Ena Murray Keur 7. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 7 - Ena Murray страница 8

Ena Murray Keur 7 - Ena Murray

Скачать книгу

jou voorkom?”

      “Nee, natuurlik nie,” verweer Johan vinnig. “Maar ’n vrou van agt-en-dertig is al stokoud en … wel, oor die muur, dan nie? Hulle sê mos ’n vrou word baie gouer oud en gedaan as ’n man, of hoe?”

      Die voorhuis word meteens gevul deur Michael se seldsame, hartlike lag en Johan bloos verleë. Deksels! Wat karring Michael so onnodig!

      “Ek het nie soveel kennis soos jy van die teenoorgestelde geslag nie, maar … Goed, Johan, dis nie nodig om jou te vererg nie. Ek trek maar jou been. Dan is sy agt-en-dertig. Wat nog?”

      “Hemel, Michael, soos jy darem te kere kan gaan! Ek weet verder niks van haar af nie. Ek sou niks wyser geword het as ek haar om haar familieregister gevra het nie, of hoe? Het jy dan geen vertroue in jou medemens nie?”

      Michael trek driftig ’n vuurhoutjie.

      “Dis nie ter sake nie, maar ek is effens langer in die wêreld as jy, kleinboet. Die vrou wat ons aanstel, moet ook geselskap vir jou wees. Julle sal heeldag alleen saam in een huis wees. Ek wil maar net hê dat dit iemand sal wees met wie jy darem ’n intelligente gesprek kan voer. Maar jy is heeltemal reg. Ek vertrou nie die mensdom so geredelik nie. Ek het al geleer jy word in die rug gesteek en die maklikste bedrieg wanneer jy dit die minste verwag. Dis juis wanneer alles so in orde lyk, dat jy in jou pasoppens moet wees. Maar ek sal hierdie keer bes gee. Ek sal aanvaar dat jy hierdie keer die regte besluit geneem het en die regte aanstelling gedoen het. Ons kan nie so aangaan nie. Jy moet haar maar in kennis stel dat sy die pos gekry het en dat sy die einde van die maand kan begin. Ek sal môre reël dat haar treinkaartjie vir haar gestuur word. Het jy haar adres gevra?”

      “Nee, ek …” Hy bloos weer effens. “Sy het gesê sy kan dadelik begin, en ek het toe gesê sy moet môre al op die trein klim. Ons kan haar maar vir die kaartjie vergoed wanneer sy hier kom.”

      3

      Die frons is terug tussen Michael se wenkbroue.

      “En jy het nie daaraan gedink dat die arme ou mens miskien nie die geld vir ’n treinkaartjie het nie. Werklik, Johan, soms kan jy uiters kortsigtig wees. Wat is haar ondervinding? En hoe is dit dat sy in die middel van die maand kan kom op so ’n kort kennisgewing? Sit sy sonder werk op die oomblik en hoekom? Wat …?”

      Die vrae reën op die arme Johan af en hy gooi sy hande in die lug.

      “Hou op. Jy kan haar al daardie goed vra wanneer sy môre hier aankom. Ek weet verder niks van die vroumens af nie, sê ek mos! Ek gee ook nie ’n duit om nie, solank ek net ’n slag ’n ordentlike bord kos voor my kan kry. Ek is nou al so siek en sat van mieliepap en vleis dat ek kan skree daarvan, en as ek ’n eier sien, wil ek begin kekkel.” Johan is nou billik ontstoke. “Ja, toe, vir wat glimlag jy nou?”

      Die groen oë lyk meteens besonder sag.

      “Jammer, Johan. Dis maar net dat ek ook al wil begin kekkel, soos jy dit stel. Ek besef dit moet vir jou nog swaarder wees. Ek bly darem nog doenig, maar jy is heeldag alleen hier. Ou Sabien doen haar bes, maar die gewillige ou siel is ook al oud. As ek net êrens iemand met ’n goeie aanleg vir huiswerk in die hande kan kry. Maar dis so ’n probleem. Hulle trek mos net almal dorp toe. Ou Sabien was ook nooit ’n kok nie. Sy was al die jare my ma se hulp om die huis skoon en aan die kant te hou en toe was sy ’n voorslag, maar die rumatiek vreet haar deesdae op. Sy is darem baie betroubaar.”

      Hy sug en die dooie pyp hang in sy mond. Dan haal hy dit uit. “Miskien was dit maar goed dat dit jy was wat die telefoon beantwoord het toe die oproep deurkom. Jy is natuurlik heeltemal reg. Ek sou haar nie aangestel het nie. Ek het nie tyd vir gefrustreerde oujongnooiens nie. Die ou ding kry dalk naderhand allerhande gedagtes in haar kop en dan sit ’n mens net met ’n groot sonde en ergernis …”

      Johan se hartlike lag dwing hom tot swye. “Ouboet, moenie vir my sê jy is báng vir haar nie!”

      “Moenie twak praat nie, man! Hoekom sal ek vir die ou fossiel bang wees? Hemel, sy lyk seker soos ’n uitgedroogde stuk vetderm wat al maande in die son gehang het … en net so oninteressant ook. Wel, van oormôre af sal ons dus weer ’n huishoudster hê en jy weer ’n slag ordentlik kan eet. Ek ook, moet ek erken. As Erika haar darem nie soms oor ons ontferm het nie …” Hy staan op. “Ek gaan koffie haal. Wil jy ook hê?”

      Die atmosfeer is skielik weer vreedsaam en ontspanne in die voorhuis van Duiwelskloof. Miskien by die gedagte aan oormôre se lekker ete wat die nuwe huishoudster vir die twee uitgehongerdes van Duiwelskloof sal voorberei …

      Die volgende oggend is Marista vroeg reeds by haar ouma se woonstel ná ’n slapelose nag.

      Terwyl die helder oggendson deur tant Miemie se kantgordyntjies na binne stroom, is Marista skielik oortuig daarvan dat sy en haar ouma gisteraand heeltemal van hul trollie gegaan het. Ouma se voorstel was vergesog, om dit sagkens te stel, en sý moes werklik van haar kop af gewees het om tot so iets in te stem. Daarom is sy reeds vroeg vanoggend hier. Ouma het haar in hierdie ding laat beland. Ouma moet sorg dat sy weer daar uitkom.

      Maar tant Miemie is vanoggend nog meer vasberade as die vorige aand. Watter verskonings Marista ook al aanvoer, sy het vir elkeen ’n antwoord, en in geen onseker taal nie.

      “Ouma, ek kan nie vanoggend al na Duiwelskloof vertrek nie. Ek kan nie sommer net so verdwyn nie. Ek kan Wouter nie so in die steek laat nie,” laat sy wanhopig hoor, maar tant Miemie se kierie klop weer ongeduldig as teken dat sy ’n antwoord gereed het.

      “Hoekom nie? Hy verdien niks beter nie. Hy verdien om in die vlug gelos te word, die vals skepsel!”

      “Ouma,” probeer Marista redelik wees, “ons moet onthou dat ons net die praatjies van die modelle het op grond waarvan ons Wouter veroordeel. Ek voel al baie sleg dat ek hulle so sonder meer geglo het. Ons is miskien baie onregverdig teenoor hom en …”

      “Niks daarvan nie,” laat tant Miemie beslis hoor, haar lippe vasberade saamgepers. Sy frons eers nadenkend, en besluit dan om maar uit te kom met die hele sak patats. “Marista, ek wou jou nie vertel nie, maar … ek dink ek moet. Dis my plig. Lettie sal my vreeslik kwalik neem as ek jou vertel, want ek het haar belowe ek sal stilbly hieroor, maar … Gisteraand, nadat jy hier weg is – dit was al sommer laat – het Lettie hewig ontsteld hier aangekom. Sy was in trane, die liewe kind. Sy bewonder jou geweldig en sy het die wêreld se respek vir Wouter Malan, soos jy seker self weet. Ek dink haar teleurstelling in Wouter is net so groot, indien nie groter nie, as joune.”

      Tant Miemie kyk haar kleindogter bekommerd aan. “Jy moet haar nie kwalik neem nie, kind. Sy het nie bedoel om haar in jou private sake in te meng nie, maar sy wou jou so graag help. Sy het na Wouter se woonstel gegaan om hom te vertel wat alles gebeur het. En toe sy daar kom … Daar was ’n ander meisie by hom in die woonstel.” Die ou oë sien hoe die bleek wange nog bleker word. “Ek is jammer, kind, maar … die praatjies is blykbaar waar. Wouter is besig om jou gruwelik te bedrieg.”

      Marista swaai vinnig om terwyl sy pynlik sluk. Sy is nie eintlik verbaas om dit te hoor nie, nie nou meer nie. Sy onthou dat hy geensins ontevrede of ontsteld geklink het toe sy hul afspraak van gisteraand gekanselleer het nie. Hoekom sou hy, as daar genoeg ander is wat haar plek op kort kennisgewing kan inneem?

      Sy sal die waarheid in die oë moet begin kyk. Sy is baie belangrik vir hom as model, maar in sy private lewe kan sy baie maklik vervang word. Die verloofring aan haar vinger sorg dat hy haar diens in sy onderneming behou, diens waarsonder hy nie maklik alleen so vinnig die leer van sukses sou kon bestyg nie. Maar dit beteken

Скачать книгу