Die ewigheid in my hart. Barend Vos
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die ewigheid in my hart - Barend Vos страница 25
En U was dit nog altyd,
van dag een af (weer die mensetaal, askies!).
As ek U op u woord moet glo,
sal U dit vir altyd wees, vir die geslagte
wat kom – totdat die mens se dae getel is.
U begryp hoekom “volhoubaar” my deesdae help?
Want al glimlag U vir ons gladde taal,
die clichés, die eeue oue jargon,
ons modewoorde, ken U “eerbied” as U dit sien.
En “verwondering”.
En “dankbaarheid”.
Lees Psalm 38 | 5 Maart
Met my laaste asem
U het my heeltemal verrinneweer, Here,
kyk net hoe lyk ek! Hou asseblief nou op;
ek kan nie meer nie.
Ek weet U is kwaad vir my en ek weet U het genoeg rede
daarvoor en ek sal dit nooit probeer vergoeilik nie …
Maar wil U my nie weer, ja, hierdie keer ook,
tog genadig wees nie? My skuld voor U vreet my op.
Ek slaap nie meer nie, ek word rondgejaag
deur my gewete en selfverwyt. Ek sien nie meer
wat rondom my aangaan nie en dié wat nog
met my praat, moet hulle woorde oor en oor sê –
ek hoor hulle nie meer nie.
Uiteraard het ek ook niks te sê nie.
Wie wil in elk geval na my gesanik luister?
Buitendien hou almal – ook my eie mense –
hulle op ’n afstand. Ek neem hulle nie kwalik nie.
Ek is in ’n dwaal, Here. Willoos.
Dinge gebeur rondom my, met my en dalk in my,
maar dit is vir my van geen belang nie. Ek het nie
eens die krag om my kop op te lig nie. En dit alles
maak my weerloser as ooit. En almal weet dit,
ook – veral – my vyande. Nou slaan hulle met
mening toe, hulle draai die krane oop en verswelg
my met hul dreigemente: “Ons wág vir jou!”
Net U kan my help. Daarom roep ek na U
kortasem:
Help
my
Here.
Dit is niks
meer as ’n laaste
sug nie asseblief
hoor my net.
Lees Psalm 39 | 6 Maart
Net ’n asem lank
Here, “verganklikheid” het toe
’n deel van my woordeskat geword.
Teësinnig – en doodnuuskierig – leen ek deesdae
my ore uit aan praatjies oor dié een
wat so skielik siek geword het en dáárdie een
wat dit nie veel langer gaan maak nie.
Ek was nog besig om my lewe in orde te kry
– my doen en late, my swye en my prate –
en ek het my pas voorgeneem om liefs te swyg,
veral in twyfelagtige geselskap,
en …
En toe oorval die nare gedoente my,
dié doodgaanpraatjies.
Sedertdien kan ek nie ophou om daaroor te dink nie.
Daarom het ek gedink om U te vra:
Wat weet U wat ek nie weet nie?
Wat weet U van mý tyd?
My lewe wat net ’n skaduwee is,
wat wag op u lig?
Ag, Here, ek moet dit weet,
sodat ek my sake in orde kan kry – wié kry wát,
en so meer, U weet? – en my kan voorberei
op die ergste.
Daar is ook nog die ding van al my skuld,
wat ek glo eers met U moet uitklaar.
Ek besef dat U my te eniger tyd kan kom haal
– die lewe is immers net ’n asem lank –
en dit is nie dat ek onwillig is om te gaan nie, Here.
Ek dink wel ek het nog ’n bietjie tyd nodig.
Ja, ek hoop U los my nog ’n rukkie hier, Here.
Ignoreer dan voorlopig my verganklikheid, asseblief.
Totdat die geskikte tyd daarvoor kom,
die jare van onbehae aanbreek.
Lees Psalm 40:1-6 | 7 Maart
’n Lewenslied
Ek kan nou nog nie glo dat dinge
toe só afgeloop het nie, Here.
Om te dink dat ek besig was om bes te gee …
Ek was in die diepste gat denkbaar.
Donker, skrikwekkend, met geen uitkomkans nie.
En toe roep ek, óp.
Na bo.
Toe buk U af en haal my uit.