Christine le Roux Omnibus 8. Christine le Roux
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Christine le Roux Omnibus 8 - Christine le Roux страница 4
Sy rek haar oë. “Kwaad?” vra sy. “Waarom sal ek dan kwaad wees?”
Hy stap verby haar na hy die voordeur toegedruk het en leun gemaklik teen die boekrak wat die eetgedeelte van die sitkamer skei. Met die sekerheid van iemand wat ’n plek goed ken en daarvan deel is, vat hy ’n hand vol grondboontjies uit ’n bakkie en skiet hulle een vir een in sy mond. “Oor die naweek,” sê hy kouend.
“Nooit,” sê sy ligweg. “Ek sien baie uit daarna.”
“Laas was jy vies.”
“Nie meer nie,” verseker sy hom. “Ek het ander planne en ek gaan lekker uitrus vir die twee dae.”
“Het jy iemand gekry om saam met jou te gaan?”
“Ek dink so. Sal môre vir seker weet.”
Hy los die grondboontjies, kry ’n piesang in die vrugtebak en skil dit af. “Dis wonderlik, pop. Ek het sleg gevoel … wel, ek sou sleg gevoel het as jy by die huis moes sit.”
“Nee wat, dis glad nie nodig nie.”
Hy rek sy gespierde lyf uit, die halfgeëte piesang in een hand. “Ek moet eerlik sê ek was nie mal oor die idee van net sit vir twee dae lank nie. Jy ken my, ek wil iets doen. Mauritz se plan om met die boot uit te gaan, is meer my soort ding.”
“Regtig?” sê sy, haar oë op skrefies. “Jy is natuurlik nie so moeg soos ek nie.”
Hy gooi die leë piesangskil argeloos terug in die vrugtebak en vee oor sy mond. “Moeg, ek? Nooit nie!”
Nicolette voel ’n harde kolletjie in haar binneste. Hy was nooit van plan om die naweek te gaan nie, besef sy. Hy het haar laat dink hy het ook so ’n rustige wegbreeknaweek nodig, maar dit was nooit die geval nie. Sy sal haar nie verbaas as hý vir Mauritz genader het nie. En moeg is hy ongetwyfeld nie. Die res van hulle werk hulle dood, dikwels tot baie laat in die nag, maar nie Jack nie, al is hy een van die drie base.
Die drie J’s noem die personeel hulle. Jason en James is heelwat ouer, in hulle vyftigerjare sou sy skat, en die eintlike ruggraat van die maatskappy. Jack se pa was die derde vennoot en al het sy hom nooit geken nie, praat van die ouer mense nou nog met ontsag van hom. Sy kreatiwiteit het geen grense gehad nie, hy is die een wat die firma opgebou het tot een van die top reklamemaatskappye in die land. Hy het dag en nag gewerk as ’n nuwe konsep hom getref het en dis hoe hy dood is. ’n Onverwagte hartaanval op ’n baie jong ouderdom eintlik. Jack het sy pa se plek gevul en al is sy nou kwaad vir hom, moet sy erken hy bring sy deel as dit nodig is. Dis nie dikwels nie, maar hy het sy pa se skerp kop as dit kom by die beoordeling van ’n konsepidee. As hy sê iets gaan werk, is dit ’n wenner. Sy dink partykeer dis al waarvoor die ander twee J’s hom gebruik, want werklike harde werk voor sy rekenaar of tekenbord is nie Jack se styl nie.
“En nou?” vra hy toe hy sien hoe peinsend sy na hom kyk.
Sy skud haar kop. “Nee, niks nie. Kan ek vir jou iets maak om te drink?”
“Nee,” sê hy. “Ek is eintlik op pad gim toe. Het net ingeloer om seker te maak jy’s nog lief vir my.”
“Is dit dan belangrik?”
Hy lag uitbundig oor die stywe antwoord. “Nie regtig nie, pop. Ek weet mos jy aanbid die grond waarop ek loop.”
“Is dit so?”
Hy beweeg terug in die rigting van die deur. “O, my tyd, jy is tog kwaad vir my. Hoor net die koel woorde.”
“Ek is nie kwaad nie, Jack. Glo my.”
“Jy weet ek is mal oor jou,” sê hy, soen haar op haar kroontjie en waai by die deur uit.
Sy bly staan ná hy weg is. “Ons sal sien,” sê sy hardop en stap terug na haar kamer.
Die volgende oggend sit sy en Herman soos altyd met hulle rûe na mekaar voor hulle rekenaars. Sy staan op en terwyl sy oor die tekentafel buk en vorms en papiere rondskuif om haar gedagtes te orden, praat sy.
“Wat sou jy dink as ’n meisie jou vra om die naweek saam met haar weg te gaan, Herman?”
Hy draai die radio sagter wat langs hom speel en wiel sy stoel ’n ent weg sodat hy haar kan sien. “Ek sal die sjampanje inpak en my regmaak vir ’n naweek van wilde seks.”
“Regtig,” sê sy suur. “Is dit hoe jy dit sal sien?”
“Natuurlik, hoe anders?”
“Sal jy nie byvoorbeeld dink sy wil sommer net ’n vriend saamnooi vir ’n rustige paar dae nie?”
“Nee. Hang seker af van die meisie.”
“Wel, gestel dis ek.”
“Wat my saamnooi?”
“Ja.”
“Ek sal die sjampanje inpak en my regmaak vir ’n …”
“Jy’s verspot,” sê sy vies.
Hy lag. “Jy weet ek dink jy is net te oulik vir woorde en ’n hele naweek alleen saam met jou sal …”
“Vergeet dat ek gevra het,” sê sy.
Maar sy belangstelling is nou geprikkel. “Hoekom vra jy?
Wat voer jy in die mou?”
“Niks nie,” sê sy. “Ek en Elizma het sommer nou die aand gepraat oor mans en hulle … en julle stuitighede en ons het gewonder wat … Dit was niks nie. Ek het net belang gestel om te hoor wat jy dink.”
“En noudat jy weet, sal jy my saamnooi?”
“Nee.”
“Ag,” sug hy teatraal. “Ek het my mond verbygepraat.”
Sy gaan sit weer agter haar rekenaar en wikkel haar skouers om hulle te ontspan. “Gaan aan met jou werk, Herman. Hoe lyk die logo op die nuwe briefhoofde?”
“Jy kan kyk,” sê hy en wys na sy skerm. “En ek het geweet jy vra net ’n teoretiese vraag, jy sal tog nie hik sonder dat onse Jack sy toestemming gegee het nie.”
Sy ruk haar rug regop en sit ’n oomblik lank stokstyf. Met moeite dwing sy haar stem om onbelangstellend te klink. “Is dit wat julle dink?”
“Dis wat ons wéét.”
“Dat ek na Jack se pype dans?”
“Ek weet nie of dit is soos ek dit sou stel nie, maar ja. Jy doen wat Jack wil doen.”
“Jy laat my klink soos ’n skoothondjie.”
“Is so,” stem hy saam. “As Jack sy vingers klap en sê ons gaan nou stap, is jy by met die leiband in jou mond.”
Sy is so geskok dat sy