Tweede kans op liefde. Elza Rademeyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Tweede kans op liefde - Elza Rademeyer страница 7
Hy maak asof hy haar onsekerheid nie raaksien nie. “Ja, hier is dit. ’n Koppie koffie sal darem nou lekker wees. Die dorp is nogal besig so op ’n Saterdagoggend, weet jy?”
Onthuts stap sy kombuiskas toe om ’n koffiebeker uit te haal. Wat vir ’n soort mens is hy om hom so ongenooid in iemand anders se huis tuis te maak? Sy tel die ketel op, loop daarmee wasbak toe om water in te tap, en probeer hard aan iets dink om te sê, maar kan nie regtig aan iets dink wat nie haar gramskap teenoor mans sal verraai nie.
Die koffie stort amper oor die rand van die beker toe sy dit voor hom neerplak.
“Wat van jou?” wil hy weet. “Gaan jy nie saam met my koffie drink nie?”
“Ek is nie dors nie. Hier is die suiker en melk.”
Hy hou hom dom wat haar afkerigheid betref. “Dankie. Dit gaan voorwaar lekker smaak. Ek was gou daar by die hotel op Goudbaai aan om by die dame by ontvangs te gaan verneem na ’n bouer, en sowaar daar is sy toe ’n ou skoolmaat van my. Minette Kruger. Ken jy haar?”
“Ek het al met haar kennis gemaak.”
“Kom sit, hoekom staan jy so rond asof jy nie weet waar die stoele is nie?”
“Ek … moet gaan kyk waar die hondjies is.”
“Wag net dat ek my koffie gou afsluk, dan gaan ek saam. Moet jy gereeld na hulle soek?”
“Ek gaan hulle nie soek nie. Ek moet net kyk of alles nog reg is.”
“Ek hoor hulle nie baklei of tjank nie. Hoe oud is hulle?”
“Nog nie ’n volle twee maande nie.” Sy swyg ’n rukkie. Vra dan: “Was jy al op die plaas, en wat dink jy daarvan?”
“Ja, ek was en het klaar besluit om te kom boer. Dit sal egter eers oor ’n maand kan wees, want ek moet nog by my werk kennis gee. Jy het nou die dag gesê jy ken niemand van die omgewing nie, maar wat van jou man? Behoort Groene Weide aan hom, of het ek verkeerd verstaan?”
“Ja, dit is sy plaas.”
“Hoekom bly jy dan hier en hy daar? Het jul huwelik verbrokkel?”
“Dis dinge wat jou nie aangaan nie. Bemoei jou asseblief met jou eie sake.”
“Hm, dis ’n antwoord wat ek verdien. Ek kry boonop die gevoel jy gaan my hier uitsmyt as ek nie my bas lig en self loop nie. Dankie in elk geval vir die moeite met die koffie. Dit het vorentoe gesmaak.”
Hy hoor hoe sy die agterdeur hard agter hom toeklap, en hy grinnik. Sy het voorwaar nie geskroom om hom op sy plek te sit nie. Dít het hy nou van sy nuuskierige voortvarendheid.
Tessa wring haar hande saam. Sy was ongeskik. Miskien het hy regtig net belanggestel. Per slot van rekening grens Groene Weide aan Koppie-alleen. Sou hulle bure gewees het as …? Nee, dit gee hom nog nie die reg om in haar lewe in te meng, en hom hier te kom tuismaak asof die huis aan hom behoort nie.
Sy tel die beker op om dit onder die kraan uit te spoel, en kom eers agter dis lankal skoon toe die amper kokende water haar hande brand. Haar kennis van mans is beperk, maar sy het in ’n baie kort bestek geleer om nooit as te nimmer weer enige man te vertrou nie. Haar pa was die enigste uitsondering. Haar eerste goeie vriend was Japie. Hulle verhouding was van korte duur. Toe sy nie wou swig vir seks met hom nie, het hy binne ’n maand aan ’n ander meisie verloof geraak. Wouter weer was kamma so onsterflik lief vir haar dat hy sou selfdood pleeg as hy haar nie kan kry nie. ’n Liefde wat so vinnig soos ’n dwarrelwind verdwyn het toe die bekoorlike Sonja, ’n ontkleedanseres, sy pad gekruis het. Gelukkig was haar hart nie gebroke nie, en moes hy maar ’n ander skouer gaan soek om op te huil nadat hy uitgevind het Sonja het ’n gorilla van ’n man!
Toe stap Jaco Verwey haar lewe binne …
Sy slaak onbewustelik ’n sug. Wat daar vorentoe in die lewe op haar wag, sal sy nie weet nie. Haar ma het na haar pa se dood in ’n enkelwoonstelletjie ingetrek. Dis piepklein. Daar is nie plek vir haar nie. Sy sit sonder werk, hier ver weg in die boendoes, en is daarby feitlik platsak. Die belofte van die baas vir wie sy in die stad gewerk het om haar te laat weet indien daar weer ’n pos oopgaan, beteken nie veel nie. Hy is so ’n goeie baas dat almal wat vir hom werk, sal klou aan hul poste.
Sy vee die krummels driftig weg wat een van die katte op die kombuisvloer agtergelaat het nadat hy skelm ’n stuk beskuit van die tafel af gegaps het. Wat haar besiel het om so halsoorkop haar werk te bedank en haar woonstel se huur op te gee, weet nugter. Nog minder weet sy wat haar besiel het om met Jaco Verwey te trou, en hóé sy haar uit die sogenaamde huwelik gaan loskry.
Sondagoggend, toe Mynhard wakker skrik, die slaapkamergordyne wegtrek en sien watter mooi dag dit beloof om te wees, wens hy die oggend wil gou verbygaan sodat hy weer Koppie-alleen toe kan ry. Die huurders het weliswaar gesê hy is enige tyd welkom, maar hy wil nie van hom ’n oorlas maak nie, en het afgespreek om eers so drie-uur se kant weer daar ’n draai te maak.
In die tussentyd sal hy die omgewing maar so ’n bietjie verken.
Sy eerste besoekpunt nadat hy hom aangetrek en ’n bakkie graanvlokkies verorber het, is die Groenrivier se waterval, tussen Groene Weide en Oewersdal. As kind het hy en ’n paar skoolmaatjies eendag gedurende pouse weggeglip daarheen, en hulle met die tyd misgis. Dit het hulle nie net ’n pak slae besorg nie, hulle moes ook na ’n ellelange preek luister oor die gevaar waaraan hulle hulself blootgestel het.
Die waterval word nie baie besoek nie, merk hy dadelik op nadat hy by die afdraaipad ingedraai het. Hy kan hoor hoe die bossies tussen die twee spore sy motor se onderstel skuur, en soms moet hy uitswaai vir boomtakke wat gevaarlik laag oor die pad hang. By die waterval aangekom, vergeet hy egter gou van die slegte pad, want dit is sowaar die moeite werd om daarheen af te draai. Die waterval is nog hoër as wat hy dit uit sy kindertyd onthou, en dit skep ’n skouspelagtige toneel. Langs die waterval kronkel daar ’n voetpaadjie met ’n blaretapyt na bo. Dis toe hy bo kom en sien hoe glad die mosbedekte rotse is dat hy werklik besef wat ’n gevaarlike plek dit is. Veral vir ’n kind wat nie altyd die gevare soos ’n grootmens raaksien nie, want sou jy oor die afgrond na benede stort, val jy jou gewis morsdood. Die waterpoel onder is vlak en rotsagtig, dit sal beslis nie help om jou lewe red nie.
Hy klim versigtig terug, en ry verder na Goudbaai. Daar hou hy op die ingewing van die oomblik voor die hotel stil. Miskien is Minette nie te besig nie. Josua het gesê sy ken omtrent almal in die omgewing, so dit kan net lekker wees om met haar te gesels. Net toe hy die stoeptrappies bestyg, kom Groene Weide se eienaar by die deur uit.
Mynhard se vriendelike “goeiemôre” in die verbygaan word met ’n stywerige kopknik beantwoord voordat Jaco in sy motor klim en wegry.
Minette ontvang hom egter met ’n breë glimlag. “Ek het nou net aan jou gedink.”
“Goeiemôre. Nou wat het jou aan my laat dink?”
“Jou buurman wat jy nou net hier buite op die trappe gekry het, Jaco Verwey? Het jy hom al ontmoet?”
“Nie regtig nie. Net vlugtig gesien. Nou hier, en gister by die hek van sy vrou, Tessa. Sy pas mos mense se katte en honde op daar by tannie Alida se huis, ’n buurvrou van oom Jos in wie se huis ek vir die naweek tuisgaan.”
“So jy het haar al ontmoet?”
“Ja,