Geheime liefde. Malene Breytenbach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Geheime liefde - Malene Breytenbach страница 6
Hy frons. “Ja, ek hoor so. My ma en ouma is baie nuuskierig oor dié joernaal. My ouma, Sutherland se dogter, lewe nog, maar sy is bejaard en bedlêend. Die familie woon al meer as ’n eeu lank in Sutherland House in Edinburg.”
“Maar jy is in Oxford?” vra Terry.
“Ek wás verbonde aan Edinburg Universiteit maar ek het vyf jaar gelede ’n pos aan Oxford aanvaar.” Alex kyk net vlugtig na haar promotor voordat hy weer sy aandag op Diana vestig.
Hy het nog nie een keer geglimlag nie. Kyk net na haar asof hy dwarsdeur haar kan sien. Sy voel soos ’n kat wie se hare in die verkeerde rigting gevryf word.
“Ek verneem jy is nog net heel aan die begin van jou proefskrif?” Oë onder halfmasooglede bestudeer haar.
Al ontketen dié man ’n vreemde dreuning in haar hart, gaan sy hom dit nie laat agterkom nie. “Ek het al heelwat navorsing gedoen en redelik ver gevorder,” sê sy koel. “Maar ek het ook besef daar is ’n vermiste skakel in Sutherland se werk. Ek soek inligting oor die vrou vir wie hy liefdesgedigte geskryf het en ek vermoed sy word in die joernaal genoem.”
Sy kilheid verdwyn en sy oë verskerp van belangstelling. “Het jy al leidrade gevind?”
“Ja, maar onthou die joernaal is nog flenters.”
Hy knik, met sy oë steeds stip op haar gerig. Sy voel asof sy onder ’n kollig staan voor ’n kritiese gehoor, maar sy het haar woorde vergeet. ’n Vreemde hitte trek deur haar lyf en sy hoop haar gesig word nie rooi nie.
Terry tel sy foon op en skakel. “Erna, bring asseblief vir ons tee. Wag eers … professor Erskine, Engelse tee of rooibos, wat ’n kruietee is, of koffie?”
Dit klink vir Diana asof Terry sy irritasie probeer wegsteek. Sy loer na hom. Sy lippe lyk dun en sy oë skerp. Is hy kwaad oor dié man nou hier aankom en hulle sal steur, of sien hy dat die vreemdeling ’n oorweldigende invloed op haar het?
“Ek hou nie juis van kruietee nie. Engelse tee vir my, asseblief.”
Terry kyk van hom na Diana. “En jy?” Dit klink asof hy blaf.
“Ook Engelse tee, dankie.”
Terwyl Terry aan die bestel is, is Diana bewus daarvan dat die besoeker haar openlik betrag. Sy is so verleë dat dit voel of haar vel kriewel. Haar wange gloei.
“Juffrou Malan, sal jy my asseblief die Ou Hoofgebou gaan wys?” vra Alex Erskine. “Ek wil graag die voormalige Victoria Kollege sien waar AA Sutherland klasgegee het.”
Die besoeker kyk dwingend na haar. “Het jy vandag tyd daarvoor? Ek kan nie wag om dit te sien nie.”
Dit is die laaste ding wat sy nou wil doen. “Ek sal ongelukkig eers môre beskikbaar wees.”
Waarom kyk hy heeltyd so af na haar? Wat dink hy as sy so verspot bloos?
Sy sien hy glimlag net so effentjies asof hy haar onwilligheid raaksien en dit hom amuseer. “Ek is bereid om tot môre te wag. Intussen sal ek die gehuggie gaan verken.”
“Gehuggie? Stellenbosch is lankal nie meer ’n gehuggie nie. Sal ons drieuur ontmoet? Hier?”
“By die ingang van die Letteregebou sal goed wees, dankie.”
Erna kom in met ’n skinkbord tee en ’n melktert. Sy moes die tert vinnig laat haal het. Sy sit die skinkbord op die tafel neer. Deel koppies en bordjies uit, sny die melktert, skink en gee aan, maar kyk deurentyd die vreemde professor met openlike ontsag aan totdat sy die vertrek verlaat.
Diana beskou hom diskreet dog noukeurig.
“Dit lyk lekker,” sê hy. “Wat is dit?”
“Dis ’n Suid-Afrikaanse spesialiteit,” verduidelik Diana. “Gemaak van meel, melk, suiker, kaneel, eiers en soms kondensmelk ook.”
Hy eet dit met smaak. Sny klein stukkies af met ’n vurkie wat verspot klein lyk in sy groot hande met lang vingers en goue haartjies aan die rugkant. Aan een vinger is ’n swaar goue seëlring met ’n wapen op.
“Heerlik,” sê hy.
Diana drink haar tee vinnig en verskoon haarself. Belowe om die volgende dag drieuur by die ingang van die gebou te wees. Hoe vreemd – dit voel asof sy gekneus is.
Alex stap van die Lettergebou na sy gastehuis. Voor sy oë sien hy steeds die beeld van die lang, slanke Diana Malan, wat hy so in haar middel twintigs skat. Sy het hom verras. In ’n wit bloes en swart broek, onopgesmuk, ’n natuurlike skoonheid. Blink donker hare styf agtertoe getrek en vasgemaak. Vel vlekloos en mond vol en natuurlik rooi. Groot grysgroen oë soos mos aan antieke steen, met digte swart wimpers. Intelligente oë. Waaksame, amper vyandige oë. Sy was onkant gevang en glad nie lus om hom te verwelkom nie – dít was duidelik.
Haar hand was skraal en sag toe hy haar gegroet het. ’n Versorgde hand, maar die naels is sonder lak. Hy het opgelet dat sy geen juwele dra nie, behalwe ’n silwer horlosie en klein pêreltjies aan haar ore. Dié ongekunstelde tipe meisie is beslis nie sy gewone smaak nie, en tog het sy hom ontroer al het haar houding hom dwars in die krop gesteek.
Gewoonlik kry hy dit reg om mense dadelik te beïndruk, veral akademici wat sy rekord ken. Indien sy beïndruk is, steek sy dit goed weg.
Dan glimlag Alex geamuseerd. Hy het dit minstens reggekry om haar te laat bloos.
Toe Diana die kantoor verlaat het, het haar promotor hom gewaarsku dat sy die joernaal as háár vonds beskou en waarskynlik gegrief is dat hy dit ook wil bestudeer. Dat sy ’n goeie student is wat verbete is om haar doktorsgraad te behaal. Hy pers sy lippe opmekaar. Sy kan so wrewelig wees soos sy wil, maar hy is nou hier en sy sal maar net moet saamwerk, al wil sy nie. Buitendien dink hy dat hy en sy familie eerste aanspraak het op enigiets wat oor Sutherland handel. Dié jong vrou is maar net ’n PhD-student wat met dié onderwerp ’n graad wil verwerf. Nietemin sal hy vir haar genoeg ruimte gee. Hy hoop net dit beproef nie sy geduld te veel nie.
3
Terwyl sy vir Alex Erskine wag, wil Diana amper weer begin naels byt soos in haar kinderdae. In haar maag is die vlindergevoel wat sy altyd gekry het voordat sy ’n resies gehardloop het of ’n musiekeksamen moes speel. Haar hartklop is nie normaal nie. As daar nou ooit ’n man was wat moeilikheid is, is dit dié Erskine. Toe daardie turkoois oë haar die eerste keer skroei, het sy die vreemdste rukking in haar hart gekry. Hy is nie iemand wat ’n mens ontmoet en dan sommer uit jou kop verban nie. Nee, hy gaan ’n blywende indruk laat. Jy kan hom nie maklik vergeet nie.
Sy wens sy kan vlug. Sy is so op haar senuwees dat ’n motor wat skielik met ’n gebrul in die straat verbyry haar laat wip van die skrik.
Uiteindelik kom hy uit die middedorp se rigting aangestap. Lang bene wat groot treë gee. Sy dik hare flits goud en koper in die sonlig. Hy sal waarskynlik nooit kaalkop word nie, daardie welige hare sal net vergrys. Sy draai haar kop weg sodat hy nie moet sien sy hou hom dop nie. Toe hy by haar kom, let sy weer op dat hy ’n entjie langer as sy is. Dit is ongewoon, want sy is self redelik lank.
“Dankie dat jy vir my tyd inruim, juffrou Malan,” sê hy hoflik.
“Dis my plesier,