Die vrou in die blou mantel. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die vrou in die blou mantel - Deon Meyer страница 4
Griessel stoot die fiets by die winkel in. Hy verwag Cupido sal dadelik vra wat gebeur het, maar sy kollega en Love Lips is nie eens bewus van sy terugkeer nie. Hulle is in ’n hewige argument gewikkel.
“Sê my hoe?” kom dit van Faizal met die vlesige lippe, desperaatheid in sy stem. Hy is lank en pynlik skraal, sy abnormaal groot hande nou aan die beduie.
“Ma’ vir wat kom hulle hie’ aan?” vra Cupido beskuldigend.
“Ma’ sê my hoe hou ek hulle weg? Weet jy wat staan da’ op die muur?”
“People of Cape Town, bring me your stolen goods …”
“Very funny. Wat staan da’ op die muur?”
“I don’t care …”
“Da staan ‘Cashcade’. Daai beteken ’n cascade of cash. Daai’s why hulle die goed hie’ aanbring. Virrie geld …”
“Jy dink ek weet nie wat ‘Cashcade’ beteken nie? Which is, by the way, heeltemal te clever vir jou average pawn shop client …”
Love Lips sien eindelik vir Griessel en sy hele maer lyf is ’n pleidooi: “Bennie! Sê vir dié man my boeke is skoon. Sê vir dié man dis hoekom jy, a captain in the Hawks for God’s sake, een van my most loyal clients is. Sê vir hom …”
“Wat wil jy hê vir dié Silverback?” vra Griessel en beduie na die bergfiets.
Faizal kyk na Cupido. “You see? You see? Captain in the Hawks, en hy gee my nie gas oor stolen goods nie, hy vra wat wil ek hê vir die bike. Bennie, daai is jou Silverback Sesta, daai is top of the range, disc brakes, shocks front and back, vir jou, as my loyal customer, twaalfduisend.”
“Bliksem,” sê Griessel.
“Negotiable,” se Love Lips. “Always negotiable.”
“Wa’s daai fiets se papiere?” wil Cupido weet.
“In my office …”
“Mohammed is skoon, Vaughn,” sê Griessel.
Cupido maak ’n snorkgeluid agterin sy keel, skepties. “Wat’s in daai parcel wat die fugitive hier gelos het?”
* * *
Faizal trek die bruinpapier af van die vierkantige, plat voorwerp wat die verdagte jong man net binne die deur gelaat het.
Dit is ’n skildery, min of meer honderd-en-vyftig by honderd-en-vyftig sentimeter.
“Holy moly,” sê Faizal.
“It’s not that bad,” sê Cupido.
“Nee, dis nie die quality nie, dis die subject matter,” sê Love Lips en frommel die groot stukke bruinpapier op, gooi dit eenkant. Griessel tel die skildery op en draai dit sodat die regte kant bo is. Dan staan hulle terug en kyk. Dit is ’n naakstudie in helder akriel, ’n vrou wat op haar maag op die bed lê, haar opgeligte voete – met hoëhakskoene aan – naaste aan die kyker, haar kop met die golwende swart hare die verste, die gesig effe versluier en weggedraai. Selfs vir hul onkundige oë is die gehalte effe verdag, amateuragtig: Die skaal en perspektief is vaagweg gebrekkig, maar nie só dat jy dadelik die fout kan uitwys nie.
“Daai’s vir jou unacceptable?” vra Cupido. “Daai? Bum of a white woman?”
“Nee, da’s niks verkeerd met daai boude nie,” sê Faizal met groot geduld. “Dis die blou.”
Die deken waarop die vrou lê, is diepblou. Die materiaal is oor die bed en voetenent gedrapeer; dit maak sierlike voue om haar borste respektabel te hou en oorheers die skildery se kleure.
“Wat is verkeerd met die blou?” vra Griessel.
Faizal sug. “Kom kyk hier,” sê hy en stap dieper die winkel in. Hy roep luid na agter: “Harry, gooi vir ons die ligte aan!”
Faizal gaan staan tussen ’n stapel ou staatsdienslessenaars en ’n hoop skuimrubbermatrasse, waar twintig of meer skilderye regop op hul sye staan, almal min of meer vierkantig, die meeste daarvan groot, slegs enkeles kleiner.
Die neonligte teen die dak flikker en kom aan.
“Vir wat hou jy die plek so donker?” wil Cupido weet.
“Second hand goods under a spotlight? Jy’s duidelik nie ’n retail expert nie, my broe’,” sê Faizal, die broederskap in sy stem maar dun.
Hy wag dat Cupido reageer, maar kry niks. Hy draai terug na die skilderye. “Kyk hie’, die eerste tien of so.” Love Lips kantel die skilderye stadig, een vir een, soos die blaaie van ’n boek. Elkeen het ’n vrou daarop; ouer vroue, jongeres, swart, wit, skraal en mollig, geklee, ongeklee, daar is net twee elemente wat hulle almal gemeen het – ’n vrou, en die kleur blou wat feitlik altyd oorheers. Daar is ’n Xhosavrou met ’n bondel vuurmaakhout op haar kop; haar rok en bypassende kopdoek is ’n diep vlootblou. ’n Gryskopvrou wat poseer op ’n stoel wat byna lyk soos ’n troon; die bekleedsel is kobaltblou. ’n Bruin vrou breek granate by ’n kombuistafel oop; die tafeldoek is ’n blou wat grens aan turkoois. ’n Wit tienermeisie leun haar kop teen ’n perd se nek; haar rybaadjie is vlootblou.
“Nou, die laaste paar maande …” sê Faizal. “Hulle kom hie’ in en hulle tune my: ‘Lips, hie’s die vrou innie blou.’ ”
“Die vrou innie blou?” vra Cupido.
“Net só. Die vrou innie blou. En ek vra elke keer: ‘Wat meen jy, die vrou innie blou?’ En dan tune hulle my: ‘Nee, die grapevine sê da’s groot geld innie vrou innie blou.’ En ek sê elke keer: ‘I don’t know what you’re talking about.’ Dan tune hulle: ‘Nee, daai issie rumour, someone is looking for a classic, original painting, not a print, but an original painting, die vrou innie blou.’ As if that’s the freakin’ title, versta’ jy?”
“Die vrou innie blou,” proe Cupido weer aan die woorde terwyl hy nou self deur die skilderye blaai.
“Net só,” sê Love Lips Faizal.
“En dan, wat maak jy?”
“Ek pawn ma’ elkeen soos hulle inkom. Everything by the book, though. ID, proof of address, the works. All in the files.”
“Vir hoeveel pawn jy dié prentjies?”
“Fifty bucks, mostly.”
“Jeez.”
Faizal trek sy skouers op. “Dis wat die goed werd is …”
“Mohammed, die verloofringe …” sê Bennie Griessel, want hy het vir Faizal al oor die telefoon gesê waarna hy soek.
Faizal is dankbaar dat die onderwerp verander word. “Ja, Bennie, congrats, by the way. Alexa is a fine woman.”
“Hoe ken jy vir Alexa?” vra Vaughn Cupido.
“I read the magazines, my broe’.” Want Alexa Barnard was