Die vrou in die blou mantel. Deon Meyer

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die vrou in die blou mantel - Deon Meyer страница 2

Автор:
Серия:
Издательство:
Die vrou in die blou mantel - Deon Meyer

Скачать книгу

hier reg onder, voor haar, tot stilstand kom. Stemme. Die gekreun van ’n hek.

      Sy draai om en smelt in die skaduwees van die fynbos weg.

      Sy sal nie vannag kan teruggaan huis toe nie.

      * * *

      Om 05:35, twee uur voor sonop, draai ’n minibustaxi, op pad van Mthatha na Kaapstad, by die uitkykpunt in sodat die bestuurder kan urineer. Hy hou stil en klim haastig uit. Hy sien nie die lyk op die muurtjie nie.

      Die passasiers is dertien vroue – naaisters en skottelgoedwassers, huishulpe en skoonmakers – almal Xhosas. Een van hulle, in die tweede ry sitplekke, sien die onnatuurlike figuur op die muurtjie. Sy roep na Bo. Die ander word wakker, kyk na waar sy wys. Hulle maak die vensters oop en skree vir die bestuurder. Hy sien. Hy skrik, pis op sy skoen en swets. Hy trek sy gulp haastig op, maak die minibus se deur oop en klim in. Hy skakel die enjin aan.

      Nee, sê een van die vroue, bel die polisie.

      Die bestuurder is onwillig. Hy dink daaraan dat dit hulle ure lank gaan vertraag. Sy werkgewer sal ongelukkig wees. En hierdie klaarblyklik lewelose wit vrou het niks met hom te doene nie.

      Hy skud sy kop en sit die bussie in rat. Die koor van agter is luid, verontwaardig en eenparig: Ons ry nie voor jy nie die polisie gebel het nie.

      Hy sug, skakel die enjin af, neem sy selfoon en bel die polisie se noodnommer. Dit lui baie lank. Hy klim solank weer uit, loop versigtig nader aan die lyk. Hy staar tot hy homself vergewis het dat sy dood is. Die polisievrou wat antwoord vra hom om stadiger te praat, en in Engels. Hy rapporteer wat hy sien, beantwoord ellelange vrae oor die ligging.

      Eindelik kan hy aflui. Hy haas hom terug na die bussie, en wil weer ry. Maar die dertien Xhosa-vroue skel op hom. “Ons kan haar nie nou só hier alleen laat nie.”

      * * *

      Die uitkykpunt in Sir Lowryspas is byna ewe ver van Grabouw as van Gordonsbaai, daarom is daar aanvanklik verwarring oor jurisdiksie.

      Die eerste polisievoertuig tref ’n sonderlinge toneel aan, uniek tot hierdie suiderpunt van Afrika: Dertien vroue wat in die laaste donker voor dagbreek in ’n halfmaan om die lyk staan en sag kerkliedere sing, ’n taxibestuurder wat eenkant sit en toekyk.

      Nog patrollievoertuie met nuuskierige sersante en konstabels van die SAPD-kantore op Grabouw en Gordonsbaai daag op, én nog een van Somerset-Wes af. Teen sonop is daar ’n algemene vertrapping van die misdaadtoneel en ’n verkeersopeenhoping op die N2, want wanneer daar ’n oordaad van polisievoertuie langs die pad staan, is motoriste soos skape.

      Dit veroorsaak dat Somerset-Wes se speurders eers ná agt opdaag, en nog ’n uur later die patoloog, video-eenheid en forensiese span.

      Net voor tienuur kondig die patoloog aan dat die oorsaak van dood na alle waarskynlikheid trauma deur ’n stomp voorwerp agter teen haar skedel was. Maar sy is elders vermoor. En dit lyk of die liggaam met ’n oordaad van bleikmiddel gewas is. Gewone huishoudelike bleikmiddel. Hy kan dit duidelik ruik, en die wit vlekke in die kop- en pubishare bevestig dit.

      Daar is geen teken van haar klere of besittings nie.

      Die ambulans vervoer haar, ongeïdentifiseerd en naamloos, na die staatslykshuis in Soutrivier.

      Op Dinsdag 16 Mei.

      3

      Op Woensdagoggend 17 Mei, net ná die Eenheid vir Ernstige en Geweldsmisdade van die Valke – amptelik bekend as die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoeke (DPMO) – se oggendparade, loop kaptein Bennie Griessel in die lang gang van die tweede verdieping af, op pad na sy kollega Vaughn Cupido se kantoor.

      Hy het nuus om oor te dra. En ’n guns om te vra. Maar dit gaan ’n proses wees, want hy kén vir Vaughn. Hulle werk al amper ’n dekade lank saam, elke dag.

      Hy klop aan die oop deur se kosyn, stap in. Cupido hou hom dop en sê: “Jy gaan nog deur jou eie gat val.” Want Griessel het agt kilogram verloor sedert hy (weer) ophou drink en ernstig begin fietsry het.

      Griessel reageer nie, trek net ’n stoel uit en gaan sit.

      “Almal word maer, dis net ek wat dik word,” sê Cupido. Dit is nie die volle waarheid nie. Net Griessel en majoor Mbali Kaleni, hoof van die eenheid, het gewig afgeskud. Maar Cupido voel skuldig, want Desiree Coetzee, die nuwe vrou in sy lewe, maak lekker kos. En hy eet dikwels daar, deels om sy belange te beskerm, deels omdat hy regtig van haar kookkuns hou.

      Griessel laat die bom bars: “Ek gaan vir Alexa vra om te trou.”

      “Jissis.”

      Griessel het dié reaksie verwag en steur hom nie daaraan nie. “Ek moet ’n ring gaan soek, Vaughn. Ek het raad nodig …”

      “Let me get this straight,” sê Cupido. “Jy’t al klaar jou vingers verbrand met ’n first marriage.”

      Griessel knik.

      “En jy’s ’n alcoholic.”

      “Honderd-sewe-en-veertig dae skoon.”

      “En Alexa is ook ’n alkie.”

      “Sewehonderd-drie-en-sestig dae skoon.”

      “She’s a rich woman en jy’s ’n police captain wat financially speaking basically in jou moer in is met die film school fees vir jou laaitie.”

      Weer knik Griessel.

      “Sy’s hierdie famous former singing star, en jy’s ’n nobody wat oor die weekends bass guitar speel in ’n geriatric covers band.”

      “Nie geriatric nie. Middle-aged …”

      “And yet, you’re going to ask for her hand in marriage, and you’re telling me it’s because you love each other.”

      “Ja.”

      “Jy’t dié ding mooi deurgedink?”

      “Ek het.”

      Cupido kyk na hom. ’n Rilling deur sy lyf en hy skud liggies sy kop. Hy staan op: “Cool. Let’s go. Waar koop ons die ring? Sterns? American Swiss?”

      “Mohammed Faizal.”

      “Oh, I see. You want to start this marriage proposal off the proper way, by buying stolen goods.” En dan vra hy terwyl hulle uitstap: “Love Lips? Is hy nog hier rond?”

      “Pawn shop in Goodwood.”

      “Was hy nie eers in Maitland gewees nie?”

      * * *

      Cupido is stil terwyl hulle al met Voortrekkerweg langs deur Bellville ry. En dan Parow, waar Griessel grootgeword het. Bennie kyk na die oneindige ry tweedehandse motorhandelaars wat soos indringerplante met mekaar meeding, en hy dink in twintig jaar se tyd het niks verander nie. En tog, Parow lyk beter as ’n dekade gelede; skoner, netjieser, ekonomies meer aktief en lewendig.

      Snaaks hoedat ’n mens dink ’n plek sal tot niet gaan wanneer jy

Скачать книгу