Tweede kans op liefde. Elza Rademeyer

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Tweede kans op liefde - Elza Rademeyer страница 6

Tweede kans op liefde - Elza Rademeyer

Скачать книгу

      “Hy’t elke maand my salaris by die bank op die dorp inbetaal,” tree Josua ook toe tot die gesprek. “Nooit een keer oorgeslaan nie.”

      “Het julle die vrou geken met hy wie hy in later jare getroud was?”

      Siena skud haar kop: “Nee. Hy het nooit van ’n vrou of kind gepraat nie. Ons weet eintlik niks van hom nie. Ons het nie eens geweet van meneer voordat die vrou van die huis ons van meneer vertel het nie. Gaan meneer nou hier kom boer?”

      “Ek het nog nie besluit nie. Ek sal alles eers wil deurkyk, want ek weet nie eens hoe groot die plaas is, en of hier enigiets is waarmee ’n mens kan boer nie.”

      “Ek weet waar die grensdrade loop,” sê Josua. “Hier is ’n paar beeste en skape ook. Nie baie nie, maar darem iets wat mens aan die lewe kan hou.”

      “Wat van ons?” vra Siena terwyl sy hom in die oë kyk. “Moet ons oppak en trek?”

      “Trek? Nee, ek hoop nie julle wil trek nie. Ek gaan mos nooit alleen kan boer nie.”

      Josua kug en glimlag breed: “Beter werkers as ons sal meneer nêrens kry nie. Ons ken die plaas van hoek tot kant, en meneer Dirk was nog altyd baie tevrede met hoe ek die bees en skaap versorg.”

      Mynhard merk dat Siena se gesig ook lyk asof die son daaroor opkom. “Dan is dit goed,” stel hy hulle gerus. “Ek dink ons gaan lekker saamwerk.”

      Josua stap ongenooid saam met hom terwyl hy die plaas bekyk en gee net so ongevraagd sy raad.

      Mynhard geniet dit, al kry hy soms lag vir die voorstelle wat hy opper. “Nee,” keer hy naderhand. “Bloudraad werk vir sommige dinge, maar nie vir alles nie. Dit gaan ook nie keer dat die skuur inmekaar tuimel nie. Ek dink ons moet maar ’n nuwe skuur oprig.”

      “Dit lyk my meneer het geld?” sê-vra Josua.

      “Genoeg om ’n paar verbeteringe aan te bring. Is hier iemand in die omgewing wat bouwerk doen?”

      “Meneer kan by Goudbaai se hotel by juffrou Minette gaan verneem na bouers. Sy’t in die omgewing grootgeword en bly nog al die jare hier. Hier is nie ’n enkele mens wat sy nie ken nie.”

      Daar is diepe dankbaarheid in Mynhard toe hy later terugkeer na Oewersdal. Hoekom sy pa nooit van hom laat hoor het nie, weet hy nie. Hy sal ook nooit ’n antwoord kry nie. Om te begin is daar min wat hy moet aankoop vir die huis, want dis gemeubileer. Daar is ook ’n trekker in die skuur, implemente, die vee, en daarmee saam het hy ook Josua en Siena as werkers. Dis meer as genoeg vir ’n man wat motors moes heelmaak vir ’n bestaan.

      Op pad terug Oewersdal toe, val dit hom by dat hy nog die muurprop op Goudbaai moet gaan koop. Dit laat hom ook onthou dat Josua gesê het hy moet die meisie by die hotel na bouers vra. Twee vlieë met een klap. Hy ry stadig om alles rondom hom in oënskou te neem. Nou en dan kom daar vae herinneringe na vore, soos toe hy verby die afdraaipaadjie na die waterval ry, en by die laerskooltjie op Oewersdal.

      Daar is niemand by die ontvangstoonbank van die hotel nie. Hy lui die klokkie wat daar staan, en feitlik oombliklik gaan ’n deur aan die ander kant van die gang oop, en kom ’n vrou soos ’n warrelwind daar uit en kom neem agter die toonbank stelling in. Sy laat bars haar kougomborrel met ’n knalgeluid, maar dit stel haar nie in die minste in die verleentheid nie.

      Sy glimlag breed en groet vriendelik: “Goeiemiddag. Jy moet ’n besoeker wees, want ek het jou nog nie voorheen gesien nie. Waarmee kan ek help? Soek jy ’n kamer?”

      “Sê net eers, is jou naam Minette?”

      “Die einste. Hoe weet jy dit?”

      “ ’n Werker van Koppie-alleen het vir my gesê ek kan by jou kom verneem na bouers. Jy ken glo almal in die omgewing.”

      “Ja, ek ken al die bouers. Hoekom soek jy ’n bouer?”

      “Ek gaan binnekort op Koppie-alleen kom boer, en daar is ’n paar verbeteringe wat ek wil aanbring. Onder meer ’n nuwe skuur laat bou.”

      “O. Het jy die plaas gekoop?”

      “Nee, geërf, van ’n pa wat ek nie eens geweet het nog bestaan het nie.”

      “Jou pa, was hy Dirk Malan?”

      “Ja. Hoe weet jy dit? Het jy hom geken?”

      “Nie eintlik nie. Maar as jy sy seun is, moet jou naam mos Mynhard wees?”

      “Dis reg, ja. Ek is Mynhard.”

      “Goeiste, maar jy het omtrent verander. ’n Man geword! Ek onthou jou as so ’n klein maer seuntjie met knopperige knieë. Ek het eendag by die skool ’n helse pak slae by juffrou Brand gekry oor ek pouse een van jou toebroodjies gegaps het. Dit het vir my net te lekker gelyk.”

      “So ons was saam op skool?”

      “Ja, maar nie eens ’n volle jaar nie, toe is jou ma mos dood en is jy weg. Miskien onthou jy my bynaam, Sproetjies?”

      “Om eerlik te wees, nee.”

      “Toe maar, ek het jou ook nie herken nie, en ek is darem seker goed vier jaar ouer as jy. So jy sê jy gaan nou kom boer?”

      “Dis die plan, ja. Ek gaan my egter eers volgende maand permanent hier kom vestig. Kan jy my enigiets omtrent my pa vertel?”

      “Hy het so ’n paar keer hier in die hotel tuisgegaan, maar was nie spraaksaam nie. Ek het gou agtergekom hy hou nie daarvan ’n mens moet hom uitvra nie.”

      “Ek weet nie eens hoe hy gelyk het, of hoekom hy my ma destyds gelos het nie.”

      “Jy lyk nogal baie na hom. Dieselfde lengte en dieselfde donker hare. Verder weet ek ook maar niks nie. ’n Kind neem mos nie notisie van grootmensdinge nie. Waar was jy al die jare nadat jy hier weg is?”

      Nadat hy haar ingelig het, is dit haar beurt om hom van haar omstandighede te vertel. “My ma is mos dood toe ek nog klein was. My pa was Koen Fiets. Al die jare ’n fiets gery, hom aan alkohol vergryp na my ma se dood, en in sy dronkenskap voor ’n vragmotor beland. Gelukkig was ek darem al in matriek toe hy dood is, en kon die skoolhoof vir my werk hier by die hotel kry. In die begin sommer net as ’n skoonmaker, maar deesdae is ek hier by ontvangs, en wanneer die eienares nie hier is nie, bestuur ek sommer die hotel. Ek werk baie lekker hier.”

      “Kan jy my die naam van ’n bouer gee?” vra hy gou toe daar mense by die deur inkom. “Voordat jy besig raak. Ek wil nog ’n paar dingetjies gaan doen.”

      Sy krabbel ’n naam en telefoonnommer op ’n stukkie papier en stoot dit voor hom in. “Probeer oom Koot eerste. Hy werk netjies en is nie te duur nie.”

      Terug by die huis op Oewersdal, hou hy voor sy hek stil, en klim uit om die klokkie by Tessa se hek te druk, maar dan pak die moedswilligheid hom. Sy sal die muurprop neem en omdraai huis toe. As hy oor die muur klim, nooi sy hom dalk vir koffie. Dit sal nie help om te ontken dat hy skaamteloos nuuskierig is oor wat tussen haar en haar man aan die gang is nie.

      Sy is duidelik nie lus om hom binne te nooi toe sy die kombuisdeur oopmaak nie, maar hy skuur eenvoudig langs haar verby en trek vir hom

Скачать книгу