Die ewigheid in my hart. Barend Vos
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die ewigheid in my hart - Barend Vos страница 20
Vergewe my.
Dankie dat U aangehou het met my.
Deurgedruk het, ten spyte van my stiksienigheid,
my misplaaste trots.
Dankie dat U my uiteindelik oortuig het
om oop kaarte te speel. Om alles te vertel.
Om my, sonder om enigiets terug te hou,
voor U bloot te lê.
Ek dink dikwels daaraan:
Dit was soos om ’n patetiese pleister met mening
af te ruk en toe te kyk hoe die etter uitkom.
Hoe dit slordig, sonder skroom uitpeul …
totdat dit, gaandeweg, minder word.
Uiteindelik heeltemal ophou.
En net die seerplek bly.
Ag, Here, ek weet dat my bekentenisse
nie vir U nuus is nie.
U ken my immers beter as wat ek myself ken.
En dit is seker daarom dat U aandring
op belydenis. Omdat U weet dat ék
dit nodig het om oop te maak,
om al die opgehoopte
vullis te laat uitborrel.
Om vry te word. Lig.
En dan was U my wonde.
Lees Psalm 32:8-11 | 21 Februarie
Om by U te leer
Here, dit het my jare gekos om “leerbaarheid” te verstaan.
Dié woord was onbekend; die idee onbemind:
Ek laat my nie sommer leer nie –
dít weet almal wat met my te doen kry.
Ek het genoeg seergekry;
ek is al te veel kere gekasty
deur meesters en tugmeesters,
goedbedoelendes en kwaadstigters;
sogenaamde slimmes wat my kamma wou “leer”.
Deur skade en skande het ek wys geword.
Ek is ’n grootmens. Ek weet hoe sake staan.
Daarom is dit vir my swaar,
nee, onmoontlik, om ander se raad te aanvaar.
Daarvoor ken ek hulle te goed.
Ek weet genoeg – te veel! –
van die wêreld se “ingeligtes”:
Willie Weetalles en Sarie Slimstorie.
Veel eerder volg ek my eie kop.
En as ek hom stamp, dan moet dit maar so wees.
Volgende keer vaar ek dalk beter.
Net soms, Here – en U is die enigste vir wie ek dit ooit sal sê –
net soms weet ek nie herwaarts of derwaarts nie. Dan is ek dom.
Soos nou.
Nou vra ek U: Leer my, asseblief!
En ek wil dit waag om te vra – omdat dit Ú is –
dat U my sal keer, as dit nodig is. Ja, keer my voor,
as U sien dat ek my te pletter gaan loop.
Stuit my, voordat ek my harde kop stukkend stamp.
Ek het te oud geword om daardie soort beserings te oorleef.
Spreek dan maar die woord, Here.
’n Mens is nooit te oud
om by U te leer nie.
Lees Psalm 33 | 22 Februarie
Niks om op te roem nie
Here, dit lyk my die wêreld se sterk manne
het ook maar voete van klei. Dit lyk my ook
dat hulle die enigstes is wat dit nié weet nie.
Hulle gee hoog op oor getalle –
alles wat hulle het, almal wat aan hul kant is –
en spog oor hul eersteklas toerusting.
Bewonder hul eie spiere.
Hulle bou op ’n wankelrige fondament.
Sies tog, hulle besef dit nie.
Ons, aan die ander kant, het niks
om op te roem nie,
behalwe op u Naam.
Ons het niks om te wys nie,
behalwe ons hoop op U.
Ons het niks anders om te bied nie
as ons lang stories oor God se sorg.
Maar, Here, hoe verduidelik ek aan skeptiese mense
dat ek die Here se Naam dra?
Hoe beskryf ek “hoop”,
sodat dit nie na ’n heidense “hoop-op-die-beste” klink nie?
Hoe vertel ek mý storie met die Here
sonder om te dweep?
Hoe doen ek al hierdie dinge sonder om daarmee te sê:
“Kom kyk gou hoe bult ek my geloofspiere!”?
Nee, Here, my voete staan stewig
op die aarde omdat U dit daar hou.
My-storie-met-U is eintlik ú storie met mý.
In werklikheid rym my krag net met “wag”.
Kyk, hier staan ek voor U. Ek wag
vir die krag om kortliks te vertel