Die vrou in die blou mantel. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die vrou in die blou mantel - Deon Meyer страница 5
Cupido knik net.
Faizal wys met sy duim na agter. “Die ringe is da’ in die office safe. Kom saam.” En terwyl hulle stap: “Jy weet wat hulle sê, Bennie, the three rings of a relationship?”
“Nee.”
“The first ring is the engagement ring. Then comes the second ring, that’s the wedding ring. And eventually, there’s the third ring. That’s the suffering …” En Love Lips lag.
“Inappropriate, brother,” sê Vaughn Cupido afkeurend. “Jy sê nie daai vir ’n man wat op troue staan nie.”
* * *
“Dan hoop ek nou ma’ dis appropriate om te praat van die four c’s,” sê Faizal met ’n titsel sarkasme en ’n sydelingse blik na Cupido. Hulle sit om die lessenaar in sy kantoor, ’n vertrek wat in teenstelling met die chaos van die winkel verbasend netjies is; goedkoop staalrakke teen die mure bevat honderde lêers, Love Lips se trotse rekordhouding van elke transaksie.
Op die lessenaar lê vier juwelierskinkborde met fluweel uitgevoer, die diamantringe blink in netjiese rye uitgestal.
Cupido reageer nie op die sarkasme nie.
“Bennie,” sê Faizal, “when it comes to choosing a diamond ring, you need to take into consideration …” Hy lig sy twee tamaai hande en tel op sy vingers af: “Cut, carats, colour and clarity. Hoe beter jou four c’s, hoe beter is die diamond. En hoe meer kos hy. Jy kry jou moerse baie carats, soos dié een, very impressive, ma’ die colour en die clarity is baie iffy, so dis hoekom hy in die below seven thousand tray is. Hierdie tray hier, dis seven to fifteen, dié een is sixteen to twenty-five, en dié een is twenty-five thousand and above. And to be honest, vir ’n vrou soos Alexa Barnard wil ons nie rêrig na iets kyk onder die twenty-five nie.”
“Ai,” sê Bennie Griessel.
* * *
“Twee-en-twintigduisend rand,” sê Griessel terwyl hulle terugry na die Valke se hoofkwartier in A.J. Weststraat, Bellville.
“I feel you, Benna,” sê Cupido. “Ma’ ek dink nog steeds Alexa sal happy wees met ’n kleiner ring. Of ’n flawed stone. She’s a class act.”
“Dis nie die probleem nie, Vaughn. Alexa sal sê ons het nie eens ’n ring nodig nie. Maar kom ek sê jou wanneer die ring tel. Daardie oomblik wat die vriendinne dit sien. Wanneer hulle so aangestoom kom en sê: ‘Oe, oe, Alexa, ons hoor jy’s verloof, wys, wys.’ Jy wou netnou weet wat liefde is. Dís liefde. Om die vrou in jou lewe nie te laat skaam kry wanneer sy op daardie oomblik die ring moet wys nie.”
“I see,” sê Cupido nadenkend. En na ’n rukkie: “So, basically is jy in jou moer.”
“Dis reg. Ek het g’n idee waar ek twee-en-twintigduisend rand gaan kry nie.”
5
Dit is baie soos die hond wat die bus gevang het, sal sersant Tando Duba, die speurder van die SAPD op Somerset-Wes, later vir sy kollegas vertel: Jy soek ’n lekker groot, vet moordsaak, want dit beteken aandag van bo, en aandag van bo plus ’n goeie ondersoek plus ’n skuldigbevinding beteken bevordering. En bevordering beteken ’n beter salaris, en die Vader weet, lede van die SAPD kan altyd doen met ’n beter salaris. So, dis die bus wat deur alle speurders gejaag word: ’n lekker groot, vet moordsaak.
Totdat jy die een is wat die saak vang van die vermoorde vrou daar bo in die pas, op die muurtjie. Die een wat die koerante dadelik in groot letters op die voorblad gedoop het; die “Gebleikte Lyk” in Afrikaans, want dit rym, en die “Bleached Body” in Engels, want dit allitereer.
Ongetwyfeld ’n lekker groot, vet moordsaak. Want jy sien jou naam op die Woensdagoggend in die dagblaaie, en dis lekker, want dis ’n eerste vir jou, dié groter, wyer publisiteit. En jou stasiebevelvoerder gee jou al die hulp wat jy nodig het, want die mediakollig is nou op die hele SAPD-kantoor in Somerset-Wes. En die speurhoof van die Wes-Kaap – ’n generaal! – bel jou persoonlik om jou sterkte toe te wens en ondersteuning te beloof. En jy besef hierdie bus is ’n groot bus, ’n vet bus, ’n droombus. Dis ’n bus wat jou ver kan vat.
En dan deur Woensdag en Woensdagnag maak jy net mooi geen vordering nie. Niks.
Ná die stortvloed van ademlose publisiteit het jy gewag dat die telefoon moet lui sodat iemand die Gebleikte Lyk ’n naam en ’n adres en ’n geskiedenis kan gee, sodat jy motief kan bepaal en verdagtes kan identifiseer. Maar niks. Jy het die beskrywing van elke vermiste persoon van die Kaap tot in Knysna aangevra, jy het bulletins uitgestuur, jy en jou kollegas het gebel en gespeur, en jy kry niks. “Akukho nto eyichazayo,” soos sersant Tando Duba in sy Xhosa-moedertaal vir sy vrou oor die telefoon sê. Niks.
En elke vyf minute kom vra die skakeloffisier of daar nuus is, want die media wil weet. Elke vyf minute, tot dit vir jou voel of die media ’n woedende, honger dier is wat net wil vreet en vreet, en jy het niks meer om dit te voer nie, en jy weet as jy niks kry nie, is jý volgende op daardie spyskaart.
Dan begin jy voel soos die hond wat die bus gevang het. Ongemaklik. Want dié groot, vet bus loop skynbaar nie net na bestemming Bevordering nie. Daar is ander plekke waar hy ook kan stop.
Op die Donderdagoggend vra jy die mediaskakeloffisier om jou uit te los. Dan roep jou stasiebevelvoerder jou in en hy sê op sy gewone rustige, wyse manier vir jou: “Tando, jy kan die media sien as jou vyand, of jy kan die media sien as jou vriend. My raad is, gaan vra die lykshuis in Soutrivier om die gesig van die Gebleikte Lyk so ’n bietjie op te dollie, en dan laat jy foto’s neem, en dan plaas jy daardie foto’s in die einste koerante en op die einste nuuswebwerwe wat jou nou so lastig val. Dan laat jy die media vír jou werk.”
Dan voel dit vir jou die bus is weer op koers.
* * *
“’n Verloofring?” vra die vrou by die bank.
“Ja,” sê Griessel.
Tussen hulle lê sy leningsaansoek.
“Vir uself?” vra sy vriendelik maar met die vae intonasie dat dit seker nie kan wees nie. En hy kan haar nie kwalik neem nie, want hier sit hy, sewe-en-veertig jaar oud, die spore van alkoholisme en dekades se polisiewerk op sy gesig, sy hare te lank, te deurmekaar en al hoe meer grys, sy oë, sy eienaardige oë wat al as “Slawies” beskryf is – hy het geen idee wat dit beteken nie – wat wys hy het al baie beleef, baie gesien, en die meeste daarvan was nie goed nie.
“Ja, dis vir my,” sê hy met groot geduld. Want wat anders kan jy doen by die bank?
“U het reeds die studielening …” Asof hy dit nie weet nie. Sy seun, Fritz, wat ’n eerstejaar is by AFDA, die filmskool. Dit maak hom bankrot, die studiegelde grens aan misdadig.
“Dis reg,” sê hy terwyl sy moed sak.
“’n Verloofring … Dis nie goeie sekuriteit vir ’n lening nie …” En sy laat die sin in die lug hang, sodat hy sy eie, mismoedige afleidings kan maak.
“Ek kan dink.”
“En die instansie waar u dit wil koop … Dit is nie een van