Schalkie van Wyk Keur 14. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Schalkie van Wyk Keur 14 - Schalkie van Wyk страница 8

Schalkie van Wyk Keur 14 - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

sê Floors en klink asof hy werklik belang stel. “Dan is die Rosseau’s nie die oorspronklike eienaars van Huis Groeneweide nie?”

      “Nee, Floors. Juffrou Lerina was al hier toe ek gebore is, by die vyftig jaar gelede, maar my pa en veral my oupa het van die ander mense gepraat. Ek kan nie nou aan die van dink nie, maar ek meen juffrou Lerina sal jou kan sê. Hoekom vra jy haar nie?”

      “Die geskiedenis van ’n ou huis is altyd interessant, maar dis nie belangrik nie, oom Ben. Ek veronderstel Wiandri sal eendag die plek erf, of het juffrou Lerina ander erfgename?” hou Floors sy ondervraging vol.

      Floors is net so nuuskierig soos sy, dink Wiandri met ’n tevrede glimlaggie, geensins bekommerd omdat sy die rol van luistervink speel nie. Sy het die volste reg om in die somerhuisie te sit en lees en as sy toevallig mense hoor praat, mag sy maar luister, redeneer sy verontskuldigend.

      “Geeftig, nefie, ek kan my nie voorstel dat juffrou Lerina Groeneweide aan enigiemand anders sal nalaat nie – nie sy of Grietjie nie, want hulle vertroetel Wiandri van haar kleintyd af soos ’n skaars orgidee. Nie dat ek hulle verkwalik nie: Wiandri was nog altyd ’n soet kind. Sy het hulle nooit enige hartseer of rede tot kommer gegee nie. Ek hoef nie juffrou Lerina se testament te lees nie. Ek weet Wiandri sal Groeneweide erf,” antwoord Ben beslis en kyk Floors skerp aan. “Maar hoekom vra jy my so uit oor juffrou Lerina se besigheid? Is Wiandri nie mooi genoeg sonder ’n groot erfporsie nie?”

      Hoera vir oom Ben, dink Wiandri, en glimlag breed toe ’n donker gloed oor Floors se nek en gesig kruip. Floors het haar getreiter oor haar nat klere en die foto’s van haar in haar bikini, en nou kan sy hom heimlik uitlag oor sy nuuskierigheid.

      “Ek is seker dit sal nie vir Wiandri nodig wees om vir haar ’n man te koop nie, oom Ben, maar wat sal sy met so ’n kasarm van ’n huis doen? Jongmense verkies die opwinding van ’n stad.”

      “Wiandri is ’n kind van Groeneweide, Floors, sy is hier gebore en die ou plek is in haar bloed. As sy trou, sal sy haar man hierheen bring en haar kinders hier grootmaak. Nie dat jy sal verstaan nie, nefie, ek vermoed jy was seker ’n klerkie in die stad en nou sukkel jy om ’n plattelander en ’n handearbeider te wees.” Ben kuglag en skud sy kop meewarig. “Jy is ’n slim kêrel, Floors. Jy ken die Latynse name van die struike en ek sien jy het allerlei dik boeke op jou boekrak in jou woonstel. Soek maar weer vir jou ’n werk in die stad, julle geleerde jongmense het nie liefde vir die grond nie.”

      “Dalk doen ek dit, oom Ben,” antwoord Floors bedroë. “Ek het net toevallig ’n bietjie kennis van plante omdat my pa soveel in tuinmaak belang stel.”

      “Uhm. Moet ’n gawe man wees, jou pa. Dankie vir die gesels, Floors, maar nou moet ek my gereedskap gaan bêre. Dis vyfuur en my werksdag begin met dagbreek – ek het my rustyd verdien.” Ben lig die handvatsels van die kruiwa op, kyk reguit na die somerhuisie en roep gemoedelik: “Naand, Wiandri! Lig loop vir die stadskêreltjie, nooientjie. Hy stel alte veel in jou erfgoed belang!”

      Wiandri leun tussen die jasmynranke deur oor die vensterbank en skaterlag toe Floors onthuts omswaai na die somerhuisie. “Ek het vier jaar lank lig geloop vir stadskêreltjies, oom Ben! Floorsie is net nuuskierig. Nag, oom!”

      Wiandri hoor Ben se genotvolle kuglaggie terwyl hy die kruiwa wegstoot, maar haar oë is vasgenael op Floors se sonbruin bene wat met lang, kragtige hale oor die grasperk na haar toe beweeg. Sy is twee-en-twintig, nie ’n onervare tiener nie, herinner sy haarself en glimlag met liewe onskuld reg in sy oë.

      “Wie is nóú ’n laakbare luistervink, snip?” vra hy met ’n teësinnige glimlag.

      “Daar is ’n verskil, Floors. Ek is deel van Groeneweide en jy is ’n indringer. Ek het die reg om na enige gesprek te luister,” verduidelik sy met smaak.

      Hy staar haar oomblikke lank in stilte aan, sy uitdrukking stroef, en sê ongeduldig: “Klim deur die venster, Wiandri. Ek sal jou help. Ek voel soos Romeo om so te moet opkyk na jou.”

      “Jy sal nie weet hoe om soos Romeo te voel nie, Floorsie, want Romeo was verlief,” spot sy, klim gemaklik op die vensterbank en spring af voordat hy haar kan help.

      “Wat laat jou dink ek het nie ’n vrou en ses kinders by die huis nie?” vra hy vinnig.

      “Omdat my groothartige tant Lerina lankal huisvesting aan jou vrou en ses kinders sou gegee het, aangesien jy werkloos is,” antwoord sy ongesteurd en verwens Floors oor sy woorde. Ís hy getroud? Aantreklike mans soos Floors bly nie lank ongetroud nie. Hy is niks anders as ’n frustrasie nie: Sy wonder oor sy werklike naam, sy werk, en nou nog sy onbekende vrou en kinders, wat moontlik nie eens bestaan nie. Sy vra agterdogtig: “Hoekom is jy so nuuskierig oor Groeneweide, Floors? Wil jy ons huis koop?”

      Hy glimlag skrams. “Ek wens ek kon, maar ek sal nie in ’n leeftyd genoeg geld verdien om dit te kan doen nie. Ek wonder maar net wat jy met die ou plek gaan doen as jy dit eendag erf. Nie alle mans sal bereid wees om op Wernerspan te woon nie.”

      “Sommige mans sal. Mans soos onsuksesvolle skilders en skrywers en digters en werklose sukkelaars soos jy, Floorsie,” terg sy.

      “Dis presies wat ek in gedagte gehad het nadat my vriend my van tant Lerina en haar kleinniggie vertel het. Ek is ’n werklose sukkelaar. Sal jy asseblief met my trou, Wiandri?”

      3

      Wiandri kyk in Floors se oë, sien innerlike lag soos glinsterende sonlig op donker waterkuile in sy diepbruin oë weerkaats en glimlag minsaam.“Dankie, Floorsie. Dis die eerlikste huweliksaanbod wat ek nog gekry het, maar ek durf nie ja sê nie.”

      Floors frons afkeurend. “Jy bedoel ander werklose sukkelaars wou ook ter wille van Groeneweide met jou trou?” vra hy knorrig.

      “’n Hele paar, ja. Sommige jong dokters sit jare lank met studieskuld wat hulle moet afbetaal. Nadat ek die eerste maal ’n mede-aspirantverpleegster Groeneweide toe genooi het, het die storie vinnig in die hospitaalgange versprei: Ek is ’n skatryk erfgename. Geld maak meisies onweerstaanbaar vir mans wat nie kans sien vir ’n skuldlas nie.” Sy kyk op na hom, sien dat hy ernstig na haar luister en vervolg met ’n ongeduldige suggie: “Wat die hele situasie nog snaakser maak, is dat niemand wéét wie Groeneweide gaan erf nie.”

      “Sê jy ek het dalk ’n arm meisie gevra om met my te trou?” vra Floors onthuts.

      Sy gee hom ’n ligte stampie aan die arm en wens toe sy het nie, want die aanraking van haar vingers op sy songebruinde vel laat haar binneste bewe. Sy draai haar kop weg om haar selfbeheersing te herwin en antwoord onverskillig: “Dis reg, Floorsie. Wees liewer lojaal aan jou vrou en jou ses kinders, want ek is net so arm soos jy.”

      “Oom Ben glo jy gaan Huis Groeneweide erf. Glo jy juffrou Lerina sal dit aan ’n liefdadigheidsorganisasie skenk?” vra hy ongelowig.

      “Nee, maar ek het ’n halfbroer, Hugo Rosseau. Hy is baie ouer as ek en ons sien hom nie dikwels nie, maar hy is my pa se enigste seun. Ek sê nie tant Lerina sal my nie in haar testament onthou nie, maar dis vanselfsprekend dat Hugo Huis Groeneweide sal erf,” antwoord sy met oortuigende erns en voel net ’n klein bietjie skuldig oor haar leuen.

      Tant Lerina het haar op haar mondigwording ’n kopie van haar testament gewys en sy weet Huis Groeneweide en alles wat haar groottante besit, sal eendag hare wees – op ’n baie ver eendag waaraan sy liewer nie wil dink nie. Sy weet nie of Floors getroud is nie, maar as hy nog ongetroud is … Dis opsigtelik dat

Скачать книгу