Hartklop Omnibus 2. Malene Breytenbach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Hartklop Omnibus 2 - Malene Breytenbach страница 20
Sy stem is gevaarlik sag, die vel om sy lippe spierwit. “Wat help dit ’n kind om in die romantiese lig van laventelkerse gebore te word met Juanita wat in die agtergrond gospel koer as die nodige hulp nie beskikbaar gaan wees as hy twee jaar later in ’n swembad val nie? As hy deur ’n krimineel geskiet word en in ongevalle voor sy ma se oë doodbloei omdat die dokter wat hom behandel nie genoeg kennis het om met kinders te werk nie? Jy mag dalk dink dat jy die enigste een is wat ’n verskil maak en dat jy te edel is om deur geldelike gewin gemotiveer te word, Mila, maar as jy net vir een oomblik daai mooi koppie van jou gebruik, sal jy besef dat jy besig is om onredelik en kortsigtig op te tree.Vader, ek het nie besef jy is so naïef en so … so … selfgesentreerd nie! Die verskil wat jy met jou eenheid maak, is ’n gehalteverskil; die verskil wat ek wil maak, is die een tussen lewe en dood. Jy is self ’n ma, Mila, wat is vir jou die belangrikste? ’n Romantiese geboorte of bekwame mediese hulp die dag as jou kind in doodsgevaar verkeer?”
Mila is nog besig om haar asem terug te kry ná sy lae hou toe Derek omvlieg en by die trappies af draf. Sy wil hom terugroep, wil hom keer voordat hy met lang atletiese hale uit haar lewe uit draf, maar sy kan haar nie sover kry nie. Sy staar hom net soos Lot se vrou agterna: stom, verwese en bitter alleen.
Dis eers toe Mila die berig ’n tweede maal noukeurig deurlees dat sy dit raaksien.Vanoggend drink sy ’n koppie kruie-tee met heuning in plaas van haar gebruiklike koffie in die hoop om haar bewende hande in bedwang te kry. Miskien kalmeer die kamille haar sodat sy haar gedagtes kan orden en meer objektief na Liesel se artikel kan kyk.
Sy bestudeer weer die opspraakwekkende opskrif en voel hoe haar binnegoed ineenkrimp oor die lasterlike wyse waarop dit Derek uitbeeld. G’n wonder hy was letterlik bleek van woede nie! Dan sien Mila die fyndrukfrase onder die opskrif: Sien ook berig op bl. 5. Sy het dit netnou gemis. Nou blaai sy met ’n mengsel van nuuskierigheid en afgryse verder.
Dit neem haar ’n minuut of wat om die beriggie in die skinderkolom op te spoor. Nietemin is elke woord so giftig en skadelik vir Derek se reputasie as die hoofberig, dalk selfs ’n bietjie erger. Sy kan haarself beslis ook nie meer verontskuldig deur aan te voer dat elke woord die waarheid is nie. Hierdie berig is grootliks op aantygings gebaseer, nie op feite nie. Nee, Liesel skaats gewis op dun ys met hierdie ene, dink sy bekommerd.
Watter geraamtes skuil in dokter Derek Reynders se kas?
Derek Reynders, ’n aantreklike enkelloper, het op 1 November die betrekking aanvaar by Protea Moeder-en-Kind as hoof van pediatrie. Dadelik het ’n storm rondom sy kop losgebars toe hy sy besluit aangekondig het om die bekende Aktiewe Geboorte-eenheid te sluit. Volgens hom maak die eenheid nie genoeg geld nie en wil hy die spasie omskep in ’n meer winsgewende pediatriese trauma-eenheid.Wat sou hierdie gebore Kapenaar laat besluit het om homself skielik te ontwortel? Is daar dalk iets in sy verlede waarvoor dokter Reynders vlug? Volgens vertroulike inligting is daar ’n verdagte gaping in Reynders se diensrekord. Vir ’n volle drie jaar was hy nie by die Mediese Raad geregistreer nie.Waar was hy, en waarom het hy nie gepraktiseer nie? Maak die bestuur van PMK nie dalk wolf skaapwagter deur hierdie geheimsinnige man met die wankelende finansies van een van die oudste hospitale in Wilgekloof te vertrou nie?
Die res van die dag is Mila soos ’n dwalende gees. Derek se woorde van vanoggend wil haar nie laat los nie, en elke keer as sy aan hul konfrontasie of aan Liesel se berigte dink, brand haar wange opnuut van skaamte. Sy sien pasiënte by die eenheid en weet nie wat om te antwoord op hul bekommerde vrae oor waar hulle dan nou gaan kraam as die eenheid moet toemaak nie.Werktuiglik luister sy na hartkloppies en meet sy swanger buike met haar blou maatband – sy glimlag selfs met haar pasiënte as die situasie dit vereis – maar binne-in voel sy doods te midde van al die nuwe lewe.
Laatmiddag oorreed Melissa vir Mila om die eende te gaan voer by die dam naby hul huis. Gewoonlik geniet sy dit amper net soveel soos haar dogtertjie om stukkies brood ver oor die water te gooi en na die veelkleurige swemvoëls se opgewonde gekwaak te luister. Maar vandag voel sy afgestomp en verwyder van alles en almal rondom haar: van die gras onder haar voete, die gladde visse wat broodkrummels voor die eende wegraap, van haar uitgelate dogtertjie met haar blonde bokstertjies. Dis asof Derek haar hart uitgeruk het met sy fel woorde, asof daar net ’n dop van haar oorgebly het.
Vrydagoggend verslaap Mila liederlik. Sy moes die wekker op haar selfoon per ongeluk deur die slaap doodgedruk het. Ook geen wonder nie, want haar nag was weer rusteloos. Derek se gesig het by haar bly spook. Heelnag was sy besig met sy sterk asof-uit-klip-gebeitelde gelaatstrekke, met die diep kuiltjie in sy ken wat die forse beeld so aantreklik versag … Soms het sy vreeslik baklei met hom, net om hom weer en weer te hoor sê dat sy selfgesentreerd en naïef is. Ander kere was die nagmerries van ’n heel ander aard: vuurwarm vrydrome waaruit sy natgesweet en met hortende asemstote wakker geskrik het. Dan was haar begeerte na hom ’n kloppende pyn in haar onderlyf. Hierdie drome was so verleidelik werklik dat Mila ná ’n besonder stomende een verward oor haar gesig gevryf het omdat sy nog sy ruwe swart stoppelbaard daarop kon voel krap.
Toe haar selfoon om halfagt lui, raak die klank daarvan eers verstrengel in die fantasiewêreld van haar droom. Sy en Derek is saam by ’n keisersnit waar hulle skielik nie hul hande van mekaar kan afhou nie. Ten spyte van al die ander mense in die teater neem Derek haar kop ru tussen sy hande. Hy soen haar met soveel passie dat haar ore daarvan tuit; sy kan amper nie staande bly nie … Dan skreeu die baba en Mila probeer haarself willoos uit sy omhelsing losmaak. Maar hy wil haar nie laat gaan nie en die baba hou aan skreeu. Skielik sê die kleintjie met ’n blikkerige stem “Lise-Marie”. Mila besef dat dit geen baba is wat sy hoor huil nie. Dis haar simpel selfoon wat haar probeer vertel dat Lise-Marie haar soek! Derek het haar nie regtig gesoen nie. ’n Donker mistroostigheid sak oor haar neer terwyl sy blindweg op die bedkassie rondtas vir haar foon.
“Mila, hallo?” antwoord sy vaak.
“Mila?” Lise-Marie klink ongeduldig.“Waar’s jy? Moet tog net nie vir my sê jy slaap nog nie?”
“Uhm, nee, ek is wakker,” jok Mila en frons bysiende na haar horlosie. Dêmmit, Melissa gaan weer laat wees vir skool! Haar kleuterskooljuffrou het ’n manier om Mila soos ’n uiters onverantwoordelike ouer te laat voel elke keer as sy laat is met die op- of aflaaiery. Duidelik het die poppie nie ’n idee hoe onvoorspelbaar ’n vroedvrou se lewe is nie! Sy’t self nog nie kinders nie.
“Waar is jy?” vra Lise-Marie weer.
“Uhm, nog by die huis. Maar ek gaan nou amper ry.” Mila probeer so verskonend moontlik klink.
“Het jy vergeet dat ons ’n afspraak met die Van der Merwes het? Die mense het al die pad van Phalaborwa af gekom om ons ’n laaste keer te kom sien voor die geboorte. Jy’s laat, Mila.”
Mila slaan haar hand verskrik oor haar mond. Sy het heeltemal van die onmoontlik vroeë afspraak vergeet waartoe sy ’n paar weke gelede ingestem het.
“Vrek, Lise-Marie, dit het my totaal en al ontgaan! Ek’s nog in my pajamas en ek moet eers my kind gaan aflaai. Dink jy jy sal hulle kan besig hou tot ek kom? Vat hulle miskien maar op ’n hospitaaltoer en neem hulle kafeteria toe vir ietsie. Ek sal met jou regmaak.”
Die doula sug hoorbaar. “Jy’t nou nie die maklikste kliënte gekies om ’n disappearing act op te trek nie, vriendin. Maar ek sal kyk wat ek kan doen. Miskien kan ek solank vir hulle my borsvoedingpreek afsteek, dit sal jou so ’n uurtjie grasie gee. Kry net jou gat in rat en kom so vinnig as jy kan. Hier’s ’n ander surprise ook vir jou.”
“Wat bedoel jy?” Mila is nie seker of sy van die geheimsinnige klank in Lise-Marie se stem hou nie.
“Wait