Ena Murray Keur 14. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 14 - Ena Murray страница 10
Maar sy hou die gedagte vir haarself. Dis reeds te laat. Hy is op ’n besondere en buitengewone manier aan haar verbind en sy is reeds sy “vrou” sover dit Catherine en die hospitaal aangaan. Nugter weet wat nog dáárvan sal kom.
Benewens die feit dat hy hom ’n magdom moeite en moeilikheid op die hals kan haal, kan dit hom nog miskien in die tronk laat beland. ’n Man mag hom mos nie ’n ander man se vrou toe-eien nie.
Maar die saak het nou ’n eie loop geneem. En blote menslikheid sal hulle nie toelaat om nou hul rug op haar te keer nie. Hul gewete sal hulle nie toelaat om haar in die steek te laat nie. Soos sy Rudolf ken, sal niks op aarde hom beweeg om nou hier uit te stap, die een of ander storie aan die wêreld te gaan vertel en dan van haar te vergeet nie. En solank Rudolf by haar staan, sal sý ook.
Daarom vertel sy daardie nag, terwyl sy by die stil gestaltetjie waak, fluisterend haar leuentjie. Hoe sy op straat aangerand is, soos hulle vermoed, en twee dae lank verdwyn het. Hoe hulle vergeefs na haar gesoek het. Die vermoede is dat sy as gevolg van die skok tydelik die kluts kwytgeraak, verdwaal en toe onder ’n motor beland het en hospitaal toe gebring is.
Tant Kitty is ’n mens vir die reguit pad en sy is verbaas dat sy die storie so maklik opdis aan ’n ieder en elk wat wil luister. Die ergste van alles is dat sy dit skynbaar so oortuigend doen dat niemand daaraan twyfel nie. Nog erger: dat sy self al die storie begin glo en dat sy geen gewetenswroeging ondervind oor die leuens wat so glad uit haar mond kom nie. Maar sy besef baie goed dat sy met elke leuen haar geliefde Rudolf al vaster in die net wikkel. Dit het moeite gekos om hom van die bed af weg te kry en te oorreed om woonstel toe te gaan en te gaan rus.
“Jy kan tog niks hier doen nie, Rudolf, en ek is mos hier by haar. Ek beloof jou ek sal my oë nie ’n oomblik van haar af wegneem nie, en ek sal jou dadelik roep as daar ’n verandering intree. Jy moet gaan rus. Jy het gesê jy het verlede nag byna niks geslaap nie en môre moet jy werk.”
Hy het die wysheid van haar woorde besef en eindelik teësinnig nag gesê. Maar op pad woonstel toe was hy daarvan bewus dat ’n deeltjie van hom in die hospitaal agtergebly het. Hy kon dit nie aan homself verklaar nie, maar diep in hom het hy ’n vrees bespeur dat sy miskien weer net so sal verdwyn – en dít mag nie gebeur nie. Hierdie onbekende Madie mag nie weer uit sy lewe verdwyn nie.
Selfs haar naam is gefabriseer, dink hy wrang terwyl hy ontklee. Hy het spontaan aan dié naam gedink, want dit was sy ma s’n – Madelyn, en Madie was sy pa se troetelnaam vir sy ma. Dit het spontaan op sy lippe gekom.
Ook toe die verpleegster met die toelatingsvorm inkom en wil weet wat sy vrou se naam is, het hy kalm geantwoord terwyl hy bewus was van tant Kitty se verskrikte oë: Madelyn van der Merwe. Toe sy uit is, het tant Kitty ’n diep sug laat hoor en onwillekeurig geglimlag.
“Dit was vinnig dink daardie, seun.”
Hy het stil geantwoord: “Ek noem haar sommer Madie. Dit pas.”
Dis alleen die wete dat tant Kitty langs die bed sit en oor Madie sal waak soos ’n arend oor haar enigste kleintjie, wat hom dadelik laat insluimer. Onder geen omstandighede mag sy alleen gelaat word nie, want sodra sy haar bewussyn herwin, sal sy van die klugspel vertel moet word.
Die volgende oggend, toe Rudolf die hospitaalkamer binnestap, heelwat vroeër as sy gewone tyd, tref hy ’n diep bekommerde tant Kitty aan.
“Sy is nog bewusteloos,” sê sy.
Net een blik na die bed is vir hom genoeg.
“Ek sal Vorster en Volschenk dadelik inroep.” Hy draai om en stap na die naaste telefoon.
Tant Kitty voel die vrees in haar hart roer. Wat as hierdie kind sterf? Dan sal die hele waarheid moet uitkom! Maar dis nie net daarom dat sy haar hart voel saamtrek nie. As Madie moet sterf, besef sy met helder insig, sal dit ’n persoonlike ramp vir Rudolf wees. Ook vir háár.
Dis nou weer Rudolf wat soebat dat sy moet teruggaan woonstel toe om ’n bietjie te gaan rus.
“Suster het my belowe dat sy pal ’n verpleegster langs die bed sal hê. U moet gaan rus, tante.”
“Maar wat as sy intussen bykom? Wat as sy …?”
Hy knik. “Ek weet nie, maar ons kan nie anders nie. Tante kan nie uur na uur by haar sit nie. Ek sal so dikwels ek kan inloer en by haar bly. Gaan rus nou, asseblief, en dan kan u weer vanmiddag kom. En kry asseblief vir haar nagklere en die ander nodige goedjies, tante. Sy lê nog in die hospitaalkabaai.”
“Ja, ek het ook daaraan gedink. Ek sal alles kry. Nee, ek sal dit self vir haar koop; ek wil dit graag doen, Rudolf. Nou goed dan; ek besef jy is reg. Ek sal moet gaan rus, maar, asseblief, die oomblik dat sy bykom, moet jy my dadelik bel.”
“Ek beloof, en …” Hy druk haar ’n oomblik teen hom vas en soen die grys hare. “Dankie, tante.”
Sy kyk met blink oë na hom op. “Dis eienaardig, nè, seun, dat ’n mens in ’n enkele paar uur so lief kan word vir ’n totale vreemdeling? Dit voel nou vir my dis my eie dogter wat daar lê. Dis amper onbegryplik hoe sterk die band reeds is – al weet sy nog nie eens van my bestaan nie.”
Hy knik, kyk haar agterna. Ja, dis onbegryplik. Twee, drie dae gelede het hy nie eens geweet van haar bestaan nie. Vandag, vanoggend, het sy reeds so ’n intieme deel van sy lewe geword dat hy hom kwalik kan voorstel dat hy haar nooit geken het nie.
Buitengewone omstandighede het hulle met mekaar in aanraking gebring en dis ’n buitengewone, onverklaarbare band wat hulle nou aan mekaar bind. Soos tant Kitty, voel hy op hierdie oomblik dat dit ondenkbaar is dat sy miskien moet sterf, net wegglip uit sy lewe op dieselfde, skielike wyse as wat sy daarin gestap het. Dit sal wees soos om na ’n orkesuitvoering te luister wat meteens in die middel afbreek … ’n onvoltooide simfonie …
In die twee dae wat volg, gaan die stryd voort in die klein private kamer op die tweede verdieping van die groot hospitaal. Tant Kitty is in daardie dae ’n steunpilaar langs die wit bed waar die roerlose gestaltetjie steeds bewusteloos is. Dit is ’n gekom en gaan van dokters, maar die toestand bly onveranderd. Madie bly bewusteloos.
Fisiek skort daar niks ernstigs met haar nie, maar dit lyk asof sy geestelik heeltemal ineengestort het. Skynbaar is daar by haar geen wil om te lewe nie.
Daarom dat matrone Linda Nel wyslik besluit om dinge maar eers hul gang te laat gaan tot tyd en wyl daar ’n keerpunt kom, na watter kant toe ook al. Daardie eerste oomblik toe sy op haar ronde deur die hospitaal langs die bed kom staan en die klein gesiggie herken het, sal sy nie gou vergeet nie.
Dis net selfbeheersing deur baie jare heen in ’n groot hospitaal wat jou leer om jou gedagtes en emosies te verberg.
Sy het haar natuurlik onmiddellik herken. Daardie besonderse gesig kan ’n mens in elk geval nie maklik vergeet nie. Dan ook was die vreemde wyse waarop die onderhoud tussen haar en die meisie verloop het nog ’n rede hoekom die gelaatstrekke haar bygebly het. En nou moes sy hoor dat sy dokter Rudolf van der Merwe se vrou is.
Dat iets hier nie pluis is nie, het sy onmiddellik gesnap. Sy het dit egter daar gelaat. Dit het niks met haar te doen as hy voorgee hierdie meisie is sy vrou nie.
Dat hy ’n goeie dryfveer het, hoor sy baie gou. Die slaapklerestorie en die res soos deur tant Kitty vertel, het ’n vinnige ronde deur die hospitaal gedoen en