Tryna du Toit-omnibus 10. Tryna du Toit
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Tryna du Toit-omnibus 10 - Tryna du Toit страница 11
Maar nog is het einde niet! Toe Jim Muller besef dat ek en hy dikwels alleen op die plaas sal wees, dring hy aan op ’n chaperone. En nie om my goeie naam te beskerm, soos ek ewe naïef gedink het nie, maar ter wille van sy eie reputasie!
Gelukkig was tant Lettie, wat ’n ruk lank by ons gebly het terwyl Pa siek was, dadelik beskikbaar, en ons vriend se reputasie is nou heeltemal veilig. Maar ek spot sommer. Hy is ’n gawe man, pligsgetrou en op sy plek, en al is ons twee nog ’n bietjie versigtig om nie op mekaar se tone te trap nie, pas hy goed in by die familie. Ta’ Lettie en my susters hou baie van hom.
Gawie Pretorius was Sondag hier en hy was nie juis geïmponeer deur die nuwe bestuurder nie. Maar Jim het die hele aand niks te sê gehad nie en is net ná ete terug na sy rondawel, dus het Gawie nie juis kans gehad om hom te leer ken nie. In elk geval, dit is goed om weer ’n man op die plaas te hê.
Verder gaan dit maar op die ou trant. Dit bly bitter droog en warm. Dit het ’n bietjie gereën, maar skaars stofnat – sekerlik nie genoeg om te begin ploeg nie. Van lente is daar nie veel sprake nie. Alles skroei dood, die wêreld is swart soos in die winter. Die paar rose wat nog blom hang koponderstebo, soos ’n man wat geen moed vir die lewe het nie. As jy jou daar in die heerlike Amerikaanse herfsweer verlustig, dink aan ons arme boere wat verskroei hier onder die Suid-Afrikaanse son.
Daar is nog ’n ander saak wat ek eintlik huiwer om te noem. Maar jy moet tog weet wat aangaan, al is dit ook slegte nuus. Drie van ons goeie beeste het gevrek en ’n stuk of tien was ernstig siek, maar die veearts het hulle gelukkig deurgehaal. Hy vermoed die beeste is vergiftig – ja, opsetlik vergiftig – maar ons wag nog op bevestiging van Onderstepoort. Persoonlik dink ek hulle het maar net iets gevreet wat hulle siek gemaak het. Ek weier om te glo dat ons bure, of wie ook al, ons beeste sal probeer vergiftig.
Voorlopig sê ons niks van hierdie dinge vir die familie of enigiemand nie – tyd genoeg as ons van Onderstepoort gehoor het.
Maar die beeste moet ekstra voer kry, of hulle vrek die laaste een. Hulle kondisie is treurig. As jy nie gou terugkom nie, is daar van die boedel niks meer oor nie.
Jim en ek het toe amper oor die voer ook ’n potjie geloop. Gelukkig het hy kalm gebly en my histerie geïgnoreer. (Ek moet darem byvoeg ek het ’n kwaai hoofpyn gehad, anders sou ek nie die kluts so kwytgeraak het nie.) Maar ek vrees ek is geen stoere boeredogter nie. Al die ellendes begin my nou vang. Ek het vir hom gesê: maak soos jy goeddink; van nou af aanvaar jý alle verantwoordelikheid vir Tiervlei! Ek is seker dit sal jou goedkeuring wegdra, neef Frans. Jy het hom immers hierheen gestuur.
Ek kan nog lank gesels – oor die droogte, oor die melkkoeie wat almal opdroog, oor die stukkende windpomp, maar ek dink ek moet ophou. Dis my beurt om tee te maak en die klomp begin al mor.
Ta’ Lettie en ek het vandag korentekoekies en karringmelkbeskuit gebak en ek wens ek kan vir jou daarvan stuur. Miskien laat verlang dit jou so na jou eie land en mense dat jy besluit om sommer dadelik terug te kom. Maar ek terg sommer. Ek weet jy is besig en dat jy sal kom sodra jy kan.
Groete en beste wense van jou
nig Aletta (aangetroud)
Sy vou die brief op en steek dit in die koevert. “So ja, dis klaar.”
“Wat op aarde skryf jy alles vir die man?” vra Susan nuuskierig.
“Boerderysake. En hiervan en daarvan. Ek moet ons mede-erfgenaam darem op hoogte van sake hou. Wil jy miskien ’n boodskap vir hom stuur, meneer Muller?”
Jim Muller kyk vlugtig op van Betsie se wiskundehandboek waardeur hy blaai.
“Nee, dankie. Jy het seker alles gesê wat daar te sê is, juffrou.”
“Ek wens die man wil huis toe kom. Alet, wat gaan ons maak as hy Tiervlei nie wil verkoop nie?” vra Susan.
“Jy bedoel, waar sal ons die geld kry om Bets universiteit toe te stuur? En vir jou modelklasse te betaal? Ons sal wel ’n plan maak. Ek gaan weer skoolhou. Moontlik kan ons geld leen teen ons erfenis.”
“Of jy kan met Gawie trou,” terg Bets. “Maak dit net ’n voorwaarde dat hy jou twee jonger sussies moet onderhou.”
“Ek het al genoeg vir die familie opgeoffer, dankie,” sê Aletta liggies.
Ta’ Lettie kyk op van haar hekelwerk. “Sal dit so ’n groot opoffering wees, hartjie?” vra sy skalks. “Gawie is ’n eersteklas jong man. Jy moet sien hoe die meisies op die dorp agter hom aanloop. En jy kan slegter vaar, Aletta. Die mense sê Gawie Pretorius sal binne tien jaar in die parlement sit.”
Jim Muller kyk vol belangstelling op van die boek waarin hy ’n oomblik vantevore so verdiep was, maar voor hy iets kan sê, vra Betsie plaerig: “Waarom trou jy dan nie liewer met Frans Naudé nie? Dan hou ons ten minste die erfenis in die familie!”
“Wat ’n blink gedagte, Bets,” sê Aletta bewonderend, maar die donker oë glinster waarskuwend en ’n ligte blos verkleur haar wange. “Miskien is daar nog ’n paar kandidate aan wie julle kan dink. Bespreek gerus die saak verder terwyl ek gaan tee maak.”
“Miaau,” glimlag Betsie. “Ons is maar net bekommerd oor jou, sus. Netnou sit jy op die rak en dan sê jy dis ons skuld.”
“Bekommer jou nie oor my nie. Ek belowe jou julle sal nie met my opgeskeep sit nie,” antwoord Aletta en stap neus in die lug by die kamer uit. Betsie volg haar na die kombuis om vrede te maak.
“Moenie kwaad wees nie, sus. Ons het jou maar net geterg,” sê sy verskonend en Aletta glimlag onwillig.
“Ek weet. Maar ’n mens bespreek darem nie jou persoonlike sake so voor vreemdes nie.”
“Vreemdes? Ta’ Lettie en Jim is mos nie vreemdes nie. Hulle is deel van die familie.”
Vir Betsie en Susan en ook Ta’ Lettie is hy lankal “Jim”. Net sy hou nog vol met die stywe “meneer Muller”. Dit klink meer saaklik.
“Ek het nie die familie se hulp nodig om my persoonlike sake te reël nie,” sê sy nou. Maar sy glimlag en Betsie is tevrede.
Die volgende oggend ry Jim Muller saam met Susan dorp toe. Die pomp het weer gebreek en hy moet die onderdeel kry, asook die nuwe entstof wat hulle vir die beeste bestel het. Aletta sou ook saamry – sy gaan gewoonlik Saterdagoggende saam met Susan dorp toe om inkopies te doen – maar dit is so warm dat sy op die ou end tuis bly en Ta’ Lettie is saam met Susan-hulle weg.
“Moenie vergeet om my brief te pos nie, Susan,” waarsku Aletta toe hulle groet.
“Jim het dit geneem,” sê Susan. “Hy moet poskantoor toe gaan en sal sommer die pos kry.”
“Ek sal nie vergeet nie, juffrou,” sê Jim Muller en glimlag effens. Tot haar eie ergernis