Die ewigheid in my hart. Barend Vos
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die ewigheid in my hart - Barend Vos страница 21
Dít is my roemtaal, dít is my lied.
Lees Psalm 34:1-11 | 23 Februarie
Liewer ’n lied
Here, in tye van swaarkry het ek gewoonlik
een – aweregse – troos: Ek is nie alleen nie;
daar is ander wat net so sukkel soos ek.
Trouens, as ek húl moeilikheid sien,
dan smeer ek maar my lyf vet …
Is daar ’n doel met swaarkry, Here?
Ek het al gewonder, vergewe my,
of lyding hoegenaamd sin het.
Of daar ooit êrens iets gebeur
wat ons ellende betekenis gee.
Of sal U, Here, ons op ’n nuwe dag
laat terugkyk op die slegte dinge
sodat ons verwonderd sal sê:
“Nóú sien ek die rede!”?
Vergewe my al dié vertwyfeling, die skeptiese vrae.
As ek die mense sien wat regtig swaarkry;
dié wie se lewe een stuk bestaansnood is,
dan droog my swartgallige slimmighede
summier op. Dan skaam ek my.
Nou sit ek eerder ’n lied in – ’n pryslied vir die Here.
Wie wil saam met my sing?
Wat van julle wat so saam met my kla?
Kom laat ons eerder sing!
Kom ons vertel mekaar met blink oë dat die Here góéd is.
Kom ons deel in mekaar se vreugde – oor uitkoms,
nuwe moontlikhede, oor God se sorg.
Kom ons herinner mekaar aan al die kere
dat ons benoud geroep het.
Aan hoe Hy gehoor het.
Dankie, Here, dat U keer op keer
my mislike mond snoer.
Gee my élke keer liewer ’n lied.
Lees Psalm 34:12-15 | 24 Februarie
Eenvoudig!
Here, u gebooie is nogal ingewikkeld –
veral dié waarvoor ek nie kans sien nie.
Die een oor begeerte, byvoorbeeld.
En die een oor u Naam,
en die een oor afgode
en die een oor lieg –
en dan is daar ook die een oor egbreuk …
Ek wil maar net sê, Here, dat ek ook weet
hoe eenvoudig dit is om U te dien.
Dat ek nie “ingewikkeld” as verskoning kan aanbied nie.
Dat gehoorsaamheid soms – dikwels – (altyd!) swaar is,
beteken nie dat dit moeilik verstaanbaar is nie. Inteendeel.
Soveel van die diens aan U
hang doodgewoon daarvan af of ek U hoor.
U sagte stem, wat gereeld moet sê: Lós dit nou!
Ek moet luister as U sê ek moet stilbly.
Ek moet verstaan dat ek my woorde moet
tel wanneer ek oor ander mense praat.
Of eenvoudig my mond moet hou.
Ag, Here, en dan ken U ook
my twyfelagtige talent
om aan te dik. By te lieg.
Alles, sodat my gespreksgenote
tog van mý ook iets moet dink.
Later, as ek weer alleen is, dan skaam ek my …
Hoe sukkel ek tog met u eenvoudige eise!
Dié oor lewegewende woorde
en vredeskeppende dade,
soos dit by u kinders hoort.
Maak dit anders, Here!
Maak my oor.
Lees Psalm 34:16-23 | 25 Februarie
U kyk na my
Ek is van kleins af geleer, Here, dat ek na U
moet opkyk wanneer ek hulp soek. Dat ek u aangesig
moet soek wanneer ek in die moeilikheid is.
Dat ek dít mag doen,
bly ’n buitengewone voorreg.
Ek bedoel: Kyk waar is ek,
en kyk waar is U!
En kyk net wié is U …
Maar selfs meer onbegryplik
is dat U na mý kyk. Dat u oë op my gerig,
en u ore op my stem, my sugte, ingestel is.
U het ’n oog vir my hart – my diepste seer
en my mees geheime wense. My vrese.
Ja, U kyk goed na my.
Ek het jonk-jonk geleer dat U my siel hoog ag,
dat U veral dáár kyk. Noukeurig ondersoek instel.
Dít het my nog altyd gepla,
veral omdat ek nooit heeltemal seker was van my siel nie.
Waar is hy? wou ek my afvra.
“Hoe is dit met hom gesteld?” was ’n ander se dringende vraag.
Dan het ek maar iets gemompel –
wat