Die wolkversamelaars. Nadia de Kock
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die wolkversamelaars - Nadia de Kock страница 14
Talla maak haar oë oop en glimlag vir Mikey voordat sy na Connor kyk. Sy oë rus sag op haar. “As jy belangstel, kan ek jou na die Erfenissentrum toe neem wanneer ek tyd kry. Dit word daar boeiend uitgebeeld.”
Op pad terug Munro’s toe vertel Talla vir Connor wat die doel van haar besoek is. “Ek het die reis Skotland toe geërf. My vriendin, Theresa Brand, wat soos ’n ma vir my was, het in haar testament bepaal dat ek Glencoe toe moet kom.”
“Theresa Brand?” vra Connor.
“Ja?”
“Ouer vrou, elegant, grys hare in ’n losserige bolla?”
Talla gaan verstom staan. “Ken jy haar?”
“Ja, ek het haar een maal hier by die lochan ontmoet, ek dink dit was so drie jaar gelede. Ons het aan die gesels geraak en toe ons ons oë uitvee, was dit twee uur later. Interessante vrou.”
Talla skud haar kop en glimlag. “Dis ongelooflik. Ek is bly jy het haar ontmoet.” Sy voel skielik nie meer soos ’n wildvreemdeling in die vallei nie.
“Ek is jammer om van haar dood te verneem.”
Hulle stap vir ’n wyle in stilte verder. Toe vervat Talla: “Ek het besluit om die reis te gebruik om na obskure Skotse stories of legendes te soek en dit aan ’n beplande tartanklerereeks te koppel. Ek wil graag ontwerp vir ’n lewe en moet my bewys aan die baas van die modehuis waar ek werk. Dalk weet jy van ’n onafhanklike wewery?”
Connor dink na. “Nee, ongelukkig nie. Ek weet van kommersiële wewers, ondernemings, maar nie individue nie.”
“Hou asseblief jou ore oop,” vra Talla. “Jy ook, Mikey.”
“Aye!” sê hy en begin langs haar klopdans. Op die bal van die voet, kap hak in die grond. Vinniger, vinniger, arms agter hom uitgestrek asof hy gaan vlieg. Bal, hak, bal, hak, padaf. Talla kan hom uitasem hoor sing. “I’m singing in the rain, just singing in the rain.”
Daar is nog ’n minuut internettyd oor. Talla klik vinnig op die “Contact Us”-knoppie.
Ek is in Skotland, Astian. Kan jy dit glo?! Die lewe maak snaakse draaie, ek het nou die dag op jou webwerf afgekom en hier is ek nou, naby jou eiland.
Ek is op ’n sabbatsreis. Probeer van loopbaan verander en gebruik hierdie tyd om drome na te jaag. Laat weet hoe dit gaan. Groete, en mooi bly.
Sy klik op “Send” voordat sy haar kan bedink.
16
Terug in haar kamer krap Talla in haar tas, op soek na niks spesifieks nie, maar dalk lê haar paspoort iewers weggesteek en kom dit nou uit. Sy vat die klein A5-fotoalbum raak wat tant Lettie vir haar gemaak het om saam te bring Skotland toe. “Van my en jou ma af,” het sy in die Modimolle-huis se skemer sitkamer gesê en die album aangegee. Haar ma het vir haar niggie geglimlag en toe weer na haar saamgevoude hande op haar skoot gekyk.
“Dankie, tant Lettie. En Ma.” Talla het die album op die dresser langs haar stoel neergesit, toe sy uit die hoek van haar oog die dun lêer met die woord Testament in oumensskrif daarop gewaar.
Dié verdomde huis. Die hartseer en onvergenoegdheid en ja, as sy moes eerlik wees, tant Lettie se kleingeestigheid, het soos ’n wolk oor haar ma se huis gehang. Van vreugde en ’n belangstelling in die wye wêreld was daar geen teken nie. Geen wonder sy gaan so sleepvoetend daarheen nie. En geen wonder sy beperk haar besoeke tot verjaardae en Kersfees nie.
Talla keer haar gedagtes weg van Modimolle terug na Glencoe. Sy blaai deur die fotoalbum. Daar is net ’n paar foto’s in, meestal van haar ma en tant Lettie toe hulle jongmeisies was, ’n swart-en-wit een van haar ma in ’n minirok voor ’n Valiant. Die foto is seker in die sewentigs geneem. Daar is ook ’n skoolfoto van Talla. Sy was in daardie dae se standerd agt volgens die bordjie voor haar en ’n tipiese tiener met vyandiggesinde oë en uitdagende houding. Rebel without a cause. Dit lyk ook asof sy met die fotograaf praat en haar mond is groot genoeg oop om haar oneweredige voortande te sien. Die een staan effens uit met een hoekie wat bo-oor die ander voortand lê. Haar tande lyk vandag nog so, sy het self ook nooit genoeg geld verdien om dit te kon laat regmaak nie. Astian was mal daaroor. Hy het hierdie klein onvolmaaktheid waardeer, gesê dit maak haar nog mooier. Sy het hom geglo.
Daar is nog ’n foto, ’n swart-en-wit een van die klein Talla in ’n wit valletjiesrok. Haar arms is gekruis en sy frons. Sy onthou die glibberige nylonmateriaal waarvan die rok gemaak was. Sy voel die materiaal onder haar vingernaels en ril. Sy onthou die rok nou baie goed, dit het deurskynende ligpienk rosies om die kraag gehad. Sy soek na die rosies op die dowwe foto en kry dit. Nie meer duidelik nie, maar dit is daar.
Sy haal die foto uit sy plastieksak en draai dit om. Atalia, 6 jaar, Warmbad, staan daar in haar ma se handskrif geskryf. Sy draai die foto weer om en kyk lank na die rok. Dan onthou sy hoe sy haar naels obsessief oor die rok getrek het en die vlae hoendervel wat daarop gevolg het. ’n Flerts herinnering kom vanuit nêrens by haar op en sy maak haar oë toe. Sy sit doodstil, bang dat iets haar aandag aftrek en die herinnering verwilder. Wit bobbysocks en nuwe swart blinkleerskoene. En ’n baksteentrappie, hard onder haar boude en bobene.
Sy onthou. Sy is ses jaar oud en sit in haar pienk partytjierok en blink swart skoene op die baksteentrap en wag. Haar trui is in die Valiant, maar sy mag dit nie gaan haal nie. Sy trek haar rok tot oor haar knieë en hoor manstemme agter haar. Hulle lag en een begin hoes. ’n Nat hoes, nes haar pa soggens hoes as die grootmense die vorige aand kaartgespeel het. Die man maak keel skoon en sy leun verder vorentoe, probeer haar rok laer oor haar bene trek. Agter haar breek iemand ’n wind op en die reuk van bier bly in die lug hang. Sy kyk om. Haar pa staan agter twee vreemde ooms op die stoep. Die een oom, die maer een, hoes weer en buk by haar. “Is dit joune, Johann? Oulike nooientjie.” Hy vryf oor haar hare. Sy asem stink na rook.
Talla spring op, hardloop na haar pa toe en draai haar onder sy arm in.
“Wag net nog ’n rukkie, meisie,” sê haar pa. “Ons gaan amper ry.” Hy en die twee ooms stap weer by die kroeg in.
Toe dié herinnering losruk en na die oppervlak dryf, trek daar ’n rilling deur Talla se lyf. Sy sit die foto in die plastieksakkie terug en druk die album onder haar matras in. Sy het al vergeet van daardie aand op die Warmbad Hotel se stoep en nou, dekades later, onthou sy dit. Sy was daardie dag by ’n verjaardagpartytjie en haar pa het haar kom haal. Hy het eers by die hotel stilgehou voordat hulle huis toe is. Darem vir haar ’n rooi koeldrank op die trap gebring, as sy reg onthou. Dit was al donker toe hulle huis toe ry.
“Moenie vir jou ma sê waar ons was nie,” het haar pa gesê en ’n sigaret aangesteek. Hy het die vuurhoutjie doodgewaai en by die venster uitgeskiet.
“’n Mens mag nie jok nie, Pappa.”
Die kar het na bier en sigaretrook geruik. “Dis ’n wit leuentjie, Atalia.”
“Maar dis jok.”
Hy het na haar gegluur. Sy het gewens hy wou liewer kyk waar hy ry. “As jy vir jou ma vertel, gaan ek jou ’n helse pak slae gee. Dit fokken belowe ek jou.”
Talla kan nie onthou wat verder gebeur het nie. Het sy Ma ooit vertel? Sy glo nie, sy was te bang vir Pa. As hy gedrink het, het hy in ’n woestaard