Die wolkversamelaars. Nadia de Kock

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die wolkversamelaars - Nadia de Kock страница 13

Die wolkversamelaars - Nadia de Kock

Скачать книгу

was nie. Maar ek sal vir jou die inligting kry.”

      Talla glimlag. Alles is nie verlore nie. Haar soektog het maar pas begin.

      15

      Ná middagete kom die son uit en Talla en Mikey stap na die Glencoe-lochan toe. Die lug is ’n waterige blou en grys-en-wit wolke loop soos trekkerspore oor die hemelruim. Altocumulus undulatus.

      Die flou sonnetjie kan nie die koue verjaag nie. ’n Yslaag glinster silwer op die kaal boomtakke en verder van die pad af, dieper tussen die els- en essenhoutbome, kleur die mosbegroeide muurtjies die swart-en-wit wêreld groen.

      Mikey loop vanoggend soos Neil met bonsende treë. Hy kyk op en beduie na die wolke. “Mackerel sky, not twenty-four hours dry,” sê hy oor en oor terwyl hy langs Talla bons.

      “Wat beteken dit?” vra sy, meer om Mikey sover te kry om op te hou met die rympie.

      “Môre sneeu dit!”

      Talla glimlag en is lus en bons ’n keer of wat saam met Mikey. Sy het nog nooit sneeu gesien nie en voel so opgewonde soos ’n kind by die gedagte daaraan.

      ’n Entjie voor die brug oor die Coerivier is daar ’n bordjie wat Lochan na regs wys. Hulle neem die afdraai en stap teen ’n digbegroeide heuwel uit. By ’n vurk in die pad draai hulle links, want Mikey wil vir Talla die ou Glencoe-hospitaal gaan wys. Die plek was vir jare nie meer ’n hospitaal nie, maar ’n ouetehuis wat in 2009 gesluit is. Dit is nou ’n hotel, maar die gebou het nog steeds ’n verlate gevoel, sê Mikey.

      Dit neem slegs ’n paar minute om daar te kom. Talla kan haar oë nie van die plek wegskeur nie. “It looks haunted.”

      “Aye. Kan nie anders nie.”

      Die donker ou Victoriaanse gebou met sy skoorstene wat swart teen die grys lug afsteek, lyk soos iets uit ’n gruwelfliek. Moeilik om te glo dat dit eens ’n hospitaal was en nog moeiliker om te dink dat dit nou ’n hotel is. Dit lyk nie of hier gaste is nie, dalk is dit gesluit totdat die vakansieseisoen begin. Die plek herinner Talla sterk aan die bekende Breyten-gedig waarin die hospitale van Parys stampvol bleek mense is wat voor die vensters staan en dreigend beduie. Sy het destyds toe sy die gedig die heel eerste keer gelees het, gewonder hoekom die pasiënte juis dreigend beduie en nie eerder om hulp roep nie. Maar nou, hier, sien sy voor haar geestesoog oumense voor die vensters beduie. En sy vermoed hulle swaai hul arms wild in ’n poging om die spoke uit hul verlede te verjaag. Breyten se pasiënte het waarskynlik dieselfde gedoen. Of die dood probeer verwilder.

      “Kom ons gaan,” sê sy, draai om en begin vinnig terugstap na die vurk in die pad.

      Dit duur net ’n paar minute voordat hulle die lochan bereik. Daar is ’n paar bankies op die voetpad wat om die lochan loop en Talla gaan sit op die een langs die klein pier. Agter die pier is ’n ou boothuis. Dit is nie vervalle nie, maar duidelik nie meer in gebruik nie.

      Mikey stap ’n ent aan en inspekteer stamme van die bome teenaan die paadjie. Hy kyk uit vir skimmel, sê hy, dit dui op plantluise. Net nóg een van sy eienaardighede.

      Hy dwaal ál verder van die lochan af, tussen die bome in.

      Die lochan se water is spieëlglad. Talla staar na die weerkaatsing van die dennebome aan die oorkantste wal in die water hier voor haar. Dit is ’n vredevolle plek, die stilte is klokhelder. ’n Slierterige wolkie draal stadig bo die water en trek langsaam en draderig uitmekaar. Dié ou vallei is ’n plek vol geheimenisse. Sy is Theresa dankbaar vir die geleentheid. Is hierdie lochan nie dalk die ideale plek om Theresa se as te strooi nie? Sy moes tog seker ook hier kom stap het. Dalk het sy op hierdie einste bankie gesit en kyk na die silwer water voor haar. Ja, dis waarskynlik die beste rusplek vir Theresa. Maar eers ’n wyle wag, Talla, jy is nog nie heeltemal gereed om dit te doen nie. Dit is so finaal.

      Ná ’n rukkie se stilsit haal sy die wolkboekie uit haar jeans se sak en maak dit oop. Sy kyk na ’n foto van die waardevolle Kelvin-Helmholtz-wolkformasie. Dit lyk soos golwe net voordat dit breek, van daardie groot brekers waaronder branderplankryers deur ry.

      Mikey is intussen skynbaar klaar met sy boombasinspeksie en kom sit langs haar.

      “Kyk hier.” Talla wys vir hom die foto. “Dit lyk soos die spirale in Van Gogh se Starry Night.”

      Mikey vat die boekie uit haar hand en bestudeer die foto.

      “Dalk het Van Gogh daar in die inrigting sy herinnering aan die wolke as inspirasie gebruik.” Talla praat meer met haarself as met Mikey.

      “Watter wolke?” vra ’n manstem agter hulle.

      “Connor!” roep Mikey en spring op. Talla se kop ruk om. Sy wil ook opstaan, maar bedink haar gelukkig betyds.

      “Hallo, julle,” groet Connor en stap tot teen die water voordat hy omdraai en na hulle kyk. Sy oë vonkel. “Van watter wolke praat julle?”

      “Kelvin-Helmholtz,” sê Mikey en hou die boekie na Connor uit sodat hy kan sien.

      “Hm. Merkwaardig. Jy is reg, Talla.” Hy gee haar boekie terug en gaan sit op die ander punt van die bankie, Mikey tussen hom en Talla.

      Mikey begin babbel. Hy praat oor die lochan, oor Loch Lomond, Glasgow, Kent, oor Ben Nevis. Hy skep nie asem nie en Talla voel later namens hom uitasem. Connor se oë glinster soos klein branders in die son oomblikke nadat dit gebreek het. Hy kyk merendeels na Talla, maar beaam elke nou en dan iets wat Mikey sê. Talla se wange begin gloei. Connor ontsenu haar met sy blink oë.

      “Stratuswolke,” sê Mikey en staan op. Hy beduie na die mis wat nadersweef. “Die mis is ’n tipe wolk, stratus. In Latyn beteken ‘stratus’ lae. Maak alles toe, ’n mens kan omtrent niks sien nie.”

      Talla is verras. “Indrukwekkend, Mikey.”

      Dit lyk nie of hy haar hoor nie. “Nimbus bring reën. En jy gaan nog moeg word vir stratus, Captain.”

      “Dalk nie.” Sy leun vorentoe en vou haar arms om haar knieë. “Dit laat my geborge voel.”

      Net so skielik as wat Mikey begin praat het, hou hy op. Hy kom sit weer tussen hulle.

      “Die mis laat die meeste mense kloustrofobies voel,” sê Connor. “Miskien het jy Keltiese bloed.”

      Talla kyk vinnig na hom. “Dis vir my ’n lekker gedagte.”

      “Vir my ook.” Sy oë vonkel steeds.

      Wat bedoel hy? Haar wange word weer warm en sy kyk voor haar.

      Connor vervolg: “Daar is ’n Keltiese mite oor een van die seegode, Manannán mac Lir, wat die stratuswolke gebruik as mantel om sy eilandkinders mee te bedek. Hy doen dit wanneer hy hulle wil beskerm.”

      “Jy sien! Beskerming.” Talla kyk vinnig na hom. Die stilte kom lê weer tussen hulle. “Glencoe is ’n spesiale plek. Dit voel so onverstoorbaar,” merk sy op.

      “Dis ’n ou plek. Dit is hier waar die kontinente Laurentia en Avalonia vyfhonderd-miljoen jaar gelede teen mekaar gebots het. Skotland was deel van Laurentia. ’n Oseaan het die twee kontinente geskei en toe dit teen mekaar bots, is die massiewe Kaledoniese berge gevorm. Glencoe-vallei is die hart daarvan.”

      Talla

Скачать книгу