Bloudruk vir die liefde. Susan Pienaar
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Bloudruk vir die liefde - Susan Pienaar страница 3
Spot sy dalk? Teen sy beterwete kan hy nie anders as om te glimlag nie. Haar vere is goed deurmekaargekrap, maar blykbaar het sy steeds ’n sin vir humor. “Jy’s nie ernstig nie, of is jy?”
Sy knik. “O, maar ek is. En ek het boonop ’n kop vir wiskunde gehad. Nogal raar in ’n meisiekind, nè?”
Sy spot beslis. Sy het baie meer as aanleg in wiskunde in hierdie beroep nodig en sy weet dit. Sy is ’n regte snip, maar om die een of ander rede vind hy dit prikkelend. Haar houding is aansteeklik. “Jy’s nie skaam om met jou prestasies te spog nie.”
“Feite is feite,” knik sy.
Daar is nog water in sy bottel en hy skink dit in sy glas, drink ’n paar slukke. Hy moet hom regruk en beheer neem. Dit is nie ’n flirtasie nie, dis ’n onderhoud, magtig. Die meisie het selfvertroue en ’n sterk persoonlikheid, wat natuurlik broodnodig is, maar ’n probleem vir hom kan wees.
“As ingenieur is jy gewoond aan orders gee. Sal jy daartoe in staat wees om te kan volg? Om sonder argumente my opdragte as hoofingenieur uit te voer?”
Haar mondhoeke lig in ’n glimlag, maar hy kan nie sê of dit eg of aangeplak is nie. “Bedoel jy dat jy geen inmenging gaan duld nie, al kom ek na jou toe en stel iets beters voor . . .? Iets aan ’n struktuur of ander materiale wat beter sal werk?”
Malan sug heimlik. Hy werk aan ontwerpe, kleiner projekte wat hy tussen die oprig van die huidige groot winkelsentrum moet inpas. Hy het nie ’n keuse nie, hy sal haar moet vertrou en hoop sy kry dit reg om ’n valkoog oor die verskillende kontrakteurs en werkers te hou, om nie te praat van al die ander goed soos die rekenaaraangedrewe inventarisse en die vroegtydige bestel van materiale nie.
Maar sy moenie onnodig lol nie.
“Nee wat, ek sal nie jou insette nodig hê nie. My verskaffers lewer die beste materiale. Ek het die strukture van die pilare ontwerp, dit word vooraf deur ’n maatskappy vervaardig. Maar daar is een vereiste wat ek aan jou stel wat glad nie onderhandelbaar is nie: Geen veranderinge, hóé klein ook al, mag deur die kontrakteurs of enige ander ingenieur met jou toestemming aan die Waterfall-planne gedoen word nie. Jy kom na my toe en bespreek ’n saak met my, dan sal ek bepaal wat nodig of onnodig is en jou die groen of rooi lig gee.”
Sy knik. “Reg so. Ek verstaan. Jy maak die reëls.”
Hy het verwag sy sal teëstribbel . . . Hy vertrou nie die vrede met die vroumens nie. Sy is op die oomblik net té mak.
“Hoe lank beplan jy om hier te werk . . . dis nou as die wedersydse proeftydperk van drie maande verstryk het en ons albei tevrede is?”
“’n Minimum van drie jaar, beslis.”
Kyk hoe wit is haar vel. Sy het nie Afrika-son daar anderkant gekry nie. Hoe kan hy haar tussen die manne op site loslaat? Wat de ongeluk het Stefan tog besiel om haar aan te stel? Sy is ’n flippen distraction, vir hom en dus vir almal wat rondom haar gaan wees. Hy kan al sien hoe val die ouens oormekaar om haar te help, net omdat sy ’n vroumens is.
Sy sit al weer met ’n effense glimlaggie vir hom en kyk, kompleet asof sy sy gedagtes kan lees. Hy sal haar maar die diep kant moet ingooi en klaarkry. Hulle is reeds kniediep besig met die ontwikkeling van die viervlak-winkelsentrum in Waterfall; sy sal maar moet swem of sink.
Malan kom orent. “Het jy ’n oorpak en skoene en helm gekry?”
“Ek het my eie gebring, dankie.”
“Gaan trek aan, jy gaan saam Waterfall toe. Ons het ’n vergadering op site.”
Sy stoot die lêer oor sy lessenaar na hom toe. “Alles oor die Waterfall-projek is hier binne. Ek was van plan om dit vir Stefan te gee.” Sy staan met ’n grasieuse beweging op.
Malan onderdruk ’n sug.
Salomé het in die dameskleedkamer by haar sluitkas gaan verklee en kom haal net die stel planne en spesifikasies in haar kantoor toe haar selfoon lui.
“Jy sal nooit raai wat ek oor jou baas gelees het nie,” val haar suster weg nadat hulle gegroet het.
“Malan Verster?” Salomé knyp die foon tussen haar skouer en wang vas. Sy begin solank van die goed wat sy moet saamneem perseel toe op haar lessenaar stapel. Sy wil niks van die vent weet nie, maar Magdaleen gaan vertel, of sy nou wil hoor of nie. “Vertel tog, maar maak asseblief gou, ek’s haastig.”
“Ek het ’n saketydskrif by die tandarts deurgeblaai. Malan se hele professionele geskiedenis is daarin. Jislaaik, Salomé, jy moet die foto van hom sien. Die man is absoluut gorgeous! Om te dink jy gaan saam met so ’n dishy ou werk. Ek was omtrent beïndruk met als wat hier oor hom geskryf staan . . . sjoe! Laat ek vinnig vir jou lees –”
“Ek dog dis die tandarts se tydskrif,” mor Salomé.
“Die ontvangsdame het gesê ek kan dit maar kry, dis verlede jaar s’n. Maar hoor gou die interessante stukkie: ‘Malan Verster se werk is verlede jaar ten toon gestel in die Museum of Modern Art in New York, en dis nie die eerste keer dat die firma internasionaal naam gemaak het nie. Werk van Malan, wat ’n ingenieur is met ’n meestersgraad in argitektuur, word volgende jaar op die Venesiese biënnale, wat die belangrikste tentoonstelling ter wêreld is, bekend gestel’.” Magdaleen skep asem. “So, wat sê jy dáárvan, hè, Sus?”
Salomé soek met haar oë op haar lessenaar rond. Waar sal die 3D-illustrasies van die gebou se voor- en syaansigte tog nou wees? “Malan Verster kan dalk vir jou oulik wees, of juicy of wat jy hom ook al wil noem, maar ek vind hom nie in die minste aantreklik nie, daarvoor is hy te arrogant. En vir al wat ons weet, is hy dalk getroud,” voeg Salomé by, net ingeval haar ousus dalk idees kry.
Magdaleen huiwer. “Maar ek dog jy’t gesê die man is by ’n konferensie. Het hy dan intussen teruggekom?”
Salomé vat die 3D-illustrasies raak en sit hulle langs die planne op die lessenaar neer. “Ja, die vent is terug met ’n helse bang. Ek kon nie anders as om te hoor hoe hy teenoor Stefan oor my aanstelling tekere gaan nie. En boonop beweer hy toe my CV is gekook.”
Salomé hoor ’n geluid agter haar en laat val amper die foon toe sy omdraai en Malan teen die deurkosyn sien leun. Sy druk die foon summier dood en probeer haar skok agter ’n glimlag wegsteek.
Malan slaan met die lêer – wat sy netnou na sy kantoor saamgeneem het – in ’n hand en trek sy wenkbroue op. “As jy klaar geklets het, het jy dalk ’n oomblikkie om aan my af te staan?”
Genade, haar bene voel lam van skrik. Wat het hy als gehoor? “Waarmee kan ek help?” probeer sy ligweg vra.
“Ek soek die struktuurtekeninge en -spesifikasies van die projek. Dis toe nie alles hier soos jy my verseker het nie.”
Sy weet dit was binne-in die lêer wat Malan vashou, so waar kan dit anders wees? Sy is nou so opgeklits. Malan staar boonop na haar asof sy horings ontwikkel het, maar sy hou haar handbewegings so kalm moontlik terwyl sy tussen die dokumente van ’n ander projek rondsoek. Dit was kwaai onprofessioneel van haar om die vent te bespreek, maar as Malan by Stefan oor haar kon gal braak, moet hy darem ook verlief neem met wat na sy kant toe kom.
Malan staan nader en bekyk haar lessenaar met ’n frons. “Dalk moet jy minder goed op jou lessenaar plak, dan sal jy belangrike dokumente nie