Ena Murray Keur 7. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 7 - Ena Murray страница 12

Ena Murray Keur 7 - Ena Murray

Скачать книгу

die polisie op daardie plaas laat haal, begryp jy? Dis genoeg dat Marista van my ’n gek maak. Ek gaan dit nie ook van jou sluk nie. Daar is nog iets. Aangesien jy die een is wat Marista teen my vergiftig het …”

      “Ek het nie!”

      “Nie? Waar kom sy dan daaraan dat ek vroumense in my woonstel aanhou?”

      “Wouter, moenie my woorde verdraai nie! Ek het nooit gesê jy hou vroumense in jou woonstel aan nie …”

      “Dit kom op dieselfde neer. Laat dit daar. Wat ek wou sê, is dat jy van hierdie oomblik af my babawagter is. Van nou af beweeg ek nêrens sonder jou nie, begryp jy my? Sodat, as Marista die dag terugkeer, jy haar kan vertel dat ek my gedra het, dat ek nie heerlik rondgekuier het solank sy weg was nie. Hopelik glo sy jou dan net so geredelik as wat sy jou nou geglo het.”

      “Wouter, asseblief, ek het nie …”

      “Ek wil die saak nie verder bespreek nie. Laat ons aangaan met ons werk. Daar is nou baie te doen. Die ontwerpe wat vir Marista gemaak is, moet Sonja nou aanpas. Ek wil dit vanmiddag om vyfuur klaar hê en ons pas vanaand nog. Dit kan nou nie anders nie. En as jy al ooit in jou lewe gewerk het, sal jy nóú werk, my liewe Lettie. Ek ook. Van hierdie oomblik af sal ek nie meer tyd hê vir daardie swetterjoel nooiens, soos jy hulle noem nie. En nadat ons vanaand klaar aangepas het, kom jy saam na my woonstel en ons bespreek die aanpassings en veranderings daar. Dis ’n bevel. Môreoggend moet die naaisters daarmee begin.”

      “Ek sal nie na jou woonstel kom nie.”

      “Jy sal, Lettie. Jy is heeltemal veilig. Jy is net my babawagter, onthou?”

      Hy stap uit en Lettie sak agter haar lessenaar neer. Sy het nie geweet Wouter Malan kan só kwaad word nie!

      Lettie kry inderdaad nie tyd om haar te veel oor die huidige stand van sake te bekommer nie. Wouter voer sy dreigement letterlik uit en sy is werklik dankbaar om daardie aand op die bank in sy woonstel neer te sak en ’n lafenis te ontvang. Sy het vandag haar bene al afgehardloop.

      Dit was net Lettie voor en Lettie agter, Lettie hier en Lettie daar, totdat sy later kon skree. Maar met ’n verbete vasberadenheid het sy niks laat blyk nie. Sy weet hy wil haar terugbetaal omdat hy vas oortuig is dit was sý wat Marista naaldgesteek het, en sy weet dat hy haar in dié stadium ook nie sal glo as sy hom die versekering gee dat dit nie sy is nie. Dus …

      Terwyl hulle die laaste veranderings bespreek wat die volgende dag aangebring moet word, beskou sy die woonstel vlugtig. Soos sy verwag het, is dit smaakvol en deftig sonder om oordrewe te wees. Gee die duiwel sy eer, sê sy meewarig vir haarself. Wouter Malan is ’n man met fyn smaak.

      Sy betrap sy oë op haar en draai haar blik vinnig weg. “Lettie, terwyl ons die eerskomende weke baie in mekaar se geselskap sal wees, kan ons gerus die strydbyl voorlopig begrawe. Jy weet dat ek sosiale verpligtinge het, en jy gaan my na almal vergesel en daarin bystaan.”

      “Wouter Malan het ’n meisie soos Marista nodig om hom na sulke plekke te vergesel, nie iemand soos ek nie,” kap sy teë. “Die meisie saam met wie jy in die openbaar verskyn, moet ’n advertensie vir jou wees en ek …”

      “Ek is op hierdie oomblik moeg en sat van advertensies. Jý gaan my vergesel, Lettie.”

      “Wouter, moenie hierdie ding te ver dryf nie! Dis verspot dat ek jou moet oppas …”

      “Dit is nie verspot nie. Daar is môreaand al ’n dinee en jy gaan saam met my. Ek sal jou om sewe-uur by jou woonstel kry.”

      “Maar wat sal ek aantrek?” laat sy ontsteld hoor.

      “Net wat jy wil. Ek gee nie ’n duiwel om nie,” laat die verfynde modebaas met ’n bitter laggie hoor.

      4

      Toe die trein die volgende oggend Middeldraai se klein stasie binnestoom – dis ’n middelmatige groot dorp in die Noordweste – voel Marista asof sy in daardie klein kompartement aan die end van die wa kan gaan wegkruip totdat die trein weer vertrek.

      Maar dis die gedagte aan ouma Miemie – en wat daardie skerp tong van haar alles sal kwytraak – wat haar maar gedweë laat afklim en haar twee tasse deur die venster van ’n medepassasier laat ontvang.

      Dan, met die twee goedkoop tasse aan weerskante van haar, kyk sy met groot, bang oë om haar rond. Ag, vadertjie, gee tog dat niemand haar sal kom haal nie, bid sy byna hardop, hoewel sy weet dat sy seker vergeefs bid. Ouma sou gesorg het dat daar ’n telegram na die De Beers van Duiwelskloof gestuur is, sodat hulle weet wanneer hul nuwe huishoudster aankom.

      Aan die ander kant … Wat gaan van haar word wanneer die trein weer vertrek het en sy staan nog hier op die perron, dink sy met ’n toegetrekte keel. Wat moet sy dán doen? Sy het nie ’n benul nie. Tot gisteraand is alles in die lewe nog vir haar gedoen, en was dit ook die eerste keer dat sy ’n ver ent pad alleen met die trein aanpak.

      Intussen kom die man wat reeds ’n paar minute lank soekend al langs die trein afstap, in haar rigting. Daar is ’n diep frons tussen sy wenkbroue. Michael de Beer voel geïrriteerd. Hy het baie werk op die plaas en moes spesiaal wegbreek om die nuwe huishoudster op die stasie te kom haal. En nou lyk dit asof die ou mens nie op die trein is nie. Sy ongeduld groei. Dit beteken dat hy sy kosbare tyd sal moet vermors om te wag vir die later trein wat eers oor sowat twee uur inkom.

      By die venster skuins agter haar loer Marista se medepassasier na buite en vra belangstellend: “Het jou mense nie gekom nie, hartjie?”

      “Nee, tante. Dit lyk nie so nie. Ek weet nie …”

      Die man kom tot stilstand, maar steur hom nie aan Marista nie. Hy kyk na die middeljarige vrou in die kompartement.

      “Ek soek na ’n mejuffrou Greyling wat hier moes afklim. Is dit miskien u?”

      Sy skud haar kop en wys na Marista. “Nee, daar staan sy. Sy het net begin dink haar mense het van haar vergeet.”

      Hy draai na Marista en die skerp oë rek … en vernou dan.

      “Is ú mejuffrou Greyling? Maar … die dame wat ek verwag, is ’n oujong … ek bedoel, is agt-en-dertig!”

      “Ek is jammer, meneer,” vra sy vinnig om verskoning sonder om te weet waarom. “Ek is … agt-en-dertig.”

      Die frons tussen sy wenkbroue is nou onheilspellend. Daar heers ’n oomblik stilte en Marista wens met haar hele hart dat hy haar daar en dan wil terugstuur met die trein. Maar toe hy weer praat, is sy stem uiters formeel en styf.

      “Ek is Michael de Beer.” Hy doen nie eens die moeite om sy hand uit te steek nie, maar buk af en tel die twee tasse op. “Is dit al bagasie?” Marista knik net stom en hoor die kortaf bevel: “Dan kan ons maar gaan.”

      Sy moet drafstap om by te hou tot by die vragmotor. Toe hy agter die stuur inskuif, vra hy nog steeds in daardie veraf stemtoon: “Sal u omgee as ek net gou by die koöperasie aangaan? Ek moet iets daar oplaai.”

      “Nee, natuurlik nie.”

      Dan is dit weer stil en Marista – van kleins af geleer hoe om ’n goeie gesprek te voer – kan op hierdie oomblik met die beste wil ter wêreld aan niks dink om te sê nie. Haar tong voel swaar en dik in haar mond en sy kyk stip voor haar uit sonder om iets van die

Скачать книгу