Christine le Roux Omnibus 8. Christine le Roux
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Christine le Roux Omnibus 8 - Christine le Roux страница 5
“Herman,” sê sy in ’n klein stemmetjie. “Is dit regtig … ek bedoel, is dit net jy wat so dink of wat so sê om my te treiter of is dit … almal se siening van my?”
Hy draai sy kop en kyk na haar regop rug. “Man, ek sou nogal dink dis ’n algemene siening.” Sy stem is ernstig maar simpatiek. Sy kan hoor hy is nie meer besig om te terg nie.
“Almal dink ek gehoorsaam as Jack sy vingers klap?”
“Nie heeltemal so erg nie,” probeer hy iets red uit sy onbesonne uitlatings. “Ek meen, jy is mal oor die man en hy oor jou en dis nie ’n verbygaande ding nie, julle is al hoe lank saam en ek sou reken die meeste meisies sal al hulle verstand verloor en net gaan lê as Jack in hulle rigting sou kyk. Jy weet? Niemand sien jou as ’n ruggraatlose ou dingetjie nie. Nee, daarvoor is jy te sterk.”
“Maar julle dink tog ek …”
“Vergeet wat ek gesê het,” sê hy. “Jy ken my, altyd besig om jou te terg.” Hy rol sy stoel weer tot by haar en sit sy arm om haar stywe skouers. “Okei? Jy ken my mos. Daar’s niks fout met jou en Jack nie. Vertel my liewer meer van hierdie stoute naweek waaroor jy en Elizma bespiegel.”
Sy glimlag flouerig. “Ek’t gesê dit was ook net ’n grap. Toe, ons moet werk. Van die hele oggend sit en klets, kom ons nie klaar nie.”
Hy gee haar ’n laaste ondersoekende kyk, maar sy is terug voor haar skerm en duidelik nie van plan om verder te praat nie. Hy wens hy het dit nie gesê nie. Hy is baie erg oor Nicolette en hulle werk al jare lank saam in die beste gesindheid en sonder die opvlieënde onderonsies wat deel is van ’n kreatiewe span wat gewoonlik onder hoë druk moet produseer.
Teen die middel van die namiddag staan sy op, tel haar handsak op en kyk na hom. “Ek moet gou iemand gaan sien,” sê sy vriendelik. “Sal nie lank weg wees as iemand dalk na my soek nie.”
“Okei,” sê hy, bly om te sien sy lyk weer soos haar ou self.
Op pad na die hysbak trek Nicolette ’n kam deur haar dik hare en smeer gou ’n bietjie lipstiffie aan. Sy is doodseker Philip sal nie die verskil sien nie, maar dit laat haar meer gewapen voel. Sy ry die een verdieping af, stap uit en loop die gang af na die glasdeure aan die punt.
Die ontvangsdame kyk vraend op toe Nicolette voor haar staan. “Is Philip in?” vra Nicolette en dink vinnig. “E … meneer … e … De Waal,” onthou sy.
“Seker,” sê die meisie. “Wie sal ek sê?”
“Nicolette. Ek sal nie lank wees nie.”
“Stap maar deur. Die laaste deur aan die linkerkant.”
Philip sit agter ’n lessenaar wat heeltemal begrawe lê onder stapels en stapels papiere en lêers en boeke. Sy kan skaars vir hom of sy rekenaar sien.
“Middag,” sê sy.
Hy spring regop, sy stoel skiet agteruit en bons teen die ingeboude rak agter teen die muur. ’n Paar lêers gly van hulle torings af en val op die mat. “Nicolette,” sê hy. “Middag. Ek … waar kom jy … ek het nie geweet jy is …”
“Ek is jammer ek het jou laat skrik,” sê sy en glimlag breed. “Julle ontvangsdame het gesê ek kan maar deurstap.”
“Natuurlik. Asseblief. Ek sal …” Hy kom om die lessenaar, tel die lêers op en haal nog ’n hoop van die ander stoel af. “Sit, asseblief.” Hy het nie sy baadjie aan nie en haas hom om dit van die kapstok in die hoek te kry en aan te trek.
“Dis nie nodig nie, Philip,” keer sy. “Ek wil nie steur nie.” Sy gaan sit oorkant sy lessenaar en vou haar hande vroom op haar skoot, al vermoed sy haar beeld word dalk geskend deur die kort rompie wat sy dra. Maar die lessenaar versteek dit tog.
“Wat kan ek vir jou doen?” vra hy. Sy rondvallery het sy hare oor sy voorkop en in sy oë laat val en sy bril sit skeef. Hy druk dit reg, vee met sy plathand oor sy kuif en gaan sit ook. “Is dit belasting?” vra hy.
’n Oomblik lank weet sy nie waarvan hy praat nie. “Belasting? My belasting is lankal weggestuur. Dis dan al Mei.”
“Ja, maar party mense … ek bedoel, jy kan uitstel kry as die saak gemotiveer kan word.”
“Nee, nee,” sê sy en glimlag breër om hom gerus te stel. “Ek het jou oor iets heeltemal anders kom sien.”
Hy sit na haar en kyk, sy lyf stil en sy hande op die blad gevou. “Ek sal probeer help.”
Sy is skielik verleë en soek na die regte woorde. “Dis seker baie kort kennisgewing en jy kan dink ek is ongeskik om nou eers met so ’n …” Sy haal diep asem en kom tot die punt. “Is jy besig hierdie naweek?”
Sy oë rek effens. Grysblou oë, sien sy. “Hierdie naweek? Nee.”
“Ek het gewonder of jy nie … Jy sien, ons het hierdie hut in die berge bespreek en … wil jy nie saamkom nie?” Sy sien dat hy nie weet wat om te sê nie en gaan vinnig voort. “Dis baie rustig. Dit behoort aan iemand wat iemand van Jack se familie ken en ons was al vantevore daar en dis regtig baie … rustig.” Sy verwens haarself dat sy so onbeholpe is. “Wel, jy weet, daar is nie mense of lawaai of … enigiets nie. Ook nie eintlik baie om te doen nie behalwe om te stap. Hou jy van stap?”
“Ja,” sê hy.
“Wel, mens kan lekker stap. Ons het al vantevore ’n piekniekmandjie gepak en dan ver geloop en in een van die klowe piekniek gehou en dis … wel, baie mooi. Daar is so ’n dun watervalletjie en altyd blomme en heide en so.”
“Dit klink baie mooi.”
Sy sug van verligting. “Sal jy wil saamgaan? Ons kan Saterdagoggend vroeg ry as dit jou pas. Ek meen, ons kan Vrydagmiddag al ry en ons het dit vantevore al gedoen, maar dit werk nie so goed nie. Jy sien, daar is natuurlik nie elektriese krag nie en as mens in die donker daar aankom, is dit ’n gefoeter om lampe en kerse aan die brand te kry en in die donker die paraffienyskas aan die gang te kry en … Jy kan dink, ’n gesukkel. Saterdagoggend is eintlik beter, veral as ons vroeg ry sodat ons nog die hele dag het. Maar as jy dink ons moet Vrydagmiddag ry, is dit goed.”
Hy knip sy oë agter sy brillense. “Saterdag klink reg.”
Sy begin ontspan. “Persoonlik hou ek van regtig vroeg opstaan en ry. Weet jy, sommer vyfuur al. Dis so twee uur se ry van hier af en daardie tyd van die oggend is dit baie mooi as dit begin lig word en die mis hang nog in die valleie.”
“Ek staan altyd vroeg op.”
“Dan is dit uitstekend,” sê sy. “Vyfuur voor jou deur. Jy moet my net jou adres gee.”
“Jack weet mos waar ek bly.”
Sy wip, maar bly glimlag. “O, hy is hopeloos met sulke dinge. Gee dit liewer vir my.”
Hy draai sy kop effens skeef en kyk na haar asof sy nie goed wys is nie. “Dis dan in dieselfde gebou as jy en e … Elizma.”
Sy is so verbaas dat sy haar asem insuig en haar stem met ’n