Christine le Roux Omnibus 8. Christine le Roux
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Christine le Roux Omnibus 8 - Christine le Roux страница 3
Elizma lag hardop. “Jack bang? Hy het nie ’n bang haar op sy kop nie.”
“Nie bang in daardie sin nie. Hy moet bang word dat hy my gaan verloor. Nee, hy moet gló hy gaan my verloor. Dit moet ernstig wees.”
“Jy speel met vuur.”
“O nee, ek weet wat ek doen.” Nicolette wip van die vensterbank af en tel die twee leë koffiebekers op. “Toe, ek los jou nou met jou nasienwerk. Jammer dat ek jou uit die werk gehou het.”
Elizma begin die volgende opstel lees, maar sy vind dit moeilik om te konsentreer. Sy is nie ’n vurige of dramatiese mens nie en Nicolette is. Dis waarom hulle mekaar so goed aanvul. Sy wat Elizma is, het vir Heinz in die personeelkamer ontmoet. Hy was die senior Wiskunde-onderwyser en sy die nuweling. Hulle het langs mekaar gesit en tee drink en ná maande van gesels tydens pouses of personeelvergaderings het hy haar na skool genooi vir koffie en mettertyd etes of ander gesellighede en so kuier-kuier het hulle besef hulle is lief vir mekaar en wil trou nes hulle genoeg gespaar het vir die deposito op ’n huis. Daar was geen dramatiese hoogtes en laagtes nie. Hulle vertrou mekaar, pas by mekaar, voel dieselfde oor byna alles. Die blote idee dat sy hom moet probeer vermaak deur met ’n ander man uit te gaan, laat haar gril.
Toe sy die laaste opstel klaar gelees het, skuif sy die stapel in ’n netjiese hopie, sit dit in haar tas en vee die tafelblad met haar hand skoon. Uit die kombuis kom wonderlike geure.
“Tjops, mieliekoekies en slaai,” sê Nicolette, wie se beurt dit vandag is om ete te maak. “Is dit reg?”
“Lekker,” sê Elizma en rek haar uit. “Ek is honger.” Sy wys na die rook wat uit die pan trek. “Moet jy nie die tjops omdraai nie?”
Nicolette skrik wakker en draai hulle gou. “Jammer, ek is ingedagte.”
“Vergeet van die wraakplanne,” sê Elizma ernstig. “Dit gaan nie werk nie.”
Nicolette draai haar groot oë onskuldig na haar vriendin. “Ek het niks van wraak gesê nie.”
“Maar dis wat jy wil doen.” Sy tel ’n tamatieskyf op en eet dit.
“Nee, nee, jy sal sien. Jack het gesê hy is regtig jammer dat hy nou die naweek moet afstel, maar dit sal hom regtig ongelukkig maak as ek ook by die huis bly. Vat iemand anders saam, het hy gesê. Ons het tog klaar betaal en alles.” Haar grys oë blink. “Dis al wat ek gaan doen. Iemand anders saamneem.”
“Daar broei onheil in jou oë,” sê Elizma. “Ek sien dit.”
“Nee, ek gaan ’n man saamvat.”
“Watse man? Jy wil tog nie die naweek met ’n wildvreemde man loop sit nie. Watse pret gaan dit wees?”
“Nie ’n wildvreemde nie. Ek het gedink aan Philip.”
Elizma stik in die tamatie en hou haar hand voor haar mond.
“Philip! En dink jy regtig Jack gaan jaloers raak daaroor?”
“Moenie my onderskat nie,” sê Nicolette guitig. “Ek dink Philip sal saamspeel. Ek soek iemand wat bereid sal wees om te speel.”
Elizma draai weg na die wasbak en was haar hande onder die lopende kraan. “Ek dink jy’s mal en moenie sê ek het jou nie gewaarsku nie. Philip is soos ’n broer vir jou en vir Jack. Wat jy hoop om te bereik deur …”
“Sit jy vir ons die borde en messegoed reg,” sê Nicolette onskuldig. “Ek weet wat ek doen.”
Hoofstuk 2
Nicolette sit kruisbeen op haar bed met ’n skryfblok op die deken voor haar. Sy kou aan die pen se punt terwyl sy na die lys name kyk wat sy neergeskryf het. Herman werk saam met haar in die kunsafdeling van die reklamemaatskappy en hy is nie getroud of – sover sy weet – in ’n vaste verhouding nie. En hulle het ’n baie lekker kameraadskap. Hy maak altyd asof hy dolverlief is op haar, maar dis net praat. Sonder twyfel sal hy die naweek saam met haar berge toe gaan, maar die ongeluk is dat Jack hom te goed ken en weet hoe hulle twee, sy en Herman, altyd met mekaar flankeer.
Chris is ’n kollega van Elizma en Heinz en sy dink hy sal ook te vinde wees vir ’n naweek saam. Die probleem met hom is dat sy hom nie vertrou nie. Hy is ’n casanova. Sy het een of twee keer saam met hom uitgegaan, maar gou gesien dit gaan nie werk nie. Hy wou die eerste aand al na haar gryp en alleen saam met hom in ’n berghut sal sy ’n rewolwer by haar moet hou of sy is in die moeilikheid.
Die derde naam op die lys is Philip. Sy buig af oor die skryfblok en trek twee kolomme. Boaan skryf sy: Voordele en Nadele. Onder Voordele kan sy dadelik invul dat hy betroubaar is, dat hy definitief nie na haar gaan gryp nie, dat hy heel moontlik sal instem tot haar plan. Onder Nadele moet sy noem dat Jack eenvoudig sal lag. Hy sal Philip nooit as ’n bedreiging sien nie. Chris wel.
Sy sug. Die een by wie sy veilig voel, gaan nie die doel bereik nie en die een wat Jack wel deeglik jaloers sal maak, gaan haar sedelikheid ernstig bedreig.
Philip is ’n rekenmeester en vennoot in die firma op die agtste verdieping. Die reklamemaatskappy by wie sowel sy as Jack werk, is op die negende verdieping en sy kan nie eens meer onthou hoe en waar sy die eerste keer aan Philip voorgestel is nie. Sy verbeel haar hy doen hulle firma se boeke, miskien is dit hoe sy hom ontmoet het. Hy is wat haar ma sou noem ’n goeie man. Wat voorkoms betref, verskil hy en Jack nie veel nie. Philip is so lank soos Jack, net skraler. Hoe gespierd of bruingebrand hy is, sal sy nie weet nie, sy het hom nog net in ’n pak gesien. En sy hare is bruin, nie swart nie. Watter kleur sy oë is, weet sy nie. So intens het sy hom nog nie bestudeer nie. Waar Jack altyd op die lewe en alle mense afpyl met ’n glimlag en ’n glinstering in sy oë, is Philip skaam. Inkennig. Terughoudend. En tog gesels sy nog altyd baie lekker met hom. Oor enigiets. Oor goed wat Jack vervelig sal vind. Die lewe, politiek, ekologie, enigiets. Philip is haar redding as hulle saam by sosiale geleenthede is, en tog hou Jack van hom. Hulle bewoon uiterste pole; Jack is ’n ekstrovert en Philip ’n introvert, maar sy stilte hinder Jack blykbaar nie.
Sy kou harder aan die pen. Sy weet wat Philip dink oor die lewe, maar sy ken hom nie. Hy laat haar veilig voel omdat hy so solied is. Dis die regte woord. Sy weet hy sal altyd sy woord hou, haar nie om die bos lei nie. Maar Jack sal nie oombliklik jaloers wees nie, juis daarom. En tog … dit kan hom pla. Hy kan dink sy het juis ’n behoefte aan die soliditeit en standvastigheid wat iemand soos Philip haar kan bied.
Sy is amper seker Philip sal saamspeel. Miskien moet sy nie sommer dadelik al haar kaarte op die tafel gooi nie, miskien moet sy eers … Sy ruk toe die deurklokkie lui.
Elizma is uit saam met Heinz, en Nicolette stap voordeur toe en maak oop. Soos altyd slaan Jack haar asem weg. Daar is net iets omtrent sy blou oë, die glimlag, die manier waarop hy sy arms wyd gooi al kyk hy haar nie direk aan nie.
“En wat doen my pop vanaand?” vra hy en soen haar skrams.
“Ek sit sommer hier en … e … dink.”
Hy vryf haar hare deurmekaar. “Dit sal jou hoofpyn gee. Mens moenie te veel dink nie. Waaraan, as ek mag vra?”
“E …” sê sy. “Niks nie.”
Sy trek haar trui reg en druk haar hare terug agter haar ore. “En waar kom jy vandaan? Ek het jou