Ena Murray Keur 19. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 19 - Ena Murray страница 17

Ena Murray Keur 19 - Ena Murray

Скачать книгу

Jy hoef nie heeldag rond te hardloop om te kyk of dit of dat gedoen is nie.”

      “Presies. Ek gaan dit nóg makliker maak. Ek het gedink om voormanne aan te stel oor elke afdeling van die boerdery. ’n Voorman wat aan my verantwoordelik is en wat moet toesien dat alles vlot verloop in sy afdeling. Ek maak Stoffel byvoorbeeld voorman by die vee. As ’n bees siek is, moet dit eerste vir hom gesê word. Hy moet sy diagnose aan my kom gee en sê of ons die dier hier kan behandel en of die veearts moet kom. Klaas kan ek voorman maak oor die masjinerie en werktuie, want hy is meganies aangelê. As ’n trekker breek, moet hulle dit vir hom gaan sê, hy moet ondersoek instel en wanneer hy by my kom, moet hy my kan sê hoekom die trekker gebreek het, wat stukkend is en of ons dit hier kan herstel of eerder garage toe moet vat. As ons die mense meer verantwoordelikheid gee, meer onafhanklikheid in hul werk, sal hulle ’n werktrots ontwikkel wat net vir almal tot voordeel kan wees. Ook vir die boerdery self. Kom ons gee ons mense meer ruimte.” Hy betrap sy pa se peinsende blik op hom. “Wat dink Pa?”

      Die ouer man antwoord versigtig. “Dit klink baie … interessant. Of dit in die praktyk gaan werk, sal net die tyd leer.”

      “Maar het ek Pa se toestemming om dit uit te toets?”

      Giel de Jongh staan op. “Jy het geen toestemming van my nodig nie, my seun. Dis jou boerdery.”

      “Maar, Pa …”

      “Nee, ek het van vanaand af geen seggenskap meer nie. Ons twee sal later verder oor die saak gesels en tot ’n vergelyk kom. Maar wat die boerdery betref, moet jy maak soos jy goeddink.”

      Emile staan stadig op, kyk sy pa vierkant in die oë. “Bedoel Pa dit?”

      Sy pa glimlag. “Natuurlik bedoel ek dit. Ek sal van die kantlyn af dophou om te sien of alles uitwerk en of jy droogmaak. Jou ma wil al lankal by die see gaan aftree. Ek dink dis nou tyd. Nag, Manie.”

      “Maar Pa kan nie nou al gaan slaap nie! Daar is nog baie ander goed wat bespreek moet word. Ek het byvoorbeeld daaraan gedink dat ons moet wegdoen met die bonus aan die einde van die jaar en hulle liewer ’n persentasie van die wins moet gee. Hoe groter die wins, hoe groter is hul aandeel. Dit sal entoesiasme en verantwoordelikheidsin kweek en ook doelgerigtheid in hul werk bring. Want dan werk hulle nie net vir die baas nie. Hulle werk vir hul eie sak ook.”

      “Maggies, Emile, maar ek hou hiervan. Ek dink dis ’n puik idee! En die een gaan die ander dophou en as een laat slaplê, gaan hy daarvan hoor.”

      “Presies.”

      “Kom ons bespreek hierdie ding in meer detail,” laat Manie opgewonde hoor.

      Oom Giel kyk hulle glimlaggend vanuit die deur aan, stap dan kombuis toe.

      “Waar draai jy so lank?” wil hy gemoedelik by sy vrou weet.

      “Ek sit net die teegoedjies reg vir later vanaand. Waaroor gesels julle so opgewonde daar binne?”

      “Ag, oor dit en dat, die boerdery. Los maar die teegoed. Daardie twee sal nie vanaand aan tee dink nie en ek en jy kan maar gaan slaap.”

      “Dis mos nog vroeg, ou man.”

      Hy glimlag, sit sy arm om haar skouers. “Maar ek weet ek sal dadelik aan die slaap raak en soos ’n klip slaap.”

      Sy vrou kyk hom vraend aan.

      “Vir die eerste keer is ek daarvan oortuig ek kan La Rhône maar met ’n geruste hart aan Emile oordra. ’n Man wat soos daardie seun van ons kan dink, sal ook dink as hy die dag vrou vat.” Hy kyk teen haar stralende gesig vas. “En jy, my lief, kan maar môre begin om jou seeklere reg te kry.”

      “My seeklere? Gaan ons met vakansie?”

      “Ons gaan vir ons ’n aftreehuis by die see soek. Dis tyd dat ek en jy uitspan en die nuwe geslag kans gee om hulle slag te wys. Hulle dink anders as ons; doen anders as ons. Ek wou amper vanaand jaloers raak toe ek so na die twee jonges sit en luister. Ai, om weer jonk te wees en die lewe met al sy uitdagings lê voor jou, nie agter jou nie. Maar ek het vertroue in hulle, Laura. Hulle sal die wa deur die drif kry, want hulle het die moed om die uitdagings tegemoet te loop, en die begrip om die probleme te verstaan, en die visie om te weet wat reg en geregtigheid is. Kom ons gaan slaap, my vrou.”

      Maar terwyl oom Giel soos ’n pasgebore baba lê en slaap, rol Miempie Rust tot laatnag rond. Sy het haar arme verstand al amper aan die brand gedink, maar kry die geheim nie ontrafel nie. Al wat sy kan dink, is dat dit ’n lorriebestuurder kon gewees het wat die jonge Martha verlei het. Sy weet daar is boere wat hul eie goed vervoer, maar veral in spitstye word daar dikwels gebruik gemaak van vervoerkontrakteurs om produkte na en van die plase te vervoer. As Martha dan wel die sogenaamde sekretaresse was, en ook die vervoer na en van die dorp en voorraadmagasyne moes reël, sou sy beslis met die bestuurders van die lorries in aanraking gewees het. Het die glips dáár gekom … of slaan sy die bal heeltemal mis? Nie eens Martha se ouers weet wie Maria se pa is nie. Dis net Martha wat kan sê … en Martha swyg tot vandag toe nog. Lorriebestuurder of nie, maar sy is ná vandag nog meer daarvan oortuig dat die man wat Martha byna twintig jaar gelede swanger gemaak het, wit was. Al sou sy wonder bo wonder tog vasstel wie hierdie man is, begin sy al hoe meer twyfel of die arme Maria daarby sal kan baat.

      5

      Toe daar Maandagaand ’n klop aan haar voordeur kom, verwag sy dat dit Manie Bredenkamp kan wees. Maar toe die deur oopswaai, staan Emile de Jongh voor haar. Sy frons spontaan. Wat het sy tog nou weer gedoen waaroor hy haar wil kapittel?

      Natuurlik is dit geen goeie begin vir enige besoek as die meisie onmiddellik ’n suur gesig opsit wanneer sy sien wie haar besoeker is nie. Op sy beurt wonder Emile ook fronsend wat hy nou eintlik hier soek. Maar hy weet goed wat hom vanaand hierheen gebring het. Hy wou haar vertel van al die nuwe verwikkelinge wat op La Rhône gaan plaasvind. Dit behoort haar tevrede te stel … die snip.

      “Naand, meneer De Jongh. Kan ek help?”

      Hy vererg hom bloedig. En hy het sowaar nog met die gedagte gespeel om haar te vra om hom na die skoudans te vergesel. Manie het mos gesê daar is geen vaste verhouding tussen hulle nie, en hy het toe maar gedink … Maar nou … Wie wil so ’n suurpruim dans toe vat? Nie hy nie. “Jammer, suster Rust, ek is by die verkeerde deur. Tot siens.” Hy draai summier om en begin aanstap.

      Miempie is ietwat verdwaas. Hardekwas, nè? Sy storm agterna. “Emile! Moenie kinderagtig wees nie.” Sy kry hom aan die mou beet en dwing hom tot stilstand.

      Sy word ysig uit die hoogte aangekyk. “Ek? Kinderagtig?”

      Sy trek haar asem in. Sy het genoeg bekommernisse dat Emile ook nog moet lol. “Goed dan. Moenie so liggeraak wees nie. Kom binne en vertel my waaraan ek hierdie besoek te danke het.”

      “Ek dink nie ek is meer lus vir hierdie besoek nie.”

      Dis nou haar beurt om haar te vererg. Sy staan terug. “Nou gaan dan in jou peetjie. Gaan soek geselskap by jou vele meisies. Wat het jy in elk geval hier kom soek?” Sy begin terugstap voordeur toe.

      Maar dis nou háár arm wat vasgegryp word en sy word na hom teruggeswaai. “Jy weet, Miempie, jy is nie net snipperig en bemoeisiek nie, jy is nog onbeskof ook.”

      “En jý is gedurig aan die fout vind. Wat het ek nou weer gesondig?” vra sy reguit, maar ongerus. Sou hy uitgevind het van haar

Скачать книгу