Geheime liefde. Malene Breytenbach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Geheime liefde - Malene Breytenbach страница 7
“Tipiese negentiende eeuse argitektuur.” Hy kyk op na die klassieke fasade, leeus en pediment, haal ’n kamera uit ’n drasak en neem ’n aantal foto’s.
Diana wag geduldig. Hou hom gefassineer dop. Die kamera is ’n professionele een; sy herken die maak. Sy het self ook ’n soortgelyke een. Sou hy, nes sy, ’n belangstelling in fotografie hê? “Dit is nou ons Fakulteit Regsgeleerdheid,” vertel sy hom. “Die argitek was ’n Duitser, Carl Otto Hager. Hy het kerke ook ontwerp, en een van hulle is ons Moederkerk in die middedorp.”
“Ek sal na die kerk ook moet gaan kyk.”
Alex Erskine beduie met ’n swaai van sy hand dat Diana voor hom kan uitstap tot in die binneplein. Hulle staan in die middel daarvan en sy beduie na die rye klaskamers op die eerste verdieping. “Professor Sutherland moes daar iewers klasgegee het. In die ou dae het mense wat Latyn geneem het hulle name en spreuke op die banke uitgekrap.”
Om hulle beweeg moderne laggende en geselsende studente. Oë draai na hom. Meisies kyk veral met belangstelling. Alex Erskine is so anders. So nie van hier nie. Hy voel natuurlik superieur as hy na die nederige Suid-Afrikaanse universiteit kyk. Sy sien hom met lang treë, in ’n fladderende toga, deur die binneplein van sy Oxford-kollege loop, tuis in die groen grasbedekte vierkante tussen die goue sandsteengeboue met hulle Gotiese torinkies en versiersels. Daar waar alles eeue oud is en tradisies nooit uitsterf nie. Sy was al in Oxford, maar meesal het sy dit in flieks gesien. ’n Towerwêreld met sogenaamde dreaming spires.
Alex vryf oor sy ken. “Soos Goldsmith hou ek van ou dinge: ‘old friends, old times, old manners, old books, old wines’.”
“Daar is seker genoeg daarvan in Oxford.”
Hy reageer nie op haar opmerking nie, maar loop deur die binneplein en bekyk alles, oë geskreef. Een hand is bo sy voorkop om die sonlig uit sy oë te hou. Hy is seker groter as die gemiddelde Skot. Rank behoorlik hemelwaarts. Sy dink aan die woorde van ’n lied: “die son slaan vuur uit die sweetvoshare”.
Hy is nogal swygsaam. Vra haar nie heeltyd uit nie. Blykbaar is hy een van daardie mense wat nie oor nietighede babbel net om praatjies te maak nie. Dalk dink hy nie sy is interessant of belangrik genoeg om mee te gesels nie.
“Ek sal dit weer môre op my eie kom bekyk,” sê hy, en begin uitstap.
Sy volg hom onder die groot eikebome deur na die CL Marais-gebou. Dit is al byna vieruur en die skaduwees onder die groot bome word diep en koel. Sy bibber liggies. “Dit is in dié ou gebou wat ons oorspronklike biblioteek was,” sê sy.
Hy gaan staan in die hek en kyk op na die gebou se geweltjie, pediment en torinkies. “Quaint.” Hy draai om en begin weer na die Ou Hoofgebou se ingang terugloop en sy moet haar treë rek om by te hou.
“Ek weet jy is haastig om Sutherland se ‘ander vrou’ in sy joernaal te vind, juffrou Malan, maar ek stel in veel meer belang. Ek wil oor al die klein en groot aspekte van sy lewe hier lees. Ek wil alles sien wat hy gesien het. Ek wil weet wat hy hier gedoen het, hoe hy Stellenbosch en die politiek van die tyd beleef het. Dit was ’n oorgangstyd en die Afrikaners het nog van die Boereoorlog probeer herstel. Dit was ook die tyd toe die kolonies verenig het om ’n Unie van Suid-Afrika te vorm. Ek wil weet wat Sutherland van alles gedink het.”
Hy dink ’n rukkie na. “Soos wat die digter Yeats, oor wie jy skynbaar ook klasgee, die Ierse politieke kwessies beleef het. Vir Yeats was Maud Gonne die ‘beautiful unattainable’. Ek glo ook, nee eintlik wéét ek, dat Sutherland so ’n vrou hier gevind het. Ek is net so gretig soos jy om uit te vind wie sy was.”
Diana kyk verbaas na hom. Hy klink darem tegemoetkomend. Miskien hoef sy nie regtig so bang vir hom te wees nie. Dalk kan hulle mekaar help en nie net hinder nie. Maar sy sal eers moet sien watter tipe mens hy werklik is. Tot dusver het hy haar nog net nietig en vies laat voel.
Hy kyk rond en weer af na haar. “Dit word laat. Kan jy my môreoggend die joernaal gaan wys? Vroeg? Of is jou oggend te besig?”
“My eerste lesing is eers om negeuur. Ons kan agtuur gaan.”
“Goed, dankie. Ek kry jou weer by die ingang na die Letteregebou.”
“Goed, tot môre dan.” Sy loop vinnig weg. Haar hart klop rukkerig.
Liewe hemel, haar ewewig is geheel en al versteur. In die verlede het slegs Terry dit reggekry.
Sy kyk nie om nie.
Alex kyk hoe Diana van hom af wegstap, die straat af. Sy oupagrootjie moes op dieselfde sypaadjie geloop het en ’n meisie gesien het wat hom laat voel asof hy nie genoeg suurstof inasem nie. Hy het in die dorp ’n aantal van dié Suid-Afrikaanse meisies opgelet: gesond, gesoen deur die son, met blinkskoon hare en mooi lywe. Vroue van gemengde afkoms is dikwels baie mooi. Juffrou Malan se mengsel van Hugenoot, Hollands en wat ook alles in so ’n Suid-Afrikaanse meisie se bloed is, het haar ’n uitsonderlike voorkoms gegee. Nie ’n konvensionele skoonheid nie. Nie soos Dresden-porselein nie, maar wat sy ma wholesome sou noem. Fynbesnede dog sterk gelaatstrekke. Goeie beenstruktuur, grasieuse manier van beweeg. Sy het seker in haar jeug ballet of een of ander vorm van dans gedoen, want haar rug hou sy regop.
Alex klik deur die foto’s op sy kamera. Hy het seker gemaak dat hy vir Diana op ’n paar inkry. Die geboue is fassinerend. Hier het sy oupagrootjie in sy toga, met sy andersheid, sy Britsheid, homself probeer tuismaak. Nie van plan om te lank hier te bly nie. Dit was maar net ’n sport op die begin van sy leer na vernaamheid en roem. Hy moes gedink het dit is ’n klein dammetjie, hier in die Kolonie.
Hy het waarskynlik nie gereken dat ’n Suid-Afrikaanse vrou sy voete onder hom sou uitslaan nie.
Môre gaan Alex uiteindelik die vermiste joernaal te siene kry. Dit het vele reëlings en delegering van verantwoordelikhede geverg vir hom om dié bewyse van wat sy oupagrootjie alles hier kom aanvang het, te sien. Sy ma en veral sy konserwatiewe ouma vrees natuurlik die openbaring van ’n skande, maar as hy ’n eerlike biograaf gaan wees, moet hy tog die waarheid skryf. Hy kan nie vir Sutherland witkalk net omdat hy sy oupagrootjie is nie.
Dié oggend het Alex Erskine ’n beige hemp, bruin koordferweelbroek en brogues aan en hy dra ’n skootrekenaarsak. Mense kyk na hom terwyl hulle loop. Dit is sy grootte en sy houding van selfvertroue wat die oog vang. Diana voel onsigbaar langs hom.
Hy het wat ’n mens gravitas noem. Erns, waardigheid, gewigtigheid. Hy laat selfs iemand soos Terry Swales, wat almal dink is aantreklik, vervaal.
Terwyl hulle oor die straat stap, kyk hy om hom rond. “Dis ’n mooi kampus, hier tussen die berge. Die berge skep ’n gevoel van koestering, van veiligheid, wat natuurlik net ’n waan is. Ek het gehoor hier is baie geweld in julle samelewing.”
“Ongelukkig, ja. Ons het ’n hoë misdaadsyfer.”
Hulle loop in stilte. Naderhand is sy ongemaklik. Sy weet nie eintlik waaroor om met hom te praat nie, want sy wil nie babbel of onkundig klink nie. Oor die misdaadsyfer wil sy sowaar ook nie praat nie.
“’n Ondergrondse biblioteek is redelik uniek,” sê hy toe hulle daar aankom en by die skuinsvlak na die ingang afloop. “Mens gaan na die onderwêreld, oor die Styx in Hades in.”
“Ek voel ook nogal so as ek in die dieptes afdaal. Sal ons eers na professor