“Ek het nie geskree nie.”
“Ja, jy het.” Dan glip Inge die selfoon in haar uitgewaste jeans se sak en knipoog vir Karien. “Haai. Hoe gaan dit nog met jou?” vra sy vriendelik, knik haar kop ’n aks eenkant toe, ’n duim in elke broeksak.
“Goed, jong. Ek kan nie glo jy het my daar op die lughawe herken nie.”
Inge stap kombuis toe, haar treetjies nou meer doelgerig. Sy haal ’n langsteelglas uit die kas bo die wasbak en skink vir haar ook van die hanepoot in.
“Maar natuurlik het ek jou herken. Jy loop en praat so met jouself, ek kon jou nie miskyk nie.” Die soetwyn stort amper oor die rand van die glas toe sy haar langs Karien op die rusbank neerplak.
“Moenie so val op die meubels nie. Jy breek die goed,” raas Lize.
Mens kan sien dié twee is sussies. Lize het nie juis ’n voorbeeld gestel toe sy haar ook vroeër op haar stoel neergevel het nie. Sy is ongeduldig met Inge, maar dis tog seker te verstane. Karien onthou so goed die dag toe Lize haar vertel het hoe kanker hulle pa gevat het. Hy het hulle alleen grootgemaak. Arme Lize, sy was maar elf toe hy oorlede is. Sy moes bitter vinnig haar grootmensskoentjies aantrek en stap. Dis vreeslik onregverdig dat sy ’n ma vir haar sussie moes wees, terwyl sy self nog pure kind was. Ai, hoekom gebeur sulke