Die wolkversamelaars. Nadia de Kock
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die wolkversamelaars - Nadia de Kock страница 11
Talla hou haar asem in en asem dan stadig uit. Sy moet kalm bly met dié kalant. “Luister, Craig, ek hou nie daarvan dat jy jou hand op my knie sit … of aan my raak nie. Ek wil eintlik net ’n storie of twee hoor en dan huis toe gaan.”
Hy lek weer oor sy lippe. “Ek hou van ’n vrou wat haar kastig teësit.” Hy glimlag. Sy oë is koud.
Talla se nekhare rys. Sy staan op. “Ek dink nie ons gaan vreeslik vorder nie. Het jy vir my ’n storie of het jy nie?”
’n Oomblik lyk hy verdwaas. “Ek vra om verskoning, ek is sommer laf.” Hy sukkel ook op en stamp die glas van die leuning af. Die glas bly heel, maar die whisky vorm ’n donker dammetjie wat op die oppervlak van die dun mat bly lê.
Craig buk steunend en tel die glas op. “Ek is so lomp. Ek is nie gewoond aan geselskap nie, dit raak soms alleen hier. Ek het my wangedra.”
Die ellendeling is waarskynlik ’n eensame kluisenaar en sosiaal onbevoeg, dié dat hy so lomp is en onvanpas optree.
Craig hervul dieselfde glas. “Is jy seker ek kan jou nie bederf met ’n klein dop nie? Goeie goed.” Sy skud haar kop en Craig gaan sit. Hy lyk soos ’n skoolseun wat pas oor die kole gehaal is. Hy klop sag op die sitplek langs hom. “Kom sit, asseblief.”
Talla gaan sit op die punt van die bank se sitplek en kyk op haar horlosie. “Ek het net ’n uur tyd,” jok sy, “kan ons asseblief vinniger werk?”
“Natuurlik.” Craig versit en Talla gly weer ’n bietjie nader aan die nuwe duik wat hy in die bank maak. Sy skuif weg van hom en sy koue oë, maar hou haar blik op hom. Sy probeer moedig terugkyk.
“Reg. Stories.” Sy gaan hom nog een kans gee, dan gaan sy tou opgooi. Sy sal haar stories op ’n ander plek kry.
“A,” sê Craig en raak aan Talla se wang. Sy vries. “So ’n mooi vrou. Nie meer jonk nie, maar so mooi.”
Nee, de moer met dit. Sy spring op. “Ek waai,” sê sy en stap vinnig deur toe. Voordat sy dit kan oopmaak, is Craig by haar en sit sy hand op haar skouer. Hy is nogal rats vir so ’n oorgewig mens. Sy stamp sy hand af. “Los my.”
Hy druk tussen Talla en die voordeur in. “Wag, wag! Ek is jammer.”
“Nee, dít het jy al gesê. Ek waai.”
“Ek het net ’n grap probeer maak. Dit het nie gewerk nie. Kom sit, kom ek vertel jou van een van Skotland se grootste vegters.”
Talla laat sak haar skouers effens.
“William Wallace, een van ons –”
“Vlieg in jou moer,” sê sy en span al haar krag in om Craig uit die pad te druk. Sy maak die voordeur oop en hardloop tot by haar fiets, spring op en ry so vinnig as wat sy kan oor die sagte gras by die erf uit. Haar keel brand en toe sy opkyk, sien sy Mikey voor die klipkerk sit.
13
“I waited for you,” beduie Mikey en draf agter Talla aan. Hy hoes uitasem en sy stop. Sy klim van die fiets af en begin dit stoot. “I don’t trust that bastard. Why are you crying? Has he done something to you?”
“Niks,” sê Talla. “Hy het niks gedoen nie.”
“Maar hoekom huil jy?”
“Ek het sommer skielik huis toe verlang … ag, dis niks. Ek is net teleurgesteld omdat ek nie ’n storie by hom kon kry nie.”
Hulle stap in stilte verder. Mikey probeer haar af en toe troos. Die mis is nog steeds dig. Talla se keel is dik. Hoekom het Craig daardie haatlike ding gesê? Dat hy kan sien sy is nie ’n engeltjie nie. Staan dit op haar gesig te lees dat sy al ’n klomp minnaars gehad het? Nee, sy verbeel haar, selfs Zani het nie geweet totdat Talla haar een aand ná twee bottels wyn vertel het nie. Zani wou die klomp die Dirty Dozen noem, maar Talla het gesê ’n dosyn is effens van teiken af. Zani het gelag en gesê dis reg so, hulle heet nou die “Roekelose ruk-en-rollers”, of kortweg “Roekeloses”. Zani het haar nie veroordeel nie. “Seks is ’n sosiale ding,” het sy gesê. “Mense heg te veel waarde daaraan.”
“Ek stem nie saam nie,” het Talla vasgeskop. “Ek het nooit in enige van my verhoudings ingedartel nie. Vir my is dit ernstig.”
Nou onthou sy ook uit die bloute die Herman-ellendeling van destyds. Hulle het gaan fliek en daarna wou hy met alle mag ’n “loopdop” kom drink. Talla het geweier en toe hy by die voordeur vatterig raak, het sy gesê hy moet hom uit die voete maak voordat sy Theresa, wat vir ’n maand by haar gebly het terwyl haar Clydesdale-kombuis oorgedoen word, roep.
“Jou hoer,” het Herman haar toegesnou.
“Dis die beste waarmee mans soos hy vorendag kan kom,” het Theresa ’n halfuur later oor ’n koppie warm sjokolade gesê.
“Jy’s seker reg, Theresa. Maar ek is nie ’n engeltjie nie.”
“Natuurlik is ek reg, en niemand van ons is engeltjies nie. Vergeet wat Herman gesê het. Hy is niemand nie. Wat belangrik is, is wat jy van jouself dink, en ek reken jy moet ophou om sulke gedagtes vatplek te gee.”
Dit was die fermste wat Talla ooit vir Theresa hoor praat het.
“Dit is bullshit.”
En dit was die enigste keer dat Talla ooit vir Theresa hoor vloek het.
Die onderonsie met Herman het al ’n hele klompie jare terug gebeur, maar die lae hou wat Craig haar ’n rukkie gelede toegedien het, brand nog. Soos destyds met Herman voel sy al weer skuldig, goedkoop en benoud dat haar teorie oor die hel, waaraan sy nie te veel probeer dink nie, in die kol gaan wees.
Talla se teorie is dat die hel ’n plek is waar geheime nie bestaan nie. Lang vergete herinneringe, dinge wat jy onderdruk, goed wat ander vir jou wegsteek en wat jy vir hulle wegsteek word in die hel bekend gemaak. Alles word van die dakke af geskree en op elke moontlike helse televisiekanaal gebeeldsend. Jy kan jou nie draai nie of jy word deur jou geheime op die naaste televisieskerms gekonfronteer.
In Talla se geval sal die hele wêreld van die Roekeloses weet. Hul name sal soos vet hommelbye om haar kop bly draai. Soos Breyten se byeboer met ’n stralekrans bergbye om sy hoof sal sy wat Talla is in die hel rondloop. En almal sal dit kan sien, van die eerste helle-oomblik tot in alle ewigheid in.
Sy sluk. Sy dink haarself nog banger, sy moet ophou. Komaan, think happy thoughts. Onthou hoe Zani gegiggel het toe jy haar van dié beeld vertel het. “Zap hulle, Talla, zap hulle met Doom. Buitendien, het die Roomse kerk dan nie verklaar daar is nie ’n hel nie? ’n Mens stry skynbaar nie met die pous en sy gesante nie.” Talla het vir Zani, wat nie godsdienstig is nie maar baie oor die saak te sê het, gelag.
Sy het tog rustiger geraak en die beeld het minder dikwels verskyn. Net soms nog rondom middernag wanneer die hele wêreld slaap.
“Ek het altyd heide vir my ma gesoek,” sê Mikey hier langs haar. “Sy was baie lief daarvoor.”
“Hm.”
“Captain?”
“Ja,