Ena Murray Keur 18. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 18 - Ena Murray страница 20
“Dat sy wát?” Ian frons diep. “Wat wil jy vir my sê, Lucia?”
“Dis … eintlik … ’n bietjie moeilik. Jy moenie … Ian, het ons mekaar nie al vantevore ontmoet nie? Daar is iets bekends in jou gesig. Waar was jy in Europa?”
“O, hier, daar, oral. Nee, ons het mekaar ongelukkig nog nie ontmoet nie. Ek sal ’n vrou soos jy nie vergeet nie.”
Sy glimlag weer en dofweg sien hy die beweging van haar ledemate deur die modderwater. Nee, hy sou haar beslis nie vergeet het as hulle mekaar al ontmoet het nie.
“Maar wat wou jy my vertel? Wat van Willemien?”
“Ag, dis niks ernstigs nie. Sy het haar maar net ’n kort rukkie verbeel dat sy … wel, dat sy die vreemdeling baie aantreklik vind en … ek dink hy het ’n bietjie misbruik van haar kinderlikheid gemaak. Maar ek is seker sy sal tot haar sinne kom noudat jy terug is. Wees net eers ’n bietjie geduldig met haar.”
Ian Crebbin se oë word koud. “Wie is hierdie Mark?”
“Ek weet nie. Ons weet net sy naam is Mark. Dis al. Hy swyg soos die graf oor homself. Jy weet, ek is byna seker daarvan dat hy iets met die kaping te doen gehad het.”
“So?” Hy kyk haar vinnig aan en sy knik, haar gesig nou ook ernstig. “Wat laat jou so dink?”
“O, ek weet nie presies nie. Noem dit maar vroulike intuïsie. Maar een ding weet ek. Hy stel in die geld belang, in die losprys wat betaal is. Hy is op soek daarna, ek is seker daarvan.” Sy skep ’n halfversuipte insek wat in die modderwater spartel op, bewus daarvan dat die man haar betrag. “Die helfte van daardie geld is deur my man en jou aanstaande skoonpa betaal. Ek sou nie graag wou sien dat hy daarmee wegkom nie.” Sy kyk hom tersluiks aan. “Ons moet probeer om die geld voor hom te kry.”
“Maar hoe? Waar is die geld? Waar gaan jy dit in hierdie woesteny opspoor?”
Haar oë vernou. “Het jy dit nie miskien al raakgeloop nie? Dit is in hierdie omgewing afgegooi en jy het hier rondgedwaal.”
Hy kyk vinnig op. “Hier? Ek het nie geweet nie. Nee, ek het niks gewaar nie. Maar dan, ek sou daarop getrap het en dit nie geweet het nie, want ek was nie op die uitkyk daarvoor nie. Om die waarheid te sê, ek het totaal vergeet van die geld.”
“Totaal vergeet van só ’n som geld?” Sy glimlag ongelowig.
“Ja, dit klink ongelooflik, maar dit is so. Ek was nie op die uitkyk nie.” Hy trek sy skouers op.
“Dan moet jy van nou af op die uitkyk wees, vriend … of jy gaan nie net jou aanstaande skoonpa se geld kwyt wees nie, maar ook jou aanstaande bruid.” Sy glimlag op in sy fronsende gesig. “Draai nou om sodat ek uit die water kan kom.”
Sy begin ook sommer dadelik uitklim en hy moet hom vinnig omdraai, maar hy sien skaars hoe sy tussen die struike verdwyn. So … die vreemdeling is op die uitkyk vir die geld … die vreemdeling sonder naam wat sy aanstaande bruid glo baie beïndruk het …
Toe Willemien ’n paar minute later op die oewer kom staan, wink hy haar vrolik nader. “Komaan! Kom sê vir my môre!”
Sy skud haar kop en skree terug: “Nee, ek wil kom was. Maak klaar daar.”
Toe hy ’n rukkie later uitkom agter die struik waar hy aangetrek het, stap sy hom tegemoet, maar aarsel toe sy sy fronsende gesig sien.
“Wat makeer?”
“Ek wonder maar net of jy ook so preuts met die vreemdeling was soos wat jy met jou aanstaande man is.”
Sy kyk hom geskok aan, en sy kan skaars glo sy het reg gehoor. Ian het nog nooit só met haar gepraat nie, en die insinuasie is so duidelik dat sy nie kan voorgee sy begryp dit nie.
“Ian!” sê sy beskuldigend.
Meteens ruk hy haar in sy arms en fluister skor in haar oor: “Ek is jammer, my kleintjie. Natuurlik bedoel ek niks nie. Dis … hierdie oerwoud … As ons net hier kan uitkom. Ek is jammer, liefling. Ek het maar net gedink daar is niks mee verkeerd nie. Die water is modderig en troebel. Dit sou nie saak gemaak het as jy saam met my …” Hy bly stil toe hy haar geskokte uitdrukking sien en sê half ongeduldig: “Vergeet daarvan! Wat maak dit saak? Kom sê liewer vir my môre.”
Maar sy lippe het hare nog skaars geraak, of sy trek terug, ’n bewerige glimlaggie om haar lippe. Haar oë is ontwykend. “Jou … jou baard krap my.”
Hy frons weer. “Ek is jammer, maar daaraan kan ek niks doen nie.” Hy los haar en staan ’n tree terug, sy oë ondersoekend. “Beteken dit dat ek jou nie weer mag soen voordat ons in die beskawing is nie? Is dit werklik my baard wat jou hinder of … soek jy maar net verskonings, Willemien?”
Sy kyk hom verslae aan. “Ian! Wat makeer jou vanmôre? Hoekom sou ek verskonings soek?”
“Dis wat ek myself afvra.” Hy kyk haar priemend aan. “Jy het verander, Willemien.”
“Jy is verspot. Hoe kon ek verander het? Hoekom sou ek? Dis net … jou baard is lank en … ek het nog nooit kaal saam met ’n man geswem nie. Ek … ek is nie daardie soort meisie nie.”
Hy stap sonder ’n verdere woord weg. Sy kyk hom bekommerd agterna. Sy het netnou, toe sy wakker geword het, na hom gesoek en toe by Lucia gehoor dat hy by die rivier is. Sy kon nie gou genoeg by hom kom nie, want sy het vas geglo as sy hom vanoggend sien, alles weer sal wees soos ’n week gelede. Sy sou na hom hardloop en hy sou haar in sy arms opraap. Wanneer hulle lippe mekaar ontmoet, sou die ou vreugde, die ou wete van hulle liefde weer helder in haar opvlam.
Maar dit het nie. Sy baard het haar gekrap. Maar Mark het ook baard op sy gesig, en toe hy jou gesoen het, het jy dit nie eens agtergekom nie, vertel ’n stemmetjie haar. Sy roer haar skouers onrustig. Ian kon tog nie regtig verwag het dat sy, al is die water troebel, saam met hom moes swem nie! Tog het jy naak in Mark se arms gelê en jy het dit nie eens agtergekom nie, sê die stemmetjie weer.
Jy het verander, het Ian gesê. Sy het dit heftig ontken, maar diep in haar weet sy dit is so. Iets het verander, onherkenbaar verander. Hoe sy ook al probeer, dit maak haar nie opgewonde dat Ian weer by haar is nie. Toe sy lippe hare netnou geraak het, het iets in haar teruggedeins. Dit was nie net preutsheid, soos hy dit genoem het, wat haar daarvan weerhou het om saam met hom te swem nie. Dit was meer as dit. Dit was ’n openlike weersin om so intiem met haar verloofde te verkeer.
Maar as die uitnodiging van Mark gekom het …
Sy sidder en begin haar klere byna gewelddadig afstroop. Een ding staan soos ’n paal bo water en sy kan dit net sowel aan haarself erken: Ian se teenwoordigheid het geen verandering in die storm van emosies in haar gebring nie. Dit het die storm eerder laat aangroei, want nou is sy nog meer as ooit tevore daarin verdwaal. Die man wat sy geglo het haar tot nugterheid en tot die werklikheid sal terugbring, laat haar meteens koud, roer nie ’n enkele snaar in haar hart nie; kan nie die geringste gevoel in haar optower nie.
Waar Lucia smaaklik aan die tropiese vrugte sit en eet wat Mark vir ontbyt gebring het, sien sy hoe Ian nader kom, en sy glimlag toe sy die onstuimigheid in sy oë gewaar. Peinsend kyk sy na hom. Sy kan sweer sy het daardie gesig al êrens gesien …
7