Ena Murray Keur 9. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 9 - Ena Murray страница 25
“Jy glo my nie?”
“Ek weet soms nie wat om te glo nie, Petra.”
Sy het gelag. “Nou goed. Jy kan self vanaand agterkom of ek die waarheid praat of nie.”
’n Ongemaklike frons het tussen sy wenkbroue verskyn. “Ek sal jou nie na ’n te weelderige plek kan neem nie.”
Sy het begrypend geknik. Natuurlik nie. Hy sal aan sy vrou moet verduidelik hoekom hy op ’n Saterdagaand skielik ’n aandpak aantrek.
Toe Eugene daardie Saterdagaand sy huis binnestap, tref hy sy skoonma nog daar aan. Hy buk en soen sy vrou.
“Lekker gespeel, my skat?” wil Paula weet en probeer glimlag. Haar ma is reg. Sy durf nie selfsugtig wees nie. Eugene het ontspanning nodig. Dis nou al maande dat hulle so gekluister in die huis sit. Weliswaar kom hy bedags uit, met ander mense in aanraking, nie soos sy wat dag ná dag teen die vier mure moet vaskyk nie. Maar ’n man is anders, het haar ma vanmiddag gesê. Eugene werk hard. Hy het ontspanning nodig. Sy kan nie verwag dat hy hier by haar moet sit nie.
“Dit was lekker, dankie. Ek gaan gou stort.”
’n Rukkie later lui die telefoon, net toe Mara op die punt staan om huis toe te gaan. Hy keer haar voor, lyk verleë. “Ek is jammer, maar ek het gewonder …”
“Ja, Eugene? As ek kan help …”
“Dis die hospitaal. Hulle soek my daar. Ek sal seker ’n rukkie uit wees. Kan u nie nog vertoef nie, asseblief?”
Mara glimlag gerusstellend vir haar skoonseun en sit haar handsak weer neer.
“Natuurlik sal ek, my kind. Ek bel net vir Kerneels om te sê hy moet ook hierheen kom. Dan maak ek sommer vir ons almal hier kos. Ek sal joune in die lou-oond bêre.”
“Dankie, Ma.”
Kerneels is op pad uit toe Petra in die sitkamer verskyn. “Is jy dan nie aan diens vanaand nie?”
“Nee. Dis my nag af. Ek gaan ’n bietjie uit … na vriende.”
Hy knik. “Ek gaan na Paula-hulle toe. Mamma het gebel. Eugene moes hospitaal toe. Ons sal daar by haar bly totdat hy terug is.”
“Goed. Paps kan maar sluit. Ek het die duplikaatsleutel. Ek gaan sommer nou.”
Net toe hy in sy motor wil klim, draai ’n vreemde motor by die hek in. Hy kyk die man wat uitklim ietwat verbaas aan, stap dan vriendelik nader.
“Dokter Wagner! Goeienaand. Dis ’n aangename verrassing. Kom gerus binne.”
“Dankie, meneer Prinsloo, maar ek sien u is op pad uit.” Die oë kyk oor Kerneels se skouer na die huis. “Petra tuis?”
“Nee. Ongelukkig nie. Sy is uit. Maar kom gerus ’n oomblik binne. Ek is nie haastig nie; was net op pad na my ander dogter. Dié verwag en haar man is hospitaal toe geroep. Hy is ook ’n dokter. Ons wil Paula nie graag in hierdie stadium lank alleen laat nie.”
“Wat makeer?” Die vraag is skerp.
Kerneels verduidelik en sê dan: “Ek is jammer Petra is vanaand uit. Sy is nou op nagdiens en dis haar nag af.”
“So? Dan het sy weer begin verpleeg? Waar?”
“In haar ou hospitaal. Sy is weer teatersuster. Het sy geweet u kom?”
“Nee. Ek … het sommer skielik besluit om te kom kyk hoe dit met haar gaan.” Hy glimlag vir die ouer man. “My eie skuld dat ek op ’n Saterdagaand hoog en droog sit! Petra sal natuurlik nie ’n tekort aan afsprake hê nie. Ek moes dit vooraf geweet het.”
Kerneels Prinsloo frons, sê amper meer tot homself as tot die dokter: “Dis juis die ding. Ek het haar nog nie een keer met ’n man sien uitgaan nie.”
“Nie? Maar u sê dan sy is vanaand uit.”
“Ja, maar sy is alleen hier weg.” Hy glimlag, voel skuldig dat hy sy dogter met hierdie vreemde dokter staan en bespreek. Dié man het maar net die reeks operasies op sy kind uitgevoer. Dis ál. “As u nie ’n ander afspraak vir vanaand het nie, kan ek u nooi om saam met ons te kom eet. My vrou het gesê sy maak sommer daar by my dogter kos, en ek kan u verseker sy is ’n puik kok. U is baie welkom …”
“Dankie, meneer Prinsloo. Dis vriendelik van u.” Hy frons, dink na. “Ek moet nog ’n draai in die stad maak, maar … gee my die adres. Miskien slaan ek tog daar uit. Ek sal graag Petra se familie wil ontmoet.”
Petra sou nie so gerus in Eugene se geselskap gesit het as sy moes weet watter “draai” dokter Klaus Wagner gemaak het voordat hy by haar suster se huis aanklop nie. Klaus Wagner kan ’n baie innemende mens wees as hy wil. Hy glimlag verskonend, baie sjarmant, toe die deur oopgaan.
“Ons het al by die kliniek ontmoet. Goeienaand, mevrou. Ek is jammer dat ek sommer hier instorm, maar u man het gesê u is ’n baie goeie kok!”
Mara glimlag en nooi hom vriendelik binne. “U is baie welkom, dokter. Kom maak u gerus tuis. Die kos is al gereed, maar ons wag nog om te kyk of my skoonseun nie betyds vir ete sal terug wees nie. Kom, laat ek u solank aan my dogter … my ander dogter voorstel. Sy is in die bed. Sy voel nie so goed nie.”
“So het ek by meneer Prinsloo gehoor. Ek sal haar baie graag wil ontmoet.”
Later eet hulle maar, en nog later staan Klaus op. “Dit was ’n aangename aand. Baie dankie. En mevrou, u man het geensins oordryf nie. U is ’n puik kok. Baie dankie.”
Die Prinsloo-egpaar glimlag hom vriendelik toe. Dit was werklik ’n baie aangename aand. “Kom kuier gerus weer, dokter. U sal Petra seker weer kom opsoek?”
“Baie beslis, mevrou. Ek sal haar beslis weer opsoek.”
Petra trek haar wenkbroue verbaas omhoog toe sy die volgende dag verneem dokter Wagner het onverwags kom besoek aflê. Dan skud sy dit van haar af. Klaus Wagner is nie van belang nie. Tog voel sy haar hart ruk toe sy daardie aand voor die hospitaal stilhou en ’n bekende gestalte reg op haar afgestap kom.
Sy klim uit haar motortjie, onbewus van hoe ’n pragtige prentjie sy in haar wit uniform met die aandskemering agter haar is.
“Ek wil jou spreek.” Geen groetwoord nie. Net die kortaf bevel.
“Ek moet aan diens gaan.”
“Daar is nog ’n kwartier oor. Klim in.” Sy het geen ander keuse nie as om terug in haar motor te klim, en hy skuif langs haar in. “Waar was jy gisteraand?”
Sy kyk hom onskuldig aan.”Ek het ’n afspraak gehad.”
“So het ek verneem … met Eugene Minnaar.”
Haar oë vernou, en dan kyk sy hom spottend aan. “Jy sal ’n swak speurder uitmaak.”
“’n Goeie een. Jy is alleen van die huis af weg en ene dokter Minnaar is nooit gisteraand deur die hospitaal ontbied nie.”
“En dit beteken nou …?”