Die eks-noodgeval. Cecilia Steyn
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die eks-noodgeval - Cecilia Steyn страница 5
“Is dokter toe bly daar het ordentlike trauma ingekom?” vra Karen terwyl sy in haar sluitkas vroetel.
“As dit minute later was, was hy dood. Die meeste mense met ’n besering van die abdominale vena cava oorleef nie tot by die hospitaal nie,” sê Alana.
“Hoe het dit in teater gegaan?” vra Karen.
“My senuwees was klaar,” bieg sy.
“Hoekom?” vra Karen. “Het professor Patterson kwaai geraak?”
“Nee, dis nie dit nie,” sê Alana. “Hy moet buitendien kwaai wees. Dis net … almal se oë was op my. Seker om te sien of die nuwe chirurg darem ’n skietwond kan herstel.”
Haar vermoë is beslis vandag gemeet, en die een wat haar die meeste dopgehou het, is seker suster De Lange.
“Ek kon die ingangswond darem dadelik identifiseer deur die hematoom wat daar gevorm het. Die perforasie was net bo die renale arteries. Die koeël het die laterale afskeuring van die wand van die inferior vena cava veroorsaak. Gelukkig was daar nie ’n dubbele perforasie nie, anders sou die pasiënt dalk nie so gelukkig gewees het nie.”
“Dalk moet die pasiënt gaan Lotto speel,” sê Karen. Alana glimlag.
“Toe die klampe aan die miltarterie, die poortaar en die inferior vena cava nie die bloeding wou stop nie, het ek begin stres, maar professor Patterson het kalm met my gepraat. Hy kon seker my paniek aanvoel,” babbel Alana.
“Hy het kollaterale kompressie toegepas,” sê Reinette, die ander verpleegster. “En vir ’n wonder was hy nie ongeskik nie.”
“Dalk maak dokter sy hart sag,” reken Karen.
“Was jy daar?” vra Alana vir Reinette. In teater is dit moeilik om te weet wie is wie wanneer almal hul teatermaskers dra.
“Ja. En ek dink dokter het uitstekende werk gedoen. Nie eens suster De Lange kon fout vind nie,” sê Reinette.
Alana probeer om nie te lag toe sy aan suster De Lange se valkoë dink nie. “Ek weet nie wie is die kwaaiste nie, suster De Lange of professor Patterson.”
“Jip.” Karen lag. “Daai twee moet mekaar net warm vry en klaarkry.”
“Reinette, sjuut! As sy jou nou hoor, het jy groot moeilikheid.”
“Dokter Patterson was nog net ordentlik met my,” sê Alana.
“Dokter sal nog sien. Ons is almal so bang vir hom. Ons speel behoorlik ching-chong-cha om te besluit wie hom in die middel van die nag moet wakker bel.”
“As dit nie vir professor Patterson was nie, sou ek nie vandag my pasiënt kon red nie. Hy het die prosedure geduldig aan my verduidelik,” erken Alana. “Hy het beduie hulle druk die sponse naby die perforasie en dan kan ek dit toewerk.”
Sy was so vies vir haarself. Natuurlik moes sy dit geweet het. Sy is immers ’n chirurg. Sy moes haarself net herinner het sy is nog nie ’n trauma-chirurg nie. Dit is hoekom sy hier is. Aan suster De Lange se sug kon Alana aflei sy was op daardie oomblik minder beïndruk met haar.
Sy kon uiteindelik net agter haar teatermasker glimlag toe professor Patterson sê: “Uitstekende tegniek, dokter De Koker.”
“Hy is ook ’n uitstekende chirurg,” bieg Reinette. “Dit is omdat hy ’n perfeksionis is dat hy so onredelik kan raak.”
“Ja. As ek honderd rand gehad het vir elke keer wat hy my al gevra het of ek moontlik breindood is!” Karen skud haar kop.
“Ek is darem nie so ongeduldig nie. As ek so word, moet julle my daaroor aanvat,” sê Alana.
Ten minste het die geval haar vir ’n ruk van Braam laat vergeet. Die pasiënt se histeriese eggenoot kom weer by haar op. As dokters moet hulle nie net lewens red nie, maar ook soms die draers van slegte nuus wees. Vir die vrou se part hoop Alana dat haar man sal herstel. Die pasiënt is glo die pa van ’n drieling.
Alana haal haar handsak uit die sluitkas en maak die deur toe. Ongelukkig ken sy haarself te goed. As sy nou by die huis kom en moeg in die bad sak, sal al die emosie weer haar hart oorstroom en gaan sy die hele nag wakker lê en oor Braam en sy nuwe lewe wonder.
“Sal die pasiënt darem oukei wees?” vra Karen.
“Ons sal sien. Ek hoop so. Daar kan nog komplikasies wees weens die verlengde skok waardeur hy is. Moontlike bloedstolling, sepsis.” Meteens ontmoedig, trek Alana haar skouers op. “Die volgende vier-en-twintig uur is kritiek.”
“Ek is bly dokter het by ons begin werk,” sê Karen.
“Ek ook.” Dit is die ander verpleegster, Reinette, wat praat. In teenstelling met Karen se rooi hare, is Reinette s’n pikswart en kort.
“Dankie, julle. Ek is ook bly.” Alana voel vir die eerste keer vandag dat sy die regte besluit gemaak het om hierheen te trek. Sy weet net nie hoe sy die situasie met Braam gaan hanteer nie, maar vanaand wil sy nie daaraan dink nie.
“Dalk kan dokter vir Braam Smit ogies maak,” sê Karen en lag. “Hemel, daai man is mooi.”
“Nee dankie,” keer Alana gou. Sy het een keer in haar lewe haar hart op hom verloor en dit was een keer te veel.
“Hei! Los. Hy is myne. Hy weet dit nog net nie,” terg Reinette en tuit haar lippe speels.
“Julle is nou sommer laf.” Alana sluit haar hokkie gou. Hoekom dit haar pla dat die twee so van haar eksman praat, is sy nie seker nie. Sy hoop net nie Braam is dikwels die onderwerp van bespreking hier nie. Dit sal haar gek maak.
“Hoe goed ken julle hom?” waag sy die vraag. Miskien sal sy dan kan vasstel of hy permanent hier werk.
“Ons sien hom elke paar maande wanneer hy hier kom opleiding gee, maar as ek sy hart gesteel het, sal hy vir altyd hier wil bly,” sê Reinette. Die twee vroue lag verspot. “Soms werk hy sommer ’n paar skofte by ’n private ambulansdiens hier naby.”
Alana behoort hom dus nie gedurig te siene kry nie. Dit is ten minste goeie nuus. Sy sal net die paar maande met hom moet uithou. En as hy buitendien hier is om reddingsopleiding te gee sal sy hom mos baie min sien, behalwe as hy een naweek dalk besluit om te kom help.
“Het dokter iemand spesiaals wat nou dokter se voete kan masseer wanneer jy by die huis kom?” vra Karen.
Alana glimlag. “Nee. Gelukkig nie.” Sy probeer vrolik klink. Net omdat sy vandag vir Braam gesien het, mag haar emosies nie met haar op loop gaan nie. Sy sal dit nie toelaat nie. “Daarvoor sal ek sommer na ’n terapeut gaan.”
“Dokter is van die onafhanklike tipe?” sê-vra Karen.
“Ek is.” As hulle net weet hoe lank dit gevat het vir die gebroke hart wat Braam Smit haar toegedien het om te heel.
“As dokter van plan verander, is daar altyd die oulike ou wat saam met my joga doen. Sê net en ek kry sy nommer vir dokter,” bied Karen