Geheime liefde. Malene Breytenbach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Geheime liefde - Malene Breytenbach страница 4
… town’s name was feared by British officers who were unsuccessful in the field … Local farmer’s daughter … brother Victoria College Volunteer Rifles … doomed love? Ella?
Diana het nog altyd gewonder of Ella, die plaaslike meisie op wie die held in Harrowed Heart verlief raak, nie dalk op ’n ware een gebaseer is nie.
attractive college building that stands on College Square was designed by a German architect
charming village with its tree-lined dusty streets, surrounded by mountains
change colour according to the time of day
rather pastoral setting, different from crowded, reeking, ancient Edinburgh full of ghosts
first came to this village with Mother directly after Boer War
resided with Mother’s cousin, Professor Archibald MacDuggan
suggested that I come to the College after completing my MA at Edinburgh
educated men to prepare the leaders of the future.
Cape Africaanders resent
republics lost the war. Many people here speak fluent English
Colony of the Empire for so long
accents
Dutch ancestry
Africaanders harrow dragged through heart, bloody but unbowed
Sy is so opgewonde. Hier is aantekeninge wat wys watter invloed hierdie omgewing op Sutherland gehad het. Genoeg om hom ’n hele roman daaroor te laat skryf.
Daar is egter nog bitter min bladsye wat gerestoureer is. Dit blyk ’n lang en ingewikkelde proses te wees. Haar maag trek op ’n knop van moedeloosheid. Een van die dae gaan daardie hooggeagte indringer van Oxford ook alles wil sien. Sy moet dit vóór hom sien. Daarom sal sy verwoed moet kom lees, elke oomblik wat sy vry het.
Terwyl Diana ’n week later na die departementshoof se kantoor stap, is sy snaarstyf gespanne. Sy kan eenvoudig nie onbetrokke na Terry Swales gaan nie, nie ná wat hy aan haar gedoen het nie. Dis nou al twee maande dat sy sukkel om dit te verwerk.
As ou professor Hodgin net nie weens siekte moes aftree nie, sou hý haar promotor gewees het. Nou moet sy sowaar onder Terry van alle mense werk.
Vanaf haar eerste jaar sweep hy haar emosies op. Hoe simpel was sy nie? Om te dink sy beërwe die hemel toe hy uiteindelik in haar begin belangstel kort nadat sy as junior lektor aangestel is. Min het sy geweet dat dit so stomp beëindig sou word, sonder ’n verduideliking. Terry kon haar ten minste ’n rede gegee het, maar nee, hy het eenvoudig net opgehou om haar te kontak. Sy moes geweet het Beryl Makin was daarby betrokke. Terry het nie eens die ordentlikheid gehad om ’n ruk te wag voordat hy dit duidelik gemaak het dat sy belangstelling na Beryl verplaas is nie.
Moet sy nie maar tog vir ’n pos by ’n ander universiteit aansoek doen nie? Om jou kollegas en die studente in die gesig te moet kyk terwyl jy nie weet wie van hulle van jou vernedering bewus is of agter jou rug skinder nie, is bykans onhoudbaar.
Nee, Terry Swales gaan haar nie onderkry nie. Sy sal aanhou maak asof dit haar nie regtig traak nie; voorgee dat hy nie regtig vir haar so belangrik was nie. Sy moet nou maar eenmaal onder Terry werk, hom heeltyd sien, en voorgee dat hy nie haar gevoelens seergemaak en haar ego byna geknak het nie.
Die departementele sekretaresse, die moederlike en bekwame Erna Uys, is gelukkig nog daar. Sy wou bedank nadat professor Hodgin afgetree het, maar sy het tog besluit om aan te bly.
Net toe Diana by Erna se kantoordeur wil ingaan, kom ’n laggende manstudent so vinnig agteruit dat hy Diana byna onderstebo stamp. “Oukei …” sê hy, sien haar raak en spring opsy. “Sorry, Miss Malan.” Dis Neville Pieterse. Sy sien hom deesdae gereeld hier by die kantore rond. Sy knik vieserig vir hom.
’n Soet walm begroet haar toe sy instap. Haar neus kriewel. Sy haat die geur van sterk parfuum en sy is altyd erg van reuke bewus. Beryl Makin staan daar met ’n breë glimlag op haar mooi gesig. So, dis waarom Neville giggelend in trurat by die deur uitgekom het. Hy is een van die manstudente wat net nie genoeg van Beryl kan kry nie.
“O, haai Diana,” groet sy in haar heserige stem. Beryl is korter as Diana en meer gerond. ’n Styfpassende wit bloes beklemtoon haar mooi borste en haar kort blou romp steek beslis nie haar welgevormde bene weg nie. Met een hand vee sy oor nagswart hare wat styf agtertoe getrek en vasgemaak is, asof sy wil voel dat dit nog reg sit, en vroetel dan aan een van haar enorme silwer oorringe. Beryl het nie die bestudeerde sogenaamde shabby academic look van baie ander vroue op die vloer nie. Sy dra grimering en doen moeite met haar voorkoms.
“Haai.” Diana is nie lus om met haar te gesels nie.
“Kom jy vir Terry sien? Ek was nou net by hom. Hy behoort nog in ’n baie goeie bui te wees.” Sy knipoog veelbetekenend vir Diana. Dit laat haar gril. Sy hou nie van die vroumens se insinuasies nie. “So, as jy probleme met jou tesis het beter jy maar nou met hom daaroor gesels. Shame, dit kan nie maklik wees om oor so ’n mindere digter soos Sutherland te werk nie. Dis nie ’n onderwerp wat ék ooit sou kies nie. Ek dink ook nie Terry is baie opgewonde daaroor nie, hoor.” Sy rek haar oë groot.
Diana klem haar hande in vuiste langs haar sye. “Dis vir my interessant.” Sy gaan nie vir Beryl van haar vonds in die biblioteek vertel nie.
Beryl haal haar skouers op. “’n Mens moet darem ook weet hoe om jou promotor se belangstelling te prikkel … Dit lyk my jy sukkel daarmee.”
’n Rooiwarm woede stoot in Diana op, maar Beryl druk by haar verby, en is by die kantoor uit voordat Diana aan iets kan dink om daarop te antwoord.
“Wat gaan weer vandag met daai Beryl aan?” wonder Erna Uys hardop waar sy agter haar lessenaar soos ’n hekwag voor Terry se kantoor sit. “Hallo, Diana,” groet sy dan met haar gewone warm vriendelikheid. Teen die muur en op die lessenaar is daar foto’s van haar man en kinders, en langs die rekenaar staan ’n glaspot met pienk rose. Diana weet dit kom uit Erna se tuin en dit ruik heerlik soet, nie geurloos soos kweekhuisrose of so sinteties soos Beryl se oordadig-aangewende parfuum wat nog in die lug hang nie. “Wat lyk jy vanoggend so jittery? Moenie jou aan Beryl steur nie, hoor. Kan ek vir jou tee maak?”
“Nee dankie, Erna. Ek lyk maar so want ek moet oor my proefskrif kom praat en oor een ding is Beryl reg: Prof was nie juis opgewonde oor my onderwerp nie. Hy het gedink ek moet, soos Beryl, liewer iets doen oor Afrika-skrywers.”
Erna rol haar oë. “Sy kla dat sy vashaak. Seker meer afgehap as wat sy kon kou. Dis nie maklik om ’n oorspronklike onderwerp uit te dink nie. Dan moet jy nog jou hipotese bewys en jare lank aan die proefskrif werk. Liewer julle as ek, hoor.”
Wees net sterk, maan Diana haarself toe sy by Terry se kantoor ingaan. Hy staan by sy venster met ’n beker koffie in sy hand. Hier vanaf die vyfde vloer van die Letteregebou sien ’n mens ver: die ruwe blou van Simonsberg, die besige en dreunende Merrimanstraat onder, ’n vulstasie, winkels, huise, woonstelle. Sy kyk ook graag by haar venster uit na die uitsig, tot daar waar Hoogeland teen Simonsberg lê.
“Môre, Terry.”
“Môre, Diana.”
Hy het pas die ou professor se