Bloudruk vir die liefde. Susan Pienaar

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Bloudruk vir die liefde - Susan Pienaar страница 6

Bloudruk vir die liefde - Susan Pienaar

Скачать книгу

hulle om mý respekvol te behandel, en om hul samewerking aan my te gee. Asof ek nie op my eie twee voete kan staan nie. Jy’t my CV gelees. Jy behoort tog te weet dat ek nie ’n sukses van daardie groot projekte sou gemaak het as ek myself nie teenoor mans kan handhaaf nie.”

      Malan sug. “Jy’s ’n vrou, jy weet nie hoe mansmense se koppe werk nie. Jy’t nie ’n idee hoe hulle agteraf oor vroue praat nie.”

      Sy lag saggies met ’n goeie skeut ironie bygevoeg. “O, ek weet hoe mans dink, moenie ’n fout maak nie. Ek het nog nooit met toe oë en ore saam met mans gewerk nie.” Sy vou haar arms. “Al wat jy reggekry het, is om my foolish in hul oë te laat lyk.”

      “Ek stem nie saam . . .” begin Malan, maar bedink hom dan blykbaar. “As dit werklik die geval is, is ek jammer.”

      Die blikskottel is g’n jammer nie. Hoekom sal hy op dieselfde dag sy opinie oor ’n vroulike ingenieur verander? Dink hy miskien sy is onnosel? Soos sommige mans kies hy maar net die maklike uitweg – sê hy is jammer en hoop sy vergeet dit.

      Salomé trek haar asem in en blaas dit sugtend uit. “Jy kan my by Stefan slegmaak, maar as jy van die projek ’n sukses wil maak, sal jy moet dink voor jy iets chauvinisties oor my voor die werksmense kwytraak. Jy sal my moet vertrou . . . my uitlos om my werk te doen.” Sy sal noodgedwonge ook saam met Malan aan die projek moet werk. Maar dis goed dat hy weet hy moet sy woorde in die toekoms tel.

      Malan vou sy arms, staan gemaklik met sy bene effens uitmekaar en knik asof hy skielik oor alles met haar saamstem, maar sy bespeur tog ’n tikkie behoedsaamheid in sy oë.

      Malan laat sy oë oor Salomé gly. Dit lyk asof sy in ’n sandput gespeel het. Hy lyk seker nie beter nie, maar hoe kan dit anders? Die aarde is droog en teen drieuur se kant het daar ’n sterk wind opgesteek wat rooi stootskrapersgrond, bousand en droë sement die wêreld vol gewaai het.

      Salomé staan steeds vir hom en kyk. Sy het flippen skerp ore, dis nou maar klaar. Hy het nie kon raai sy het gehoor wat hy vir die manne gesê het nie. Op pad terug was sy gedagtes vol werksake.

      Hy was nogal beïndruk met hoe Salomé op site met die werksmense gepraat het. Kort en bondig. Hy dink hulle was ook beïndruk met haar kennis en insig in hul onderskeie vakgebiede, maar hel, hoe vergeet ’n man dat sy ’n vroumens is?

      Sy ruik soos een, loop soos een en is boonop ’n lus vir die oog.

      Maar kyk nou net weer: As dit ’n man was en hy wat Malan is, het die ingenieurs se samewerking gevra, sou so ’n man g’n woord daaroor gerep het nie. ’n Vrou op die perseel krap nou maar eenmaal die hele genderkwessie oop en veroorsaak komplikasies. Maar nou ja, hy het ná alles vanoggend onwetend op Salomé se fyngevoelige toontjies getrap met sy uitlatings.

      Salomé het twak gepraat . . . sê hy is ’n chauvinis. Hier werk genoeg vroue in die kantoor, maar dis ’n ander storie om ’n vrou aan te stel oor ’n spul mans wat hel-uit rof kan wees.

      Nee tog, hy het nie tyd om te staan en ginnegaap nie, hy sal tot laatnag moet werk aan planne wat een van sy ander assistente sal moet klaarmaak. Adam het reeds te veel hooi op sy vurk. Hy gaan sy saak eerder nie nou verder verdedig nie.

      Hy draai om en sien Salomé lig haar kop waar sy by die lessenaar staan. “Ek reken ons het die probleem opgelos,” sê hy op ’n toon wat bedoel is om enige verdere diskussies hok te slaan.

      Sy glimlag, maar hy kan nou al sien dat iets daaragter skuil. Hy bespeur dieselfde spottende houding wat sy tydens die onderhoud ingeneem het. “Maar natuurlik. Kom vra gerus indien daar iets is waaroor jy onseker is, hoor?”

      Oomblikke lank staar hy haar verbluf aan, draai dan om en stap met lang treë by haar kantoor uit. Daardie groenoog-wipstert moenie dink sy gaan kat-en-muis met hom speel nie.

      “Haai, maar dis darem gaaf van jou om te kom inloer,” lag Salomé verras toe Magdaleen ná werk met ’n paar inkopiesakke by haar huis inval. Sy het nog altyd Magdaleen se amper swart hare bewonder wanneer dit so los en blink oor haar skouers val. Haar sus se noupassende rooi rok beklemtoon haar slanke kurwes. Mm, sy dra steeds hemelhoë hakskoene, soos altyd min gepla oor haar lengte.

      “Jong, ek het jou so gemis toe jy in New York was dat ek sommer elke dag wil kom inloer!” lag Magdaleen. “Dis net hierdie huis wat my tog ’n bietjie hartseer maak.” Haar lag eindig in ’n suggie. “As ek hier instap, dink ek net aan Ma, maak nie saak dat hier hóé lank ander mense gebly het terwyl jy weg was nie.”

      “Dis sleg, ek weet. Dalk maak ek soos jy sê en skaf ’n ander huis aan, en kom weg van al die herinneringe. Maar daar’s ’n paar meubels en erfstukke waarvan ek beslis nie ontslae gaan raak nie.”

      Magdaleen knik. “Ek pas my erfstukke van Ma soos goud op.”

      “Tee, wyn of water?” vra Salomé.

      “’n Wyntjie sal nou lekker wees ná die dag se dolle gejaag.” Sy begin in die gang af stap. “Ek gaan net gou hande was.”

      Salomé haal ’n bottel wyn uit die yskas en kry glase. Tog snaaks hoe hul voorkoms verskil, al is hulle susters. Magdaleen trek meer op hul pa, en sy wat Salomé is, lyk weer op ’n haar na soos hul oorlede ma.

      Magdaleen loop staan in die binnedeur wat na die portaal en sitkamer lei. “Genade, Sus, die huurders het mos lankal uitgetrek. Wanneer kom hulle hul meubels haal? Hier’s nie plek vir ’n muis in jou sitkamer nie. Kyk net hoe staan jou pragtige erfstukke tussen hul goed ingedruk.”

      “Hulle sê hulle het nie plek in hul nuwe woonstel vir als nie. Die huurder het gesê haar kinders van Kroonstad sal ’n trok moet huur om die goed te kom haal, maar sy kon nie sê wanneer nie, want die skoonseun werk elke naweek.”

      Sy sal tyd gee, dan miskien maar self ’n vervoerwa kry om die spul goed na die vrou se kinders te stuur. Sy kan seker ’n maand of twee wag, want die sitkamer word nie op die oomblik gebruik nie. Hier staan buitendien ’n spul bokse wat sy die een of ander tyd sal uitpak. Gelukkig is daar darem die woonkamer, waar ’n paar banke en die TV staan, wat sy wel kan gebruik.

      “En toe? Wat het vanmiddag gebeur, hmm? Jy druk die foon sommer in my oor dood,” sê Magdaleen toe hulle elkeen met ’n glasie wyn in die woonkamer sit. Sy lag: “Toemaar, ek het geraai iemand het ons gesprek onderbreek. Was dit Malan?”

      Salomé drink ’n slukkie, knik dan. “Maar hy’t darem nie als gehoor nie, so dit is oukei.” Dis nie altyd wys dat Magdaleen alles weet nie. Sy kan dalk Malan se stelling oor sy beskikbaarheid letterlik opneem en aandring dat Salomé ’n ontmoeting tussen hulle reël.

      Daardie vent sal Magdaleen se hart in stukkies breek, soos al die mans voor hom. Sy is baie lief vir dierbare Magdaleen met haar sagte geaardheid, maar hulle verskil soos dag en nag wat betref hul siening van en optrede teenoor mans. Magdaleen dink elke keer sy het die volmaakte man en sielsgenoot gevind en dan gee sy haar alles, maar op die ou end wil die ouens hulle nie verbind nie, en dan is die arme Magdaleen weer miserabel en voel sy verwerp.

      Sy sal daardie arrogante Malan nooit aan Magdaleen voorstel nie. Haar eie werk en persoonlike lewe is gelukkig so ver verwyderd soos die ooste van die weste.

      Magdaleen sit haar glasie neer, diep ’n tydskrif uit haar handsak op en sit dit langs haar op ’n tafeltjie neer. “Jy kan self verder oor Malan lees wanneer jy tyd kry.”

      Salomé knik en lig haar voete op die bank. Sy het reeds vinnig by die werk

Скачать книгу