Christine le Roux Omnibus 8. Christine le Roux
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Christine le Roux Omnibus 8 - Christine le Roux страница 9
Sy maak haar mond oop en toe. “Verloof?” vra sy oplaas.
“Ek dink so.” Hy spring van die rots af. “Kom. Weet jy, dis al eenuur? Ons kan sommer ’n broodjie eet, dan kan jy slaap. Vanaand braai ons.”
Sy staan op met knieë wat lammerig voel en begin weer stap. “Wil jy nie ook slaap nie?” vra sy om iets te sê.
“Nee, ek slaap nooit in die dag nie. Ek het ’n boek saamgebring om te lees.”
“E … ja,” sê sy oorstelp en is baie bly toe hulle skielik oor ’n kruin stap en die hut voor hulle op die gelykte sien staan.
“Jy lyk uitgeput,” sê hy simpatiek.
“Ja,” sê sy dronkerig. “En ek is nie honger nie. Maak vir jou iets, ek gaan nou lê.”
Hoofstuk 4
Nicolette raak nie dadelik aan die slaap toe sy gaan lê nie. Daar is reuke om aan gewoond te raak; die warm reuk van die kreosoot waarmee die hout behandel is, iets kruidagtigs soos boegoe wat van buite af deur die oop venster inwaai op die liggies bewegende lug. En dis so stil dat dit haar amper hinder. Sy is gewoond aan die dreuning van verkeer of sirenes wat loei. Stemme wat roep, musiek wat speel. Nou is sy net bewus van ’n suising, die ritseling van plante wat beweeg, die skielike gekraak van die hout wat warm word. Sy hoor ’n stoel buite op die stoepie en dan ’n ligte kuggie soos Philip hom tuismaak met sy boek en sy voel onverklaarbaar asof sy op ’n eiland staan waarvan die grond al om haar weggekalwer word.
Sy het haar misgis met Philip. Die man wat onbeholpe en vervaard opgespring het in sy kantoor toe sy instap, is die man wat sy ken. Wat sy gedínk het sy ken. Die een wat direk daarna oorgeneem het met besluite oor wie watse kos of drank bring, is klaar nie die Philip wat sy gedink het hy is nie. Dis hierdie nuwe een wat al heeloggend in beheer is en sy het gedink dit gaan sý wees.
Goeie ou Philip, is hoe Jack altyd na hom verwys. Sal nie ’n vlieg kwaad doen nie, ’n regte ou staatmaker. Dis nie dat sy nou skielik dink hy gaan vlieë se vlerke begin aftrek nie, dis net dat hy nie so onbeholpe is soos sy gedink het hy gaan wees nie. In haar halfwakker toestand probeer sy situasies oproep waar sy hom in aksie gesien het, maar sy kan nie. Hy was net dikwels in die geselskap. Daardie aand toe Jack haar alleen gelos het op die troue het sy nie eens geweet Philip tel ook onder die gaste nie. Sy moet hom sekerlik daar gesien het, dit het net nie tot haar deurgedring nie. Hy was net skielik langs haar toe sy agterkom die gaste begin min word en Jack is weg en sy is gestrand. En hy het haar huis toe gebring.
“Ek het mos geweet Philip sal na jou kyk,” het Jack geprotesteer in die rusie wat hierop gevolg het. “Jy was in veilige hande.”
Sy ruk die kombers op oor haar ore en dommel weg. Wat maak dit tog saak? is haar laaste gedagte. Hulle is op die berg waar sy wou wees en dit lyk nie of Philip kwaad is omdat sy hom so skaamteloos gebruik het nie. Hy weet nou hoe sake staan en hy … en sy sal later vir hom vra …
Toe sy so halfvier wakker skrik, is sy heeltemal deurmekaar. Sy knip haar oë en lê en kyk na die donkerbruin houtmure, die afdruk van ’n bos blomme in ’n eenvoudige raam teen die oorkantste muur. Sy spring op toe sy besef waar sy is, skuldig dat sy so lank geslaap het, en nadat sy haar gesig gewas en die borsel deur haar hare getrek het, stap sy na buite.
Philip lê agteroor in die stoepstoel, ’n boek op sy skoot, sy kop vorentoe en sy bril heeltemal skeef. Vas aan die slaap. Sy kyk hom goediglik aan en loop weer binnetoe om die gasstofie aan te steek en tee te maak. Toe sy weer buite kom, het hy wakker geword van die geluide. Sy bril lê op sy been en hy vee oor sy oë en oor sy hare.
“Genugtig,” sê hy verleë toe hy haar sien.
“En ek dog jy slaap nooit bedags nie,” terg sy en gee sy tee vir hom. “Jy moes gaan lê het, ek het soos ’n dooie geslaap.”
“Moet die berglug wees,” mompel hy.
“Inderdaad, ja.” Sy gaan sit ook. “Jy was fluks,” sê sy en wys na die geroeste braai wat hy al nader gesleep het en waarin fynhout, opgefrommelde koerantpapier en houtskool klaar netjies gepak is, reg om aangesteek te word.
“Dis hoe ek die vaak probeer besweer het.”
“En nou is ek nogal honger,” sê sy.
“Sal ek die vuur nou aansteek?”
“Nee, dis nog te vroeg,” protesteer sy. “Ek dink Elizma het van haar ma se beskuit ingesit. Wil jy hê?”
“Dankie.” Hy vryf nog oor sy wange en ken asof hy bang is hy lyk slordig.
Toe sy weer sit en afgetrokke die beskuit in haar tee doop, kyk sy na hom. “Wat bedoel jy ons moet verloof raak?”
“Dis bloot na aanleiding van wat jy gesê het.” Hy trek sy vingers deur sy hare, maar ongelukkig in die verkeerde rigting sodat hy verwilderd lyk. Sy wys hom nie hierop nie, hy lyk meer bekend so. “Jy is baie lief vir hom, is jy nie?”
“Ja.”
“En hy vir jou.” Dis nie ’n vraag nie, hy konstateer net die feit.
“Natuurlik.”
“Maar jy voel hy beskou jou as te vanselfsprekend en moet ’n les geleer word.”
“Wel, ek wil hê hy moet skrik.”
“Hy sal skrik as jy vir hom sê ons is verloof.”
Sy sit en kyk hoe ’n klein voëltjie met vinnig vibrerende vlerkies van een blombos na die volgende wip. “Nee, hy sal dit net nie glo nie. As jy vir iemand lief is, gaan jy nie vir twee dae weg en kom verloof aan die ander persoon terug nie.”
“Dis waar,” stem hy saam. “Jy sal kreatief moet borduur. Jy is mos ’n kreatiewe mens, dis jou werk.”
“Ek sal verskriklik kreatief moet wees,” sê sy en besef dit kan beledigend klink. “Jy weet wat ek bedoel. Nie omdat dit jy is nie, net omdat ek … wel, ek het twee jaar laas met iemand anders uitgegaan, waarom sal ek so skielik besluit my hart lê by iemand anders?”
“Mm,” sê hy en staan op.
Hulle trek baadjies aan omdat dit nou nogal koel word en gaan stap ’n ver ent al op die kruin wat nie baie klimwerk vereis nie. Toe die son agter die westelike pieke wegsink, stap hulle terug na die hut, waar hy die vuur aansteek en sy aartappels gaarmaak op die gasstoof. Terwyl sy die slaai maak, staan hy by haar en geur die vleis.
“Sal ek vir ons wyn oopmaak?” vra hy.
“Dit sal lekker wees.”
’n Rukkie later dra sy haar wynglas na buite en hy trek dadelik haar stoel nader aan die vuur. Sy sit en kyk hoe die lug donkerder word en die eerste sterre verskyn en dis vir haar onmeetlik rustig. Die vorige keer toe sy en Jack en sy groep vriende hier was, was dit nooit stil nie. As hulle nie geklouter en gestap het nie, het Jack en die ander mans op die gelykte bal gegooi of krieket gespeel. Sy onthou hoe dislojaal sy gevoel het omdat daar na haar mening te veel lawaai was, te veel beweging. So ’n klomp mense in die relatief klein hut het haar geïrriteer. Daar was heeltyd harde stemme en aktiwiteit. Sy kon nooit terugsit soos nou en net die stilte indrink nie.
“Ek