Ultrasatyn 3. Elsa Winckler

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ultrasatyn 3 - Elsa Winckler страница 6

Ultrasatyn 3 - Elsa Winckler

Скачать книгу

sy oor die water.

      Die troulokaal weerkaats op die dam se oppervlak. Die groot deure van hout en glas skep ’n asemrowende prentjie. Sy kan haar al klaar die liggies in die bome op die grasperk voorstel. Die romantiese lig van kerse op lang houttafels kan sy ook al in haar verbeelding sien.

      Die troue gaan prentjiemooi wees, daarvoor sal sy sorg.

      Sy sal vanaand met Gideon moet praat. Vrede maak. Vir Tess en Dan se onthalwe. Haar keel is skielik droog toe sy weer aan die soen van netnou dink. Wat het hom besiel? Hitte het soos ’n veldbrand agter haar naeltjie gesmeul en sy kon dit nie keer nie. Dat daar ’n vonk tussen haar en Gideon Vermeulen is, is nie altemit nie, maar as mens met vuur speel, verbrand jy mos altyd jou vingers.

      3

      Toe Bianca nie meer die geluid van die motorfiets kan hoor nie, val sy op die bed neer. Hoe sy gaan slaap, weet sy nie. Sy is seker as al die diere hul geluide begin maak, sal sy kiertsregop sit en wag dat die son moet opkom. Daar is selfs ’n buitestort, maar dié sal sy definitief nie gebruik nie. Dis nie nodig dat al wat ’n kreatuur is haar aankyk terwyl sy skoon word nie.

      Met dié gedagte besluit Bianca om water in die bad te tap. Haar wit broekpak sal seker nooit weer skoon word nie. Sy voel al klaar taai van die bosveldstof aan haar lyf.

      Terwyl haar badwater in skuimbolle omgetower word, maak Bianca haar tas oop. Sy giggel onverwags. Sy het amper vergeet van die ekstra paar kledingstukke en interessanthede wat sy in haar bagasie gepak het. Gelukkig het Gideon nie aangebied om haar tas te help uitpak nie.

      Stadig lig sy die duur satyn-en-kant-korsette uit die tas. ’n Paar nuwe deurtrekkers en kousgordels. Die boeie wat met swart fluweel oorgetrek is, weet sy, sal vir Tess ’n hartaanval gee. En wag tot haar vriendin die smoorsnoer met die rye steentjies sien! Dít alles het sy saamgebring vir Tess se hennepartytjie. Al die vriendinne het gelas vir ’n boudoir-fotosessie. Dit gaan baie pret wees.

      Tess kan haar album vir Dan as ’n trougeskenk gee. Al probleem is, sy moet nog vir Gideon vra waar hulle dit hier op die plaas kan hou. En soos dit nou gaan, sal hy seker nooit weer met haar praat nie.

      Met ’n glas sjerrie in die hand sak Bianca in die skuim weg.

      Vanaand sal sy omtrent moet kruip om als in die reine te bring. Sy sal begin deur vir Gideon te sê dat sy wel saam met hom troue toe sal gaan. Dit sal haar olyftak wees. Dalk sal hy haar dan vertel presies wat daardie aand met die verlowing gebeur het.

      Begeerte slaan Gideon se wind asof met ’n vuisslag uit.

      Bianca kom oor die grasperk aangestap. Haar rooi hare wip oor haar skouers, nes vanmiddag toe sy soos ’n stoute kleuter voor haar tent gestaan het. Dit het alles van hom geverg om sy hande nie op die plek in daardie bos rooi hare te druk en haar te soen soos hy graag wou nie … wel, hy kon darem ’n rukkie uitgehou het. Hy kan haar lippe nou nog onder syne voel.

      Wat het hom besiel om haar te soen? Haar lippe was net te naby en haar geur so aanloklik, haar oë so uitdagend. Nie alle vroue wat ’n vloermoer gooi, laat sy onderlyf lewe kry nie, maar Bianca doen goed aan hom waaraan hy eerder nie wil dink nie. Al waaraan hy kon dink om haar stil te maak was om haar in sy arms te vat en te soen.

      As hy net kan wegkyk, maar die beeld voor hom roep hom soos die lokstem van ’n meermin. Haar kort swart rok maak skaars haar sitvlak behoorlik toe, verdomp. Die swart skoene met hul hoë wighakke laat haar lang bruin bene ekstra sexy lyk. Hoe loop sy op die goed? Die lippe waarin hy hom vanmiddag so verlustig het, is nou karmosynrooi, nes die blomtrosse van die huilboerboonboom hier in die Bosveld.

      Op die gras keer Dan se meisiekinders haar voor. Albei die kinders gee haar ’n druk. Die oudste een stap nou saam met haar stoep toe. Bianca knik aandagtig vir die kind en glimlag.

      Toe sy naby kom, kyk sy op in Gideon se oë.

      Die kwaai uitdrukking van vroeër in die groen oë is weg, daar dans op die oomblik goddeloosheid in haar blik. Beteken dit sy is nou kalmer? Toe haar lyf verby syne druk, neem elke sel in sy lyf haar sitrusgeur op.

      Om te verhoed dat hy aan haar vat, druk Gideon sy hande eerder in sy broeksakke. “Tess en Dan is hier,” sê hy gou.

      Bianca haal diep asem. “Ek sien so.”

      As dit nou nie die simpelste opmerking was wat hy al ooit gemaak het nie. Komaan, Vermeulen, ruk jou reg.

      “Sê vir my die trourok het veilig hier aangekom.” Bianca omhels vir Tess, die vrou wat sy broer se hart gesteel het. Gideon is bly vir Dan se onthalwe. ’n Beter vrou sou hy nie self vir sy broer kon kies nie.

      “Natuurlik! En jy moet sien hoe pragtig lyk Emma se blommemeisie-rok. Die ontwerper het tot vir ons ’n pragtige goue strik om die middel vasgewerk. Sy is gek oor die lae en lae net. Dit lyk te fraai.”

      “Wonderlik,” sê Bianca en vryf oor klein Emma se kop. Dan se kind hou aan Tess vas asof dit haar eie ma is.

      Bianca soen sy ma en Tess se ma om die beurt. Tot Dan kry ’n druk, en Gideon is oombliklik jaloers. Waarom weet hy nie.

      “Ek hoor Gideon steek jou in die bos weg?” sê-vra Dan.

      Bianca se lag weerklink klokhelder oor die stoep en golf oor Gideon. Sy klink sowaar nie meer vies nie.

      “Hy het ons vertel hoe jy jou gewip het,” sê Anette.

      Bianca kyk na hom.

      “Jy moet oppas. Ek hoor hy duld nie temperamentele koeie op sy plaas nie, Bianca,” sê Tanya en vat nog ’n sluk wyn.

      Almal lag.

      “Toemaar, Sondag is dié temperamentele koei uit jou pad uit,” spot Bianca. “Ek het so amper in die skemer hiernatoe verdwaal. Gelukkig het die liggies daar van die laagwaterbrug af my op my pad hierheen gelei, anders sou julle my moes kom soek het.” Bianca lek oor haar rooi lippe.

      Gideon sluk die kreun wat uit sy keel wil bars. Hy was vanmiddag so kwaad dat hy nie eers gedink het hoe sy weer tot hier sal kom nie. Maar toe al die gaste op die stoep bymekaarkom vir vanaand se braai, het hy besef iets … iemand … ontbreek.

      Bianca! het dit hom meteens getref. Hy was net op pad om haar te gaan haal, toe sy aangestap kom.

      “Ek sal jou vanaand terugvat met die quad en dit daar vir jou los. Dan hoef jy nie elke keer hierheen te stap nie. Jammer …”

      “Dankie.” Bianca se oë talm ’n oomblik in syne.

      “Ek hoor jou plek het die mooiste uitsig,” sê Tess.

      Dis die eintlike rede hoekom hy daardie tent vir haar reggekry het. Soggens kan sy haar koffie en beskuit daar buite geniet terwyl sy kyk hoe die son oor die berge en die dam opkom.

      “Dit is asemrowend. Veral met die asaleas wat nou al om die dam blom. Die kleure vat mens se asem regtig skoon weg. Ek weet net nie hoe ek in die bos gaan slaap nie … ek het nog nooit nie.” Bianca byt haar lip.

      Wat? Sy het nog nooit in die buitelug geslaap nie?

      “Soos ek vir Gideon ken, werk hy nou weer met ’n plan.” Sy ma knipoog vir Bianca.

      Gideon besef sommer hier

Скачать книгу