Tienerharte 4: Hartsnaar. Cecilia Steyn

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Tienerharte 4: Hartsnaar - Cecilia Steyn страница 2

Tienerharte 4: Hartsnaar - Cecilia Steyn Tienerharte

Скачать книгу

spaargeld verdwyn het nie. Maar dis al wat ek kon doen sodat Ma nie moes uitvind nie. Daardie tutu is perfek vir ’n rol in Carmen, my gunstelingballet. Swart, rooi en goud. Ek het in verskillende passies poseer en Noah het die foto’s met my pa se kamera geneem.

      “Kry nou klaar! Ek mis my meisie!” Estian se stem weergalm in die gang voor die kamer.

      “Ons is nou klaar!” roep Lisa. Sy rol haar oë en lag. Soms wens ek ek kan ook iemand in my lewe kry wat so lief is vir my soos Estian vir Lisa. Maar my droom om eendag prima ballerina assoluta in Londen se Royal Ballet-geselskap te wees, is nou belangriker.

      Ballet is soos om op jou voete te droom. En as gevolg van die e-pos is ek een tree nader aan daardie droom. Ma het nog altyd gesê: “Mik vir die sterre.” Miskien moet ek haar net aan daardie brokkie goue raad herinner wanneer ek haar die goeie nuus vertel.

      Noah

      Voor Sophia-hulle se huis staan haar ma se indrukwekkende roostuin nou blaarloos. Die takke uitgestrek soos voëlverskrikkers hier op Val de Vie. Die bergtoppe waarin die landgoed toegewikkel lê hier in die Paarlvallei is al spierwit van die sneeu.

      As dit nie was vir die fynbos, wingerde en wild nie, sou ’n mens kon dink jy’s in Kentucky, Amerika. Met die perdestalle, polo-ponies en die statige wit huise voel dit soms so. My ouers het glo hiernatoe getrek vir my onthalwe, sodat ek ’n gebalanseerde lewe kan hê. Ek dink dis die storie wat Pa vir Ma gespin het omdat hier ’n gholfbaan van wêreldklas is.

      “Ons is eintlik mal om in die koue te draf,” kom Sophia se stem soos ’n vrolike melodie die paadjie afgesweef. Ek glimlag soos ’n idioot. Iets wat ek deesdae doen wanneer ek haar sien. Haar opgewekte stem het seker met haar goeie nuus te doen. Dis al wat haar boodskap gesê het. My grootste vrees is dat sy vir my gaan sê sy’t iemand ontmoet. Ek is Soph se skouer om op te huil as haar verhoudings nie uitwerk nie. Ek is dáái ou.

      “Ons ís mal. Ek dink ons moet eerder in die huis gaan sit en couch potatoes word.” Sophia skreef haar oë vir my en my hart klop ’n deuntjie van sy eie.

      Ek is verlief op Sophia. Sy is die mooiste meisie ooit. Maar hoe creepy is dit wanneer jou lewenslange pel nou skielik verlief is op jou? Daarom mag sy liewer nie weet nie.

      “Jy weet ons doen dit eintlik vir jou. Dis al hoe ’n mens jou agter daardie laptop uitkry. Buitendien, oefening is goed vir ’n mens.”

      “Sê wie?” spot ek. Ek weet Soph bedoel goed en ek sal enige tyd vat wat ek alleen saam met haar kan kry.

      Sophia het ’n pienk hoodie met ’n ritssluiter aan en een van daardie stywe oefenbroeke wat my gek maak.

      Sy buk en raak haar tone om op te warm. Haar gespierde bene is duidelik sigbaar. Ek sluk vinnig ’n kreun voor ek wegkyk. Begeerte resoneer deur my lyf soos die klank van my viool se snare wanneer ek daaraan pluk. Voor Januarie sou ek nie eens aan Soph en mooi bene in dieselfde sin gedink het nie, maar nou is dinge anders. My gevoel vir haar het oornag verander. Eintlik net in ’n middag.

      Ek moes foto’s van haar neem. Sy het so flippin sexy gelyk in daardie rooi tutu. Ek kon nie wegkyk nie. Deur die kamera se lens was elke spier duidelik sigbaar. Haar fyn, lang arms, haar sexy bene. Swaar grimering. Ek moet eerder nie nou daaraan dink nie …

      Blitsvinnig verskuif ek my blik na haar ore. Sy het die oulikste pers earmuffs aan. Toe sy weer regop kom, gryp sy my T-hemp se soom. Haar kneukels raak liggies aan my maagspiere en my hart mis ’n slag.

      “Seriously?” vra sy vir my.

      Op my hemp staan I know HTML (how to meet ladies). Haar lag klim ’n oktaaf hoër voordat sy ’n sagte snorkgeluid maak. Ek trek spesiaal vir Soph die hemde aan, net om haar te hoor lag.

      “Wat?” vra ek. “Dis mos waar.” Ek knipoog vir haar. Net jammer sy sal niks daarvan dink nie. Vir haar is ek net nog een van haar broers. Hel weet wat Estian en Markus aan my sal doen as hulle moet weet waaraan ek deesdae dink as ek vir Soph sien. Nie dat hulle hulle hoef te bekommer nie. Van meisies vry weet ek absoluut niks. Ek het nog nooit eens ’n meisie op ’n date gevra nie, wat nog te sê een gesoen.

      Toe Sophia begin draf, kyk ek betower hoe haar swart poniestert heen en weer swaai. My vingers jeuk om daardeur te trek. Haar agterstewe pas perfek in die stywe oefenbroek wat sy aanhet en ek kyk liewer na die berge in die voorgrond. Hoe lank gaan ek dit nog kan hou om so naby aan haar te wees sonder dat ek aan haar vat soos ek graag wil?

      “Gaan jy my nou jou nuus vertel?” vra ek en begin ook draf.

      “Ek gaan, maar nie hier nie.” Sy kyk verleidelik oor haar skouer na my. “Kom jy?” vra sy met ’n giggel.

      Sophia dans deur die lewe op haar eie ritme. Elke ou in Gimmies beny my omdat ek en sy pelle is. Sy’s die enigste meisie wat ek ken wat versot is op Star Wars. Dracula is haar gunstelingvampier, nie Edward Cullen nie. Haar groot groen oë is my gunstelingplek op aarde.

      Van die ouens in my klas het al vir my gesê hulle wil ook só ’n pel hê. As hulle net weet watse torture dit is. Ek wens ek het die guts gehad om haar te vertel hoe ek regtig oor haar voel, maar ek wil nie ons vriendskap opdinges nie. As ek weird raak, is dit presies wat sal gebeur.

      Ek val langs haar in terwyl ons verby die speelgrond draf. Op die swaaie is ’n outjie besig om ’n dogtertjie te stoot. Hulle lyk na goeie maats.

      Toe ek en Sophia klein was, het ons saam boom geklim. Sy het saam met my karretjies gespeel en ek saam met haar pop. Ons teepartytjies was epic. Ons ma’s was vriendinne van skooldae af.

      Toe my ma vroeër vanjaar met kanker gediagnoseer is, wou Sophia haar hare sowaar afskeer. “Hokaai,” het ek vinnig gekeer. Al is dit vir ’n goeie cause. Hel, ek wil nog eendag my vingers daardeur trek … Toe skeer ek my kop kaal om haar tevrede te stel.

      Sy slaan my teen die skouer. Toe ek opkyk, beduie sy in die rigting van die kinders. “Kyk daai twee,” sê sy.

      Ek lag. “Nes ons.”

      “Jip. Sy’s ’n gelukkige meisie, nes ek.”

      My hart sing in my lyf oor die kompliment.

      “Kom ons stop gou hier, dan praat ons.” Vir ’n oomblik klink haar stemtoon heeltemal te ernstig. Dit maak my skrikkerig.

      Ons gaan sit op die bankie langs die speelgrond.

      Ek draai na haar. Sy kyk weg in die kinders se rigting. Sophia vermy altyd iemand se oë as sy hulle iets moet vertel wat hulle gaan seermaak. My hart sak in my skoene.

      “Ek het vandag ’n e-pos gekry. Hulle wil weet of ek nie tog die somerskool wil heroorweeg nie,” sê sy en haal haar skouers op. Sy wag vir my reaksie. Toe sink haar woorde in.

      “Londen? Die Royal Ballet School?” vra ek na ’n paar sekondes. Ek trek my asem verlig in. Dankie tog dis nie ’n ou nie!

      “Jip.” Sophia se mooi mond trek op in ’n kurwe. “Ek’s so opgewonde. Dis een klein stappie nader daaraan om eendag ’n prima te wees. Maar ek voel sleg omdat jy nie ook sal kan kom nie.”

      “Dis fantastiese nuus, Soph!” Ek kan die geesdrif in haar oë sien. Voor ek kan keer, slaan ek my arms om haar nek. Haar sagte kurwes druk teen my lyf en ek wonder of sy kan voel hoe my hart uit ritme klop.

      “Gee

Скачать книгу