Ena Murray Keur 7. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 7 - Ena Murray страница 9
Tant Miemie sug en trek dan die skraal skouertjies vierkant terug. As daardie Wouter darem dink dat hy haar geliefde kleinkind gaan onderkry, begaan hy ’n groot fout en hou hy nie rekening met Margaretha Jacomina Isabella Greyling nie. Dit sal die dag wees dat sy gaan toelaat dat daardie swierbol haar pragtige Miempie se lewe gaan verwoes!
Sy is ook sommer haastig.
“Ek kry my handsak en dan moet ons dadelik winkels toe, Miempie. Daar is baie om te doen. Solank ek my dingetjies regkry, bel jy gou die stasie en hoor wanneer die trein loop en …”
“Ouma, moet ek … moet ek regtig gaan?”
Tant Miemie lyk eerlik geskok. “Maar natuurlik, mens! Marista, jy kan mos nie ’n mens jou woord gee en dan daarop teruggaan nie! A nee a, kind, ek begin wonder of jou ma jou reg opgevoed het. Nee, kyk, ons woord was nog altyd ons eer. Of aard jy na daardie danige verloofde van jou? Dan kan jy bly, want dan is julle mekaar se soort.”
“Ouma, asseblief, dis nie … Begryp dan tog! As dit enige ander soort betrekking was, maar … huishoudster! Ek!”
Tant Miemie plant haar vierkant op haar kort beentjies voor die lenige Marista en kyk met kwaai oë na haar op.
“O, nè? Enige ander werk, sê jy? Goed. Noem hulle. Wat kan jy anders doen as om op en af te paradeer vir die sondigheid? Hm? Sê my!”
Marista kyk verslae terug. Weer soos altyd, is Ouma natuurlik reg. Dit is werklik ál wat sy kán doen! “Kind, jy is verniet so bang. Om huis te hou en kos te kook kom sommer vanself by ’n vrou. Dis ingebore. Jy het dit maar nog nooit probeer nie, dis al. Dis mos ook nie vir ’n ewigheid nie. Dis uiters ’n maand lank wat jy die arme mense sal moet uithelp. Dan sal tant Anna weer terug wees.”
“Is u seker dis net ’n maand? Het Lettie so gesê?”
“Ja,” lieg tant Miemie onbeskaamd. “En van Lettie gepraat … Ek dink nie ons moet haar vertel van dié plan van ons nie. Sy kan haar net in ’n brief verspreek. Nee. Dis veiliger dat net ek en jy daarvan weet.”
“Maar om sommer net te verdwyn!” Sy klink bekommerd en bang, en tant Miemie antwoord lighartig, hoewel sy self effens op haar senuwees voel. As daardie Michael-broer van Lettie hulle darem betrap, sal die hare waai, dis seker. Volgens Lettie is hy ’n regte despoot, ’n man wat hom nie vir die gek sal laat hou nie.
“Wat daarvan? Dit sal Wouter Malan die wêreld se goed doen. Nou kan hy agterkom wat jy werklik vir hom beteken, en as hy enigsins nog ’n gewete in hom het, hoop ek dit ry hom bloots. Ek sal Lettie vertel jy is ’n rukkie weg, êrens oorsee in die een of ander land. En ek sal net eenvoudig voorgee ek weet nie waarheen jy is nie, en klaar. Bel nou die stasie, Miempie!”
Selfs die Spoorweë is nie aan Marista se kant nie. Daar is ’n trein om halftwaalf. Daar is selfs plek. Marista voel die web ál nouer om haar span. Dit lyk nie asof sy uit hierdie penarie gaan loskom nie …
Sy gryp wanhopig na die enigste strooihalm wat oorbly. “Ek sal nooit klaarkry nie, Ouma. Dis nou agtuur. Die trein vertrek om halftwaalf. Ek sal nooit alles ingepak kry en …”
“Jy het niks om in te pak nie. Ons gaan nou alles wat jy nodig het, in die winkels koop, tasse en al, en dan is dit net nodig om ’n etiket aan te heg en jy is gereed.”
“Hoekom?” wil sy verbaas weet. “Ek het mos genoeg klere en …”
Ouma is nou openlik ongeduldig. Hemel, die kind is mos nie werklik só onnosel nie! Wat is dit vanmôre met haar verstand?
“Waar het jy gehoor van ’n huishoudster wat modelrokke dra? Moenie laf wees nie.” Sy skud haar kop meewarig. “As jy darem nie jou ouma gehad het nie, Marista, wonder ek waar sou jy beland het.”
Marista moet vinnig sluk. Bepaald nie op Duiwelskloof nie, het sy amper hardop gesê, maar dit toe maar daar gelaat. Dit help nie om nou te kere te gaan nie. Sy moes eerder haar gesonde verstand gebruik het.
Soos ’n lam wat ter slagting gelei word, volg Marista tant Miemie ’n rukkie later by een van die groot kettingwinkels in. Klop-klop met haar kierie stap sy reg op ’n ry rokke af: Uitverkoping! Fantastiese aanbod teen weggeepryse! – lees haar verstarde oë. Ouma bedoel tog nie regtig … Maar ouma Miemie bedoel dit! Marista staan soos ’n verdwaalde skaap tussen die rye rokke terwyl haar ouma kliphard sake doen en dan nog redekawel ook!
“Ek neem ses van hierdie rokkies, juffrou. Ek kry darem seker afslag vir kontant, hè?” hoor Marista haar ouma sê, en sy kyk vinnig om haar rond. Sy sterf as die een of ander bekende haar nóú moet sien! Sy het nog nooit in haar lewe by ’n kettingwinkel rokke gekoop nie, en dan staan sy nogal breed in ’n tou by die betaalpunt!
“E … nee, dame, jammer, maar hierdie rokkies word reeds so spotgoedkoop verkoop dat ons nie nog …”
“Dit maak nie saak nie. Ek betaal kontant en ek vat sés rokke. Kyk. Hier is my geld. Ek wil nog onderklere en nagklere en skoene en tasse en allerhande ander dinge ook hê. Dus verwag ek ’n afslaggie. Gaan roep jou hoofdame.”
Terwyl hulle wag, tree Marista vinnig nader, hewig ontsteld. “Wat makeer Ouma? Ek kan mos vir die goed betaal!”
Sy ontvang ’n stralende glimlag. “Natuurlik, kind. Dis sommer vir die lekkerte. Ek weet nie wanneer laas ek so lekker inkopies gedoen het nie! Wag, stil. Hier kom sy.”
Marista laat vinnig hoor: “Ouma, ek gaan nie daardie goedkoop goed dra nie! Ouma mors net Ouma se geld.”
“Dis huisdrarokkies. Ek sal netnou daar by die effens duurder goed vir jou ’n deftige dingetjie koop om mee dorp en kerk toe te gaan. Bly jy nou stil. Ek doen sake.”
En dat sy kan sake doen, is gewis. Naderhand is die verkoopsbestuurder ook daar en ’n halfuur later gooi hy sy hande in die lug en stap weg … en tant Miemie glimlag ingenome. En ook glad nie ’n slegte afslaggie nie!
Met die afgryse duidelik in haar oë, kyk Marista na die bondeltjie rokke op die toonbank.
“Dis maar sewe rokkies. En ek sweer hulle trek uitmekaar ná die eerste was, Ouma …”
“Sewe is meer as genoeg. Wat wil jy met meer maak? ’n Drarokkie vir elke dag en ’n goeie enetjie vir Saterdagmiddag en Sondag. ’n Huishoudster het selde meer as dit in haar kas,” laat tant Miemie blykbaar alleswetend hoor.
By die skoenafdeling steek Marista soos ’n steeks donkie vas. Wat te erg is, is te erg!
“Ek sal nie daardie plat, bruin skoolskoene dra nie, Ouma! Ek sál nie!”
“Dis goeie, stewige, duursame skoene om in die huis mee te loop. Of wil jy met hoëhakskoene jou huiswerk doen?”
Marista se oë vernou. “Ek is nie van plan om huiswerk te gaan doen nie, Ouma. Ou Sabien is mos daar. Ek sal nie daardie liederlike goed aan my voete trek nie. Ek sê dit nou. Ek loop liewer kaalvoet.”
Ouma sug. Miempie is darem regtig moeilik vanmôre. “Nou gee dan maar van die sandale aan. Nee! Nie met polvye nie, dankie. Daardie in die hoek wat plat is. Maar jy gaan spyt wees, Miempie. Jy dink nou Ouma weet niks nie … Onse hert, mens! Dis dan net ’n paar plastiekbandjies