Die vrou in die blou mantel. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die vrou in die blou mantel - Deon Meyer страница 3
“Married life.” Met daardie filosofiese stemtoon wat sê hy is nou ernstig, Griessel moenie grappies maak nie.
“Dis nie asof ek ’n ekspertgetuie is nie, Vaughn. Ek was nog net een keer getroud, en ek was net die eerste sewe jaar daarvan nugter …”
“Ma’ hoe was dit? Daai nugter jare?”
Griessel dink na voordat hy antwoord: “Dit was lekker. Dit was … Hel, Vaughn, ek is getroud toe ek vier-en-twintig was – op daai ouderdom is alles lekker en jy sien niks van die onheil nie …”
“Scares the shit out of me,” sê Cupido. “Elke keer as Desiree iets sê wat construed kan word as ’n reference to a long-term relationship of trou, dan trek my maag op ’n knop. Jissis, Benna, ek is nou al so lank ’n bachelor, hoe sal ek maak? En daai laaitie van haar … Hoe is ’n mens ’n pa vir ’n anner man se kind? Want hy soek dit, ek kan sien hy soek ’n pa, of at least a fatherly figure …”
Daar is ’n ruk lank stilte, tot Cupido sê: “Ek weet dis nie my besigheid nie, but why now? If it ain’t broken, vir wat wil jy nou julle relationship try fix met marriage?”
“Want dit sal vir Alexa gelukkig maak.”
“En vir jou?”
“As sy gelukkig is, is ek gelukkig.”
“So that’s love?”
Griessel trek net sy skouers op.
* * *
Mohammed “Love Lips” Faizal se nuwe pandjieswinkel is op die hoek van Alice en Voortrekker in Goodwood. Die naam Cashcade staan in groot swart letters teen ’n heldergeel agtergrond.
Hulle parkeer oorkant die straat en klim uit.
“Too clever for his own good,” merk Cupido op terwyl hulle oor Voortrekkerweg draf. “Jou pawn shop regular gaan nie ’n clue hê lat jy met wordplay besig is nie.”
Op die sypaadjie is tweedehandse stoele uitgestal, net binne die deur ’n bondel fietse. Die winkel self is in skemer gehul, want meubels is bo-op mekaar gepak tot teenaan die dak, elke beskikbare ruimte volgeprop met huisraad, huisware, toebehore, gereedskap.
Faizal en ’n handlanger is diep binne die winkel besig om ’n tafel van onder ’n stapel uit te probeer kry. Faizal herken vir Griessel en sê: “Hoesit, Bennie.” Sy dik lippe glimlag. “Ek’s nou daar,” beduie hy na die toonbank by die westelike muur.
“Okay,” sê Griessel. Hy en Cupido loop na die toonbank toe.
Cupido talm by ’n rangskikking van ou 8 mm-filmprojektors en -kameras. “Unbelievable hoe dinge verander,” sê hy. “My dadda het een van dié gehad. Jou average cell phone vat nou beter video. From state of the art to antique in half a lifetime …”
En dan kyk hulle al twee wanneer die voordeur verdonker. ’n Jong man staan daar met ’n groot, plat, vierkantige voorwerp in sy arms. Hy steek vas, kyk verbaas na die twee speurders. Sy oë soek na Faizal, dartel terug na die speurders. Daar is ’n senuagtigheid aan hom, en dan kom die besef – dis polisiemanne wat hier staan.
Griessel en Cupido ken dié benoude reaksie al sedert hulle konstabels op patrollie was – die liggaamstaal van in flagrante delicto. Dit is ’n oer-oomblik waarin niemand beweeg nie, jagter en prooi teenoor mekaar, metend, voor die jaagtog begin.
Cupido reageer eerste. “Hei!” sê hy en begin na die man toe loop.
Die man los die groot, plat, vierkantige voorwerp sodat dit skeef staan teen die deur. Hy spring om en hardloop.
“Hei!” skree Cupido harder en sit hom agterna.
Cupido in sy steenkoolswart pak (“… with just a hint of a white pinstripe, retro-classic, pappie; helse bargain, ek het hierdie buddy wat by Rex Trueform werk …”), in sy post-rebelliefase, want sy klere het ’n paar maande gelede baie helder en baie informeel geprotesteer teen majoor Mbali Kaleni se aantrekkode, maar nou is hy weer sy ou pierewaaier-self.
Griessel hardloop tot in die deur, sien hoe die jong man met groot spoed en teen die verkeer in met Voortrekkerweg af hardloop, stad se kant toe. Hoe Vaughn Cupido met sy paar ekstra kilogramme en sy kispak en sy skerppuntskoene moedig probeer, maar die verdagte is jonk en vinnig. Bennie weet hy’s ’n nóg stadiger naelloper as sy kollega.
Hy sien hoe Cupido op die middelmannetjie moet spring om nie deur ’n motor getref te word nie. Griessel dink nie, hy gryp ’n Silverback-bergfiets uit die bondel by die deur, spring daarop, begin trap.
Oor die Alicestraat-kruising. ’n Volkswagen Golf met vet buitebande se toeter klink skerp op. Griessel ry tot in die linkerbaan. Hy werk die fiets se ratte – dit loop seepglad – en die pante van sy baadjie (bruin, tien jaar oud, lankal uit die mode) wapper in die wind. Hy haal eers vir Cupido, wat baie hard blaas, in. By die Goulburn-kruising steek hy sy kollega verby en Griessel skree: “Ek sal hom kry!” Hy trap nog harder, bewus van hoe lekker dié fiets ry, bewus van sy fiksheid – dank Vader hierdie ding het nie ses maande gelede gebeur nie. Hy sien hoe die voortvlugtige daar onder by Fitzroystraat links af verdwyn. Hy sien Leeukop in die verte, perfek geraam deur die geboue aan weerskante van Voortrekker. Hy’t agttien jaar lank in Parow grootgeword en hy kan nie onthou dat hy Leeukop ooit so mooi van dié kant af gesien het nie. Eienaardige gedagtes flits deur sy kop. Hy het as skoolseun laas in Voortrekkerweg met ’n fiets gejaag. Hy sien die afstand tussen toe en nou en dit laat hom ’n oomblik lank skrik, want hoe vinnig het dit alles nie gebeur nie. En hy dink: Die groot, plat, vierkantige voorwerp wat hierdie jong man by die pandjieswinkel aangebring het, minstens is dít daar, hulle sal kan sien wat hy gesteel het.
En: Dit lyk of ’n verdagte gesteelde goedere by Mohammed Faizal aangebring het. Dit gaan ’n ongemaklike gesprek tot gevolg hê …
En: Hy sweer, vyf-en-twintig jaar gelede sou hy hierdie kêreltjie ingehardloop het, hy was rats in die ou dae.
En: Jissis, maar hierdie fiets ry lekker, baie beter as sy ou swart-en-wit Giant wat ook al vyf jaar oud is.
En: Fok, dit beteken hy’s al ses jaar gelede geskei, waarheen gaan die tyd?
Hy verwissel nog ’n rat. Hy ry soos die wind, rem skerp vir die Fitzroy-afdraai en dan besef hy die verdagte hardloop stasie se kant toe. Hy maak die draai by die hoek waar Pop Up Tyres sit, sien hy haal die jong man nou vinnig in. Maar is hy betyds? Want die Goodwood-treinstasie is net hier voor …
Hy trap. In een van die klein voortuintjies staan ’n ouma en water natlei. Sy kyk na Griessel wat verbysnel en skree: “Aitsa!”
Die voortvlugtige is in Stasiestraat, hy draai weer links, stasie se kant toe, nou slegs veertig meter voor.
Griessel maak die draai. Sy oë begin traan van die wind, maar hy sien die grys stasiegebou, nuut geverf en netjies, met sy rooi dak, voetgangers wat na die hardlopende jong man kyk, dan na hom. Die verdagte laat spaander na die stasie se ingang en Griessel maak die gaping byna toe. Hy moet die remme styf trek, en die agterwiel sluit en maak ’n hoë kermgeluid. Hy smyt die fiets neer en volg die man teen die trappe op tot op die perron. Hy sien hoe die voortvlugtige voor die wagtende metrotrein se neus verbyhardloop, net voordat die trein wegtrek en Griessel dwing om te wag, uitasem, tussen passasiers wat uitgeklim het.
Eindelik