Annelize Morgan Omnibus 8. Annelize Morgan
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Annelize Morgan Omnibus 8 - Annelize Morgan страница 30
“Dit hang alles van Harmonie af.”
Sy draai om na hom.
“En van jou. Miskien moet jy ’n entjie met haar gaan ry dat sy eers aan jou gewoond raak.”
Hy kyk vinnig op.
“Ek het dit al klaar gedoen, en ons kom baie goed oor die weg.” Hy staan op en sit die saal op die vloer neer. “As ek vandag met Harmonie wen, wil ek haar in die vervolg voor my spaider inspan.”
Rosalie ruk orent.
“Jy kan dit nie doen nie!”
“Dan wen ek nie!”
“Nou goed, verloor dan maar, maar jy sal haar nié vir jóú gebruik vat nie!”
Hy gooi die teuels woedend neer.
“Jy is ’n koppige vroumens! Jy kan hierdie perd vir meer as ’n duisend pond verkoop as sy vandag wen!”
“Sy is vir my meer as ’n duisend pond werd! Sy is die enigste vriend, behalwe oom Markus, wat ek het!”
Samuel byt op sy tande. Uit ondervinding weet hy dat hy Rosalie nie in ’n ding kan dwing nie.
“Dan ry ek haar nie.”
Rosalie lig haar kennetjie.
“Ek kan dit self doen, dankie!”
“Oom Markus sal dit nooit toelaat nie!”
Sy kyk woedend na Samuel.
“Ek hoef maar net vir oom Markus te sê hóékom ek verplig is om die perd self te ry, en dan sal hy my toelaat om dit te doen.” Sy onthou iets anders. “Jy kan die helfte van die prysgeld kry as jy wen.”
Hy lag.
“Ek was in elk geval van plan om alles te vat, ou niggie!”
Rosalie staar hom nog ’n oomblik sprakeloos aan, en dan draf sy by die stal uit op soek na oom Markus.
Samuel weet uit ondervinding dat daardie vasberade stappie van Rosalie net moeilikheid voorspel, en hy hardloop uit om haar te keer.
“Nou goed, jy wen. Ek sal die helfte van die prysgeld vat en Harmonie met rus laat op een voorwaarde.”
Sy kyk agterdogtig na hom.
“En dit is?”
“Dat ek Harmonie se eerste vul kry.”
Rosalie staar hom aan. Haar verstand wil maar nie begryp wat hy sê nie, en toe dit tot haar deurdring, oorval ’n moedeloosheid haar. Samuel is besig om haar af te pers, maar sy het hom al afgedwing na ’n kompromie vir die toekoms. Sy sou nie graag Harmonie se eerste vul wou afgee nie, maar aan die ander kant is sy ook in ’n hoek. Sy wil só graag hê die perd moet vandag wen.
“Nou goed,” sê sy gelate en hy grinnik. “Maar net die eerste vul! Al vrek dit ook na twee dae, kry jy net die eerste vul!”
Hy lag ingenome.
“Top! Ek belowe jou ek sal vandag met haar wen.”
Twee uur later is hulle in die kapkar op pad Harrismith toe. Samuel kom agterna gery op Danser terwyl hy Harmonie aan ’n riem lei. Hy fluit ’n vrolike deuntjie terwyl hy voortry. Wat hy nié aan Rosalie gesê het nie, is dat daar twee perdekopers uit Pietermaritzburg en Bloemfontein vandag op die dorp sal wees. Hy kan dalk ’n goeie prys vir daardie vulletjie nou al beklink. Dalk kan hy nog vir Rosalie ompraat om Harmonie te verkoop en die helfte van die geld in sy sak te steek. So iets kan altyd bewimpel word.
Die De Konings is ook reeds daar, en hulle kom die kapkar tegemoet toe dit eenkant van die pad af trek.
Julius groet oom Markus opgewek.
“Ek sien jy het vir Harmonie saamgebring. Gaan jy haar inskryf?”
Oom Markus lag.
“Dis Rosalie se idee. Sy wil hê die perd moet vandag wen.”
“Renier het reeds vir Storm ingeskryf. ’n Kleinnefie van ons gaan hom ry.”
Oom Markus dink ’n oomblik na en sê dan: “Julle gaan ’n gewigsvoordeel hê. Samuel is die enigste ander een wat Harmonie kan ry.”
Julius lag.
“Voorspoed, buurman! Storm gaan stof in jou merrie se oë skop.”
Rosalie en Samuel neem Harmonie na die plek waar sy ingeskryf moet word. Dan word sy weggelei na ’n klein stalletjie totdat dit tyd word dat die perde na die wegspringplek toe moet gaan.
Haar blik dwaal oor die baan waar die perde moet hardloop. Harmonie ken hierdie soort omgewing van bulte en klipperige grond en steil op- en afdraandes. Dit behoort nie vir haar moeilik te wees om die pas vol te hou nie. As Samuel net nie te haastig met die sweep is nie, sal sy baie goed vaar.
Sy stap stadig terug na oom Markus toe Samuel by ’n paar van sy vriende aansluit. Clara is nie daar nie, en Rosalie vermoed dat sy intussen na Renier gaan soek het. Hulle sluit egter ’n paar minute later weer by Markus se geselskap aan. Toe Clara na die kapkar gaan om iets daar te gaan haal wat sy vergeet het, kom staan Renier by Rosalie.
“Ons sal vandag sien wie die beste daaraan toe is,” sê hy laggend. “Wil jy iets gaan verwed op jou perd?”
Sy skud haar kop glimlaggend.
“Ek wil nie wed nie, Renier, ek wil wen!”
“Ek ook,” sê hy met ’n vonkeling in sy oë. “Ons moet sorg dat ons by die wenpaal is wanneer die perde oor die streep jaag.”
“Hoe laat spring hulle weg?”
Hy haal sy goue sakhorlosie uit en knip dit oop.
“Oor ongeveer ’n halfuur.”
“Dan was ons ook net betyds, of hoe?”
Clara sluit weer by hulle aan en dwing Renier weg van Rosalie af. Rosalie bly alleen agter en kyk hulle ’n lang ruk ingedagte agterna voordat sy na oom Markus en tant Hanna toe oorstap. Sy kom saam met Julius by hulle aan, en daar is nie wegkomkans nie.
Julius lyk baie tevrede met homself.
“Ek glo nie ek hoef my meer oor Renier te bekommer nie, Markus. Hy het belowe dat hy sy verlowing met Clara nog voor die winter sal aankondig.”
Markus glimlag.
“Ek is bly. Ons wag darem al baie lank daarvoor.”
“Te lank. Hulle moes lankal getroud gewees het, maar ek het ’n steeks seun wanneer dit by trou kom.” Hy kyk na Rosalie. “Ek verstaan van ander mense dat jy en Charles Bennet verloof is?”
Rosalie snak