Ena Murray Keur 19. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 19 - Ena Murray страница 18
Sy sluk. Sy is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie. Hy is nie om dowe neute hier nie. “Dan wil jy my wysmaak jy is hier bloot op ’n sosiale besoekie?”
“Ja.”
Haar oë straal haar ongeloof uit, maar hy bly koel terugkyk, en sy gee skielik bes, wys met die hand dat hy moet inkom en gee ’n stywe glimlaggie. “Goed. Kom in, Emile. Maak jou tuis.”
“Dankie.” Hy gaan sit en skuif hom gemaklik reg in die stoel – klaarblyklik van plan om sommer goed te kuier.
“Waaroor sal ons gesels?” vra sy toe sy ook gaan sit. Sy vou haar hande om haar knieë en kyk hom ondersoekend aan.
“Ek laat die keuse van ’n onderwerp aan jou oor.”
“O.” Sy maak keel skoon. “Gaaf.” Sy soek in haar verstand rond, kry iets beet terwyl sy sy geamuseerde gesig ignoreer. “Kom ons gesels oor boerdery.”
Hy frons. Dan het Manie hom al voorgespring. Dis jammer. Hy sou haar graag eerste wou vertel het … die lig van verbasing en dan vreugde in haar oë wou gesien het. Hy knik. “Goed. Oor boerdery. Wat wil jy weet?”
“O … e … laat ek sien. Hoeveel groot lorries het jy?”
Hy lyk opreg verbaas, maar beantwoord die vraag kalm: “Twee.”
“Vervoer jy self jou goed? Ek bedoel na en van die stasie of die koöperasie of die mark?”
“Ja.”
“En die ander boere? Het hulle ook hul eie vervoer?”
“Party, ander nie. Ek neem aan jy wil weet of Manie ook lorries het?”
“Hoekom dink jy so?”
“Omdat ek weet jy stel baie in hom belang.”
“Jy weet nogal baie. Goed: Het Manie ook lorries?”
“Ja. Ook twee.”
“En so ook Grootfontein?”
“Nee, Wilhelm Visser maak gebruik van kontrakteurs.”
Haar oë trek peinsend saam. Dan kan haar vermoede mos juis wees … “Al die jare maar?”
“Ja.”
“Hoekom? Hoekom het hy nie ook sy eie lorries nie?”
“Omdat ’n lorriebestuurder baie meer verdien as ’n gewone plaaswerker. Hy kon nog nooit een kry nie, want hy betaal te min.” Daar is nou agterdog in sy oë. Hy begin agterkom sy probeer nie doelbewus snaaks wees nie. Iets skuil agter hierdie vrae. “Waarop stuur jy af, Miempie?”
Haar oë is ontwykend. “Nee, ek … vra sommer net. Lorries is tog deel van die boerdery, nie waar nie?”
Hy is sommer weer ergerlik. “Ek is nie ’n aap nie, Miempie! Ek het natuurlik nie die vaagste benul hoekom jy hierdie vrae stel nie, want ek sal nooit verstaan hoe jou verstand werk nie. Maar jy is weer met iets besig, ek kan dit sweer.”
Sy lag hom uit. “Moontlik. Nou is dit jou beurt om ’n onderwerp te kies. Waaroor wil jy gesels?”
“Oor die skoudans.”
“O? Wil jy by my weet watter een van die vele moet jy vra? Dis maklik. Toe ons kinders was, het ons ’n speletjie gehad … Wegkruipertjie het ons dit genoem. Een moet oë toehou terwyl die ander gaan wegkruip. Maar om te besluit wie die eerste sal wees om oë toe te hou, het ons iekel-okkel-blue-bottle gespeel en die een wat uiteindelik oorgebly het, moes oë toehou. Hoekom laat jy nie die klomp in ’n ry staan en dan iekel-okkel-blue-bottle jy hulle ook nie? Die een wat oorbly, vat jy dans toe. Maklik.”
“In hemelsnaam, Miempie! Jy is nog erger as my ma!”
“Maar dis ’n goeie plan, jy kan nie stry nie. En in watter opsig is ek erger as jou ma?”
Hy beteuel hom met moeite. “Ek is ernstig.”
“Waaroor?”
“Ek is besig om jou te vra om saam met my skoudans toe te gaan.”
“Asseblief.”
Hy sug. Hoekom verduur hy hierdie treitering? “Asseblief.”
“Hoekom?”
“Hoekom wat?”
“Hoekom vra jy mý?”
“Hoekom nie?” kap hy terug.
Sy meet hom met die oë. Dan antwoord sy op egalige toon wat die blits in haar oë weerspreek: “Omdat jy die verkeerde meisie soek om jou meisies mee te vermaak of jou te help om van hulle ontslae te raak.”
“Daar bestaan nie so iets nie!” verdedig hy driftig. “Om liefdeswil, daar is geen spesiale meisie of meisies in my lewe nie!”
“Dan is Susan Bankbestuurder nou jou enigste?”
“Nee! Sy is beslis nie my enigste nie.”
“En daar weerspreek jy jou weer.”
Sy oë waarsku saam met sy stem: “Dis nou genoeg, Miempie. Sal jy asseblief saam met my na die dans gaan?”
Sy aarsel, skud dan haar kop. “Dankie vir die uitnodiging, maar nee, dankie.”
“Mag ek vra hoekom nie?”
“Ek sal so onvanpas in jou geselskap wees soos … soos wat Maria volgens jou onvanpas in ’n doktersjas sal wees.”
Sy kake werk. “Jy het Maria op jou brein. Kom ons los haar uit hierdie gesprek uit. Hoekom dink jy jy sal onvanpas wees?”
Sy staan op, keer haar rug op hom en peuter met die boeke op die boekrak. “Ek sal nie inpas in jou soort geselskap nie. Dis al. Ek het nie die agtergrond wat jy en jou groep vriende het nie.”
Sy blik is skerp. “Ek vra jou bloot om saam met my te gaan dans. Dis al. Ek nooi jou nie na ’n geslagsregisteruitstalling toe uit nie.”
Sy draai haar onwillig na hom terug. “Of ons dit nou wil erken of nie, maar agtergrond speel ’n geweldige rol in hierdie lewe. In ’n groot mate beheer dit jou lewe.” Sy glimlag skeef. “Miskien daarom dat ek so ’n aanvoeling vir Maria het. Verskoon my dat ek haar naam weer noem, maar … in baie opsigte is ons lewens so eenders.”
“Ag, onsin, Miempie!”
“Dis nie onsin nie. Ek weet ook nie wie my pa was nie. Sy is eintlik beter daaraan toe as ek. Sy ken haar ma. Ek weet ook nie wie my ma was nie. Ek is uit ’n tehuis vir ongehude moeders gegee vir aanneming. Vandag het dinge baie verander, maar destyds het selfs nie eens die ouerpaar wat ’n baba aanneem, geweet wie die kind se biologiese ouers is nie. Ek weet dus nie wie my ouers was of is nie. Ek weet eintlik nie wie ek werklik is nie. Waar ek vandaan kom of waar ek uitgekruip het nie. Die enigste agtergrond wat ek het, is die liefde en sorg wat twee liewe aanneemouers