Christine le Roux Omnibus 8. Christine le Roux
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Christine le Roux Omnibus 8 - Christine le Roux страница 2
“Natuurlik.”
“En wat was sy reaksie?”
“Wat dink jy? Hy het my gesoen en my hare deurmekaar gevryf en gesê, ag, pop man, jy kan mos verstaan dat ek nie weer so ’n kans gaan kry nie. Asof daar nooit weer ’n kreef in die see gaan swem nie. Asof hy nie kort-kort op iemand se boot uitgaan nie!”
“Mm,” sê Elizma weer. “Ek verstaan hoe jy voel, maar nooi nou maar vir Jeanine saam? Julle kom mos goed klaar.”
“Ek dink nog oor die saak,” sê Nicolette. Sy is nou geïrriteer met die verknoopte stringe in haar hare en ruk haar vingers deur om alles weer uit te kam.
Elizma sit haar leë koffiebeker neer en tel die rooi pen sugtend op.
“Ek meen, kyk na my!” gebied Nicolette.
Elizma gehoorsaam. Dat Jack op Nicolette verlief geraak het, verbaas haar ook nie. Nicolette is nie baie lank nie en sy is fyn gebou, maar haar figuur sou enige model jaloers maak. Vir Elizma wat mooi dophou wat sy eet en veg teen heupe wat daagliks dreig om kante toe uit te sit, is dit onverstaanbaar dat iemand soos Nicolette kan eet wat sy wil en altyd lyk soos sy lyk. Mooi bene, skraal heupe, elke ding op sy regte plek en in die regte proporsie. Die hartvormige gesig met die groot grys oë en lang wimpers. Die dik hare, net reguit genoeg, maar darem met ’n golwing in. Sy kan dit was en in die son laat droog word en dit lyk perfek. Sy sit nie soos Elizma ure by die haarkapster sodat iemand ’n bietjie krul in haar donsige ou haartjies kan sit nie. Nee, dat Jack en Nicolette in mekaar se arms beland het, verbaas niemand nie. Hulle is vir mekaar gemaak.
“Waarna spesifiek moet ek kyk?” vra sy geamuseerd. “Jy lyk vir my so mooi soos altyd.”
“Dis nie wat ek bedoel nie. Wat ek wil weet, is: Lyk ek vir jou na die soort meisie wat toelaat dat ’n man haar so behandel?”
“E … nee. Jy staan op jou regte.”
“Presies. Ek is ’n vrou van die nuwe millennium. Jy ook. Ons voel eenders oor die saak. Ons trou nie net omdat dit die enigste uitweg is vir ’n vrou nie.”
“Dis waar. Ek is mal oor Heinz.”
“En hy oor jou. Met goeie rede. Jy is ’n vrou duisend.”
“Dankie,” lag Elizma. “Kan ek nou verder nasien?”
“Eers as jy met my saamstem dat Jack ’n les geleer moet word.”
“Jong, ek is bang vir lesse. Dit werk nie altyd nie.”
Nicolette trek haar oë op skrefies en tik met haar vingerpunt teen haar lippe. “Jy sal saamstem dat hy nogal jaloers is.”
“Ja. Alle mans is.”
“En ek gee hom nooit rede om jaloers te wees nie.”
“Nee.”
“Ek verpes vroue wat speletjies speel.”
“Dis so.”
“Maar dis nie die eerste keer nie. Die troue was die eerste keer. Daarna was daar Roelof se partytjie. Onthou jy? Jack het net gebel en gesê hy sit êrens vas, sy fiets het ’n ernstige gebrek ontwikkel.”
“Foeitog, jy kan hom nie daarvoor blameer nie.”
“Hy het sy motor gehad. Hy kon die fiets ingelaai en huis toe gekom het. Dis nie asof hy in die boendoe gestrand was nie, die fout het gekom aan die einde van die wedren.”
“Miskien,” gee Elizma toe.
“En die kere dat ons in die bioskoop gesit en hy net uitgeloop het.”
“Maar jy weet Jack kan nie stilsit nie. Hy hou nie van fliek nie.”
“Ek weet, hy het die konsentrasie van ’n driejarige as dit kom by flieks of konserte. Ek blameer hom nie daarvoor nie, maar hy is nie eerlik nie. Aan die begin wou hy hê ek moet saam met hom fietsry of marathons hardloop en ek het nee gesê. Ek hou nie daarvan om warm en sweterig te raak nie. En bote maak my seesiek. Hy weet dit. Ek gaan nie saam en trek dan halfpad kop uit nie. Dis wat hý doen. Hy lees van ’n sekere fliek of hoor by sy vriende daarvan en dis hý wat sê ons moet gaan. Hy verseker my oor en oor dat hy dié keer gaan bly sit en dit gebeur net nie. Ek kom altyd alleen uit en moet dan buite rondsoek na hom. Dis waarom ons nou altyd in my motor gaan. As ek hom nie in ’n koffieplek of restaurant buite die bioskoop kry nie, ry ek huis toe. Dis ons ooreenkoms.”
“Hy’t jou darem net die een keer gestrand gelos.”
“Een keer was genoeg,” sê Nicolette ferm. “Ek het my malle mik af gesoek na hom en almal het my bejammerend aangekyk en op die ou end moes ek ’n taxi kry om by die huis te kom.”
Elizma onthou dit nog goed. Die rusie wat op hierdie insident gevolg het, het byna die plante in die woonstel laat vrek. En Jack het lank hierna in sy spore getrap en arms vol blomme afgelaai voor Nicolette hom vergewe het.
“As dit vir ’n ander meisie was, het ek hom lankal uitgeskop,” sê Nicolette. “Maar dis nooit ’n meisie nie, dis ’n sportsoort. Onthou jy daardie aand? Hy sê hy het skielik in die bioskoop besef dis een of ander wedstryd op televisie en sy plan was om uit te glip, daarna te gaan kyk in ’n sportkroeg en betyds terug te wees om my te kry as die fliek uitkom. Behalwe dat dit toe te lank aanhou en hy half van my vergeet.”
“My pa kan ook so raak,” sê Elizma. “As my ma hom roep om te kom eet.”
“Dit tel nie, hy’s darem in die huis.”
“Ek veronderstel so,” sug Elizma. “Hoe wil jy hom straf?”
“Ek dink hy moet ordentlik skrik. Ek het al vantevore gedreig om hom te los, dan is hy baie boetvaardig vir ’n hele ruk, maar dis nie genoeg nie. Hy weet alte goed ek is lief vir hom.”
“Hy is baie lief vir jou ook.”
“Ek weet. Dis net tyd dat hy skrik. Dis tyd dat hy tot ’n punt kom en dit was die hele idee van hierdie naweek. Hý het gesê ons moet oor ons toekoms praat, ons moet ons trouplanne agtermekaar begin kry. Nie ek nie.”
“Daar sal ander geleenthede wees.”
“Dis wat hy gesê het, ja, maar ek begin voel soos een van daardie vloerlapperige vroue. Die soort waarop getrap word. Die soort wat aanmekaar verskonings maak. En ek is nie so nie.”
“Ek weet.”
“Jy stem dus saam?”
Elizma sug swaar. “Jong, ek sê mos. In my ondervinding werk sulke planne nooit nie. Onvoorsiene dinge gebeur.”
“Ek sal nie onnosel wees nie,” sê Nicolette. Sy trek haar bene op en vou haar arms om haar knieë. “Ek sal die saak mooi uitdink. Dit moet iemand baie onskuldig wees, iemand wat nie komplikasies sal veroorsaak nie.”
“Praat jy van ’n man?” vra Elizma skepties.
“Natuurlik. Ek wil hom jaloers maak en dit sal nie gebeur