Christine le Roux Omnibus 8. Christine le Roux
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Christine le Roux Omnibus 8 - Christine le Roux страница 11
“My ma ook,” sug sy. “Sy is dol op Jack omdat dit net ek en my suster is en hy draai haar natuurlik om sy pinkie. Sy kan nie wag dat hy haar skoonseun word nie.”
“Ek kan dit glo,” sê hy in sy droë stem.
“Ja, maar sy hou haar blind,” sê sy. “Aan die een kant gee sy my lesings oor hoe belangrik dit is om met ’n betroubare man te trou en aan die ander kant kyk sy verby al Jack se swakhede.” Sy kyk hom nuuskierig aan. “Weet jou ouers van jou ander meisie?”
“Ek het hulle vertel, ja, maar dit was baie lank gelede, ek twyfel of hulle nog onthou.”
Hulle lê in die warm gras langs die waterval en vir lang rukke is dit nie eens nodig om te praat nie. Sy pluk blommetjies en ryg hulle aan ’n dun stingel, hy sit ’n hand vol biesieagtige grasse en vleg. Toe hulle honger word, eet hulle, drink koffie en klouter laer af langs die waterval en dis met spyt dat sy op haar horlosie kyk en hulle die terugtog begin.
“Ek wil vir altyd hier bly,” sê sy toe hulle later die hut skoonmaak en alles wegpak.
“Dit was lieflik,” stem hy saam. “Al kom daar niks van al die planne wat ons gesmee het nie, is ek bly jy het my saamgenooi. Ek het ’n groot behoefte gehad aan so ’n plek.”
“Jy was die ideale mens,” sê sy. “Regtig. Ek kan so … so óp raak vir die gewoel om my. Dit voel later ek kan nie asem kry nie en hier, die afgelope twee dae, kon ek weer tot rus kom.”
“Mens sou dit nie sê nie, weet jy? Jy lyk na ’n stadsmens in murg en been.”
Sy skud haar kop, pak die oorskietkos in die boks en bring haar tas uit haar kamer. “Dis net ’n rol wat ek speel.”
“Wat Jack jou dwing om te speel.”
Sy kyk vinnig na hom, onwennig om dit te erken. “Miskien.”
Toe hulle terugry, raak sy stil en sit somber voor haar en uitkyk. Die verkeer is kwaai soos al die naweekmense terugry stad toe, en dit laat haar meer depressief voel.
“Oeg,” sê sy en frommel haar neus. “Ruik net al die motors.”
Hy gee ’n skewe glimlag. “Jy moenie so ongelukkig lyk nie. Ons is verloof, onthou. Niemand gaan jou glo as jy lyk asof jy … wel, as jy so ongelukkig lyk nie.”
Sy forseer haarself om opgewekter te lyk. “Jy’s reg. Sal ons dan so maak? Vir almal sê ons is verloof?”
“Ek dink so. Kyk wat die reaksie is.”
Sy kou aan haar onderlip. “Behalwe Elizma. Ek sal haar die waarheid vertel. Sy sal dit buitendien nie glo nie, sy ken my mos. Wat gaan jy doen as Jack jou wil doodslaan?”
“Ek dink nie hy sal dit doen nie.”
“Ek hoop nie so nie.” Sy lag. “Behalwe dat ons dan sal weet ons plan het geslaag, nè? As hy só kwaad word dat hy …” Sy bly stil. “Nie dat ek dit sal toelaat nie,” sê sy plegtig.
Hy kyk haar vir ’n lang oomblik aan. “Dis nie nodig dat jý my beskerm nie, Nicolette.”
Hoofstuk 5
Elizma is nog nie terug toe Nicolette die voordeur van hulle woonstel oopsluit nie. Philip dra haar bagasie vir haar in en maak dadelik aanstaltes om te loop.
“Kan ek nie vir jou iets maak om te drink nie?” vra sy.
“Nee dankie.”
Sy steek haar hand uit en gee hom ’n ferm handdruk. “Baie dankie dat jy saamgekom het, Philip. En dat jy ingewillig het om saam te speel. Ek waardeer dit en ek hoop ek kan eendag ’n klip uit jou pad rol.” Sy sit haar hand op haar hart. “As ons klaar is hiermee , gaan ek kyk of ek jou meisie … wat is haar naam?”
“Amelia,” sê hy.
“Gaan ek kyk of ek jou Amelia tot haar sinne kan bring. Dit sal my groot tevredenheid gee.”
“Dankie,” sê hy. “Ook dat jy my saamgenooi het. Kan ek nie bydra tot die koste nie?”
“Nooit,” sê sy en kry ’n glinstering in haar oë. “Jack het betaal, nie ek nie, en dis jy wat al jou brandstof uitgery het.”
“Lekker slaap,” sê hy en loop uit.
Sy pak uit terwyl haar badwater loop en het net uitgetrek om in die bad te klim toe die deurklokkie weer lui. ’n Oomblik lank bly sy net so staan, haar kamerjas los in haar hand. Elizma sal nie die klokkie lui nie, sy het mos ’n sleutel. Dit kan net Jack wees en vir ’n konfrontasie het sy nou glad nie krag nie. Môre miskien, as sy haar storie agtermekaar het.
Sy loop suutjies tot by die voordeur en loer deur die ogie. Dis Philip, nie Jack nie. Sy trek vinnig haar kamerjas toe en knoop die gordel vas voor sy die deur oopsluit.
“Jammer,” sê hy verleë toe hy haar kaalvoet sien staan.
“Ek wou net in die bad klim. Het jy iets vergeet?”
“E … nee. Kan ek net vir ’n sekonde inkom?”
“Natuurlik.” Sy staan eenkant en maak die deur agter hom toe.
Hy vroetel in sy sak en haal ’n klein fluweeldosie uit. Dis nie nuut nie; dis om die waarheid te sê so oud dat die fluweel byna heeltemal afgeslyt is. “Dit sal meer geloofwaardig wees as jy ’n ring dra.”
“Haai, nee, Philip,” sê sy ontstem. “Dis nie nodig nie en die laaste ding wat ek van jou verwag.”
Hy knip die dosie oop. “Die ring was my oorlede ouma se verloofring. Ek het my oupa se name, sien, en toe my ouma dood is, het sy die ring vir my nagelaat.”
“Ja, maar die idee is seker dat dit vir jou toekomstige vrou bedoel is, Philip!”
“Ons verlowing gaan meer gewig dra as daar iets tasbaars is soos ’n ring,” sê hy en hou die dosie uit na haar.
Sy kyk af. Dis die fraaiste ring wat sy nog gesien het. Sy het nog altyd van antieke juwele gehou en hierdie ring is ’n meesterstuk. In die middel is ’n kleinerige diamantjie, maar dis omring van opale, klein robyntjies en pêrels. Vir haar lyk dit na ’n miniatuurbossie blomme. “Dis pragtig!” roep sy.
Hy trek die ring los van sy verweerde kussinkie en hou dit uit. “Gee vir my jou hand.”
Sy gehoorsaam omdat sy haarself nie kan help nie. “Maar dis te kosbaar,” protesteer sy nog.
Hy glip die ring oor haar vinger. “En dit pas,” sê hy tevrede. “Ek was bang dis te klein of te groot. My ouma het dun vingers gehad.”
Sy kyk verstom na die ring. “Dit is miskien bietjie styf,” gee sy toe. “Maar ’n goeie ding, sou ek reken. Sal nie maklik afval nie.” Sy voel versigtig oor die steentjies met haar ander hand. “Philip,” sê sy onstuimig en kyk op na hom. “Jy kan dit nie doen nie. Dis net ’n speletjie en hierdie ring is … is net te mooi. Dis bedoel vir jou regte verloofde,