Ena Murray Keur 14. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 14 - Ena Murray страница 7

Ena Murray Keur 14 - Ena Murray

Скачать книгу

wat daar gemaak word nie. Toe Catherine dreig om hulle aan die polisie te gaan verkla, het sy regop op die bed gespring asof ’n koeël haar getref het. Sy was nie eens bewus van haar enkel wat nog baie gevoelig was nie.

      Die woord polisie was soos ’n elektriese skok en sy het weer eens die swart waas van vrees oor haar nugter denke voel skuif. Op daardie oomblik het sy weer die paniekbevange meisie geword met net een gedagte: sy moet vlug.

      Sy het nie eens onthou dat sy nie ordentlik geklee is nie.

      Sy het na die venster gesluip, dit saggies wyer oopgestoot en ongeag die pyn in haar enkel, vinnig deurgeklim. Sy moes wegkom. Hulle wil die polisie ontbied.

      Maar al wat Rudolf weet, is dat sy hom eintlik baie swak behandel het; dat sy daarvoor verantwoordelik is dat ’n jare lange verhouding skipbreuk gely het. Al is dit die minste waaroor hy hom nou bekommer. Om die waarheid te sê, hy voel glad nie so ontsteld oor Catherine as wat hy behoort te wees nie. Daar is selfs ’n tikkie verligting in sy hart, so asof hy op die nippertjie ’n ramp vrygespring het. Wel, as daar een mens is wat bly sal wees om van die jongste verwikkelinge te hoor, is dit tant Kitty. Maar as sy die res van die storie moet hoor …

      Dan lui die telefoon en toe hy die gehoorbuis by sy oor bring, herken hy onmiddellik die stem aan die ander kant.

      “Rudolf.”

      Hy laat ’n diep sug hoor en sê gelate: “Middag, tante.”

      “Wat gaan daar by jou aan?”

      “Tante?”

      “Rudolf, ek is nie jou speelmaat nie! Watse getrouery is dit agter my rug waarvan ek niks weet nie?”

      “Vervlaks!” Dit glip uit voordat hy dit kan keer en ’n gevaarlike stilte volg, maar hy kom dit skaars agter. As hy daardie rooikat in die hande kry … Was dit nodig om dit aan tant Kitty te gaan uitblaker? Hy het haar gesê die ou mens weet nog nie daarvan nie.

      “Het jy miskien iets gesê?”

      “Ja. En ek sal binne enkele oomblikke dalk iets ergers sê.”

      “So? Hoekom? Omdat jy jou laat vang het deur ’n meisietjie van vyftien met swart hare en ’n engelgesiggie, volgens wat Catherine sê?”

      “Moenie laf wees nie … ek bedoel, dis twak, tante! Sy’s g’n vyftien nie. Genade, ek sal in die tronk beland …”

      “Jy is nie ver daarvandaan nie, as ek sake reg opsom. Hoe oud is sy dan?”

      “Sy is amper twintig … en sy is nie my vrou nie.”

      “Maar Catherine sê …”

      “Na die duiwel met Catherine. Sy is besete. Ek is nie getroud nie!”

      “Dan is dit nog erger as wat ek gedink het, want daardie vroumens was verlede nag in jou woonstel. Of lieg Catherine weer?”

      “Nee, maar … ja, sy was, maar …”

      “Binne-in jou bed?”

      “Ja, maar …”

      “En in jou slaapklere?”

      “Ja! Ja! Ja! Maar …”

      “Sy het dus verlede nag by jou geslaap?”

      “Sy het in my woonstel, in my bed en in my klere geslaap, maar nie by my nie!” sê hy onnodig hard. Hy voel lus om iets te gryp en deur die venster te smyt. Is al wat vroumens is van gister af skoon getik? Tot tant Kitty ook?

      “Seun, ek ken die Van der Merwes. Ek is self een, al het ek ’n oujongnooi geword.”

      “Tante! Wat bedoel u? Tante dink tog nie …”

      “Ek dink jy is ’n swak Van der Merwe! Toe nou. Dis nie nodig om so hard te snork nie. Luister, ek dink jou ou tante moet ’n slaggie vir jou kom kuier. Aangesien daar dié keer geen gevaar is dat ek en daardie rooikat mekaar daar sal raakloop nie, sal ek sommer vir ’n paar dae kom. Dit kom my voor jy het hulp nodig met jou huweliksakies.”

      “Tant Kitty, dis glad nie snaaks nie. En ek dink u moet maar eers nog ’n rukkie hier wegbly. Ek het genoeg probleme …”

      “Twak! Watse moeilikheid kan ’n jonggetroude paartjie nou al hê?” ’n Diep, geamuseerde laggie bereik sy oor nadat hy klaar gekreun het en toe versober die stem. “Rudolf, ek wil baie graag die storie uit jou eie mond hoor. Dit het na iets geweldig interessants geklink uit die brokke en stukke wat ek uit Catherine kon trek.

      “Sy het my gebel. Was glo op pad Kaap toe. Ek het nie eens geweet sy is al terug uit die buiteland nie. Maar sy wou my darem net verwittig dat my ‘blou-oog-onskuld’ nie méér die man uit een stuk is waarvoor ek hom aangesien het nie; dat hy al veertien dae gelede getroud is met ’n kind wat vir haar beslis nog jonger as sestien lyk. Nadat ek van die ergste skok herstel het, wou ek weet hoe lyk die meisiekind wat jou bene so onder jou lyf uitgeslaan het. Sy moes teen wil en dank erken dat sy pragtig is.

      “Ek het natuurlik ook nie vrygespring nie. Sy het my beskuldig dat ek die ding bewerk het omdat sy weet hoe ek háár verpes. Daaraan het ek my natuurlik nie gesteur nie; sy kan dink wat sy wil. Maar nou kan ek sterf van nuuskierigheid. Hou haar daar totdat ek kom. Ek moet sien hoe lyk ’n meisie wat selfs Catherine beskryf as ’n soort nimf!”

      Rudolf leun terug in die stoel en sluit sy oë. Sal dit dan nooit weer end kry nie?

      “Sy is nie meer hier nie, tante.”

      “Wat bedoel jy … nie meer daar nie?”

      “Sy het weggeloop. In my slaappak se baadjie,” voeg hy as nagedagte by.

      “Wat! Rudolf, het jy tog nie toegelaat dat sy wegloop nie? Watse soort Van der Merwe is jy?”

      “Ek, tant Kitty, is op hierdie oomblik ’n Van der Merwe wat tot barstens toe sat is. As tante wil sien hoe lyk ’n nimf, moet tante maar self na haar kom soek. Ek hoop dat ek haar nooit weer sien nie, want sy het my genoeg sonde veroorsaak. Tot siens.”

      Hy plak die telefoon met mening neer en aan die ander kant sit tant Kitty ook neer. Dis nie Rudolf se geaardheid om ongeskik te wees nie. Die nimfding het hom werklik omgekrap. Sy sal seker maar moet gaan kyk wat daar aangaan. Dit klink al of haar “blou-oog-onskuld” in groot moeilikheid is. Sy nooi is weg, sy vrou is weg en op die koop toe sy slaapklere ook.

      “Kaaatjieeee! Bring my koffer!” Sy kyk die verbaasde huishulp laggend aan. “Ek gaan ’n rukkie by Rudolf kuier. Dit lyk my hy gaan nou eindelik vrou vat.”

      “Die vrou? Daardie Kêtrien?”

      “Nee, watwou! Katrien is iets van die verlede … dankie tog! Ek kan Rudolf net dáárvoor baie vergewe. Toe, wikkel. Ek is haastig. Ek wil voor sononder daar wees, anders slaap dokter vanaand nog kaal.”

      Die ou huishulp skud haar kop en skuifel vinnig na die pakkamer. Dis goeie nuus dat hul dokter nou vrou wil vat, en nog beter nuus dat dit nie daardie Kêtrien is nie. Daardie vrou met die rooi hare! Aikôna!

      Rudolf weet dit is net bluf: hy hoop nie regtig dat hy nooit weer die klein swerweling sien nie. Hoe

Скачать книгу