Ena Murray Keur 9. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 9 - Ena Murray страница 20
“My gesig makeer …”
“Sal jy ophou teëpraat?” bulder hy en sy word met taamlik min ontsag nader getrek. Hy kyk op die woedende gesiggie af. “Jy stel jou gesig minstens drie dae lank nie weer aan die son bloot nie.” Sy staan hom net stom van ontsteltenis en aankyk, en sy oë vernou. “Hierdie klomp mans wat jy om jou aan die vergader is …”
Haar grys oë waarsku hom dat ’n klein oorlog aan die oplaai is. “Ja, dokter? U wou weet?”
“Hm. Ja. Ek het maar net gewonder – is dit ’n teken dat jou belangstelling in Eugene Minnaar begin afneem het?”
’n Rooi blos skiet onder die rooi sonverbrande vel op en haar oë blits, maar haar stem is tartend: “Dis vir my om te weet …”
Sy hande skuif meteens oor haar ore en vou om haar kop. “Ek wou maar net sê, as dit sal help om jou van dwaasheid te red, is ek ook bereid om by die tou in te val.”
Sy frons verward, knip haar oë.
“Hoe nou?”
Daar speel skielik ’n duiwelse glimlaggie, soos dit vir haar lyk, om sy mondhoeke en sy sien hoe daardie moedswillige haartjies weer oor sy voorkop tuimel toe sy kop laer buk. Sy hoor hom fluister: “Ek het nog nooit daaraan gedink om ’n slang te soen nie, maar ek is skielik nuuskierig …”
Die eerste keer sedert sy die nuwe Petra is, voel sy ’n man se lippe vol op hare. Sy staan versteen. Haar bewegingloosheid moes hy verkeerd vertolk het, want skielik word sy in ’n omhelsing vasgevat en gesoen soos Eugene Minnaar haar nog nooit gesoen het nie.
Selfs toe hy haar laat los, is sy nog te verslae om iets anders te doen as om net na hom te staar. Die glimlaggie is nog om sy mondhoeke toe hy sê: “My fout. Ek moes geweet het hoe ’n slang sou soen. Geen wonder Eugene Minnaar het ander weivelde gaan soek nie …”
Hy gryp haar hand net betyds vas en nou grinnik hy openlik. “Daar is een kursus wat jy nog sal moet volg, Petra. Hoe om vrou te wees: ’n warm, hartstogtelike vrou. ’n Mooi gesig alleen kan ’n man nie bevredig nie.” Met hierdie verdoemende woorde stap hy uit en sy weet nie hoekom daar meteens nat strepe teen haar wange verskyn nie.
Daardie aand doen sy besonder baie moeite met haar voorkoms. Don, haar leermeester van die dansskool, neem haar vanaand uit. Maar dis nie ter wille van hom dat sy die nuwe aandrok oor haar skraal lyfie laat glip en sorgvuldig haar grimering aanwend nie. Dis om die skade wat daardie man, soos sy na hom verwys, aan haar selfbeeld gedoen het te herstel.
Don wag haar by die voordeur in en die bewondering in sy oë laat ’n bietjie warmte in haar terugsypel.
Maar weer, soos vanoggend, gaan die kantoordeur van dokter Wagner skielik oop.
“Het ek jou nie gesê dat jy drie dae lank nie mag uitgaan nie?”
Sy trek haar asem in. As hy nou wéér gaan begin … “Jy het net gesê die son mag nie op my skyn nie.”
“En ook nie die maan nie. Jy gaan nêrens heen nie.” Die kil blik wat op Don gerig word, laat hom versigtig ’n tree terug gee. “Nag, meneer. My pasiënt is nie vanaand beskikbaar nie. Ook nie môreaand nie en ook nie oormôreaand nie.”
Don blaas die aftog en dokter Wagner keer hom na die stil, beweginglose meisie. Soos soveel kere tevore meet hul oë kragte. Dan is dit of hy meteens belangstelling verloor. “Indien jy jou die volgende drie dae gedra, mag jy die dag ná oormôre ontslaan word.” Die deur gaan agter hom toe.
Toe die lang verwagte dag aanbreek, vra sy Fritz gedurende sy oggendbesoekie: “Hy het belowe ek sal vandag ontslaan word. O, as hy my weer gaan kul …”
“Nee, jy word vanoggend ontslaan. Hy het al eergister die vorms geteken voordat hy weg is.”
“Weg is? Klaus Wagner weg? Waarheen?”
“Na ’n kongres. Hy sal eers oor ’n week terug wees, maar jy mag vanoggend al huis toe gaan, het hy gesê.”
Petra se pragtige, nuwe gesig is uitdrukkingloos toe sy voor haar ouerhuis stilhou en uit haar motor klim.
8
Kerneels en Mara sit op hul gewone plekkie onder die boom op die grasperk en tee drink toe die bekende motortjie stilhou. Albei is dadelik op hul voete, die vreugde, dankbaarheid en verligting duidelik in hul oë.
Dan steek hulle in hul spore vas. Dis ’n wildvreemde meisie wat uitklim. Die teleurstelling spoel deur die ouerpaar. Seker iemand van die hospitaal wat Petra se motortjie terugbring. Daar is seker nie plek daarvoor by die kliniek nie.
Maar wat ’n pragtige meisie! dink albei toe die slanke, beeldskone mens stadig nader stap. En tog … Kerneels trek sy oë op skrefies … daar is iets vaagweg bekends aan haar. Ook Mara voel haar hart ruk. Snaaks, sy het die gevoel sy ken hierdie meisie – of behoort haar altans te ken.
Sy kom voor hulle staan en dan sien hulle die oë, die onseker bang oë. “Hallo, Mamma, Paps. Verlang na my?”
“Petra?”
Sy glimlag, knik, en dan gooi sy haar arms om haar ma se nek en bars in trane uit. Spontaan gaan die ouer vrou se arms om haar, maar steeds lê die verslaentheid en skok in die moederhart. Want selfs die lyfie wat sy nou teen haar vasdruk, is vreemd, onbekend. Hoe dikwels in die verlede het sy haar Petratjie nie ook so vasgehou nie, haar arms vol van die ronde lyfie terwyl haar kind haar bitter trane op die moederskouers uitgesnik het. Maar hierdie vreemde Petra se skraal – amper te skraal – lyfie voel snaaks teen haar.
Dan maak sy haar los uit haar ma se arms en omhels haar pa. Half onseker, half bang hou Kerneels die vreemde wese in sy arms. Hy voel skoon selfbewus, amper skuldig … asof hy hom skielik vryhede met ’n wildvreemde jong dame veroorloof! Hy voel sy gesig warm word en hy kyk oral behalwe in sy vrou se oë wat na die vreemde toneel voor haar staar, verbystering en ongeloof duidelik op haar gesig te lees.
Petra voel die instinkmatige styfheid in haar pa se omhelsing aan en sy kyk op. “Dis regtig ek, Paps. Dis jul eie Petra!”
Haar pa kyk skerp, ondersoekend op haar af en sy hart trek saam met ’n vreemde smart wat skielik van hom besit neem. Nee, hul ou bekende, geliefde Petratjie is vir altyd weg. Sy sal nooit weer regtig hul Petra wees nie. Wat het sy arme kind besiel?
’n Rou snik skeur uit Mara se bors en dadelik gaan die slanke arms weer om haar. “Mamma! Asseblief! Moenie so huil nie! Dis nog ek, al lyk ek anders. Is … is ek dan nie vir Mamma nou mooi nie? Hè, Mams?”
“O, my kind! My kind!” Die ma klou haar dogter vas en dis of sy byna hardop bid ’n wonderwerk moet plaasvind; dat sy weer moet voel hoe haar arms vol word soos voorheen. Eindelik kry sy haar emosie genoeg in beheer dat sy kan terugstaan, moedig opkyk in die pleitende grys oë – die enigste