Raaiselster. Troula Goosen
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Raaiselster - Troula Goosen страница 3
Die gordyne voor die vensters in die voorkamer is toegetrek. Die huis ruik na medisyne en hy hoor ’n geluid.
Tsj-tsj-tsj.
Hy draai sy kop om te luister. Dit kom van agter, van die kombuis se kant.
Tsj-tsj-tsj.
Toe weet hy. Dis die gesis van ’n warm strykyster op klam materiaal. Mieta is besig om te stryk.
Mieta!” Uitasem steek Leopold op die kombuis se drumpel vas. “My ma …?”
Mieta kyk op van waar sy by die stryktafel staan. “Dis als reg, Leopoldjie,” troos sy. “Oudok het bloed getrek, sy rus ’n bietjie.” Stadig, amper asof sy iets soek om haar mee besig te hou, sit sy die swaar strykyster eenkant. “Gaan groet eers.” Haar mondhoeke bewe.
“Mieta?” ’n Donker vrees sypel deur Leopold se lyf. Alles voel klipswaar. Sy voete. Sy bene. Sy hart.
Mieta antwoord nie. Begin net om die strykkombers op te vou. Oor en oor vou sy dit sonder om na Leopold te kyk.
Die vertrek kantel voor Leopold se oë. Sy ma se kamer is aan die onderpunt van die gang. Hoe gaan hy daar kom? Sy bene is lam. Maar toe hy weer sien, staan hy voor haar deur. Hy lig sy hand om te klop. Bedink hom en draai die knop. Saggies. Saggies. Hou asem op. Sluip binnetoe.
Geskok staar hy na die koperbed in die middel van die kamer. Sy ma is dan nie daar nie! Kan dit wees dat … ? Nee wag, daar is ’n hopie bene onder die wit lakens. Leopold proe die sout smaak van trane in sy mond.
Hy loop tot langs die bed en raak aan haar hand. Dis koud, yskoud.
“Leopold?” Geraamtevingers vou om syne.
“Ek’s hier, Ma.”
Haar ooglede fladder. “Ek moet … praat.” Sy begin hoes en soek-soek na haar sakdoek. Leopold kry dit tussen die lakens en hou dit teen haar lippe. Toe hy dit wegvat, is dit vol donker spatsels.
“Stadig nou, Ma,” sê hy toe dit lyk of sy weer asem het. “Rus eers ’n bietjie.”
Isabella se kop rol heen en weer op die kussing. “Jy moet weet. Van hom …”
Leopold druk haar saggies terug. “Van my pa?” vra hy die vraag wat hom al van kleintyd af pla.
Isabella maak ’n gebaar met haar hand. “Swart. Die swart man. Hy weet.” ’n Nare roggel rasper uit haar keel. “Jy moet uitvind wat gebeur het. Die boodskapper … Daar’s fout.” Dit lyk of die praat haar uitgeput het, want haar lyf smelt weg tussen die beddegoed.
“Ma!” Leopold tik teen haar wang. “Asseblief, Ma, moenie my alleen los nie.” Hy sak op sy knieë af en slaan sy arms om haar lyf.
“Jy móét dit kry, Leopold. Anders …”
“Wat moet ek kry, Ma?”
“Die man met die jas. Hy weet.” Sy lig haar hande en skulp dit om sy gesig. “Wees dapper my kind.” Haar hande val terug in haar skoot.
Later is daar gedempte voetstappe op die plankvloer.
Mieta buk oor Leopold en vee met haar vingers oor sy ma se oë, vou Isabella se hande oor haar bors en trek die laken oor haar gesig. Toe raak sy saggies aan sy skouer. “Kom, kind, ek maak solank tee.”
Leopold!” Mieta se kneukels tik teen sy kamerdeur. “Oudok wag in die voorkamer.”
Leopold sak op die rand van sy bed neer. Buite ruis die reën op die nuwe sinkdak, amper asof Tafelberg ’n sluier trek oor Isabella de Villiers wat soos ’n waspop in die kis lê. Beeldskoon. Gewild. Skatryk. En nou is sy weg. Vir altyd. Hy kreun en druk sy gesig in sy hande.
Die geklop word meer dringend.
Ná ’n rukkie gee hy in en loop na die kamerdeur. Voor hy aan die knop raak, swaai dit oop.
Verligting spoel oor Mieta se bruin gesig toe sy hom sien. “Ai, kind!” Haar lippe word strepies. “A nee a!” Sy trek hom aan sy onderbaadjie se pante nader. “Hoe’s jou knope dan so skeef vas?”
Leopold staan gedweë stil terwyl hy Mieta toelaat om die knope eers los en dan weer vas te maak, nes sy gedoen het toe hy nog klein was. “Wat nou, Mieta?” vra hy die vraag wat die laaste dae tussen hulle hang.
“Nou?” Met ’n hand vol eelte vee sy ’n denkbeeldige donsie van sy skouer af. “Nou lig jy jou ken en gaan bêre jou ma. Oor die res sal daar agterna gepraat word wanneer die testament gelees word. Oudok is mos jou voog, en geld sal daar oorgenoeg wees.”
“Maar wat van jou, Mieta? Van jou en Moos?”
“Oudok het gepraat dat ons ook moet kom luister. Dalkies het jou mammie vir ons iets gelos vir ons oudag. Of vir al wat ons weet, stel Oudok ons aan om vir jou te sorg. Toe, toe, hy wag vir jou.” Mieta beduie af in die skemer gang.
Leopold rem terug. “Wat onthou jy van my pa, Mieta?”
Mieta se oë vernou. “Nou’s nie die tyd om oor hom te praat nie.”
“Wanneer dan? My ma het nie gepraat nie. Jy en Moos praat nie. Oudok ook nie. Dis amper of my pa nie bestaan het nie.”
Mieta druk ’n grys haarkrul onder haar kopdoek in. “Hygend hert, wat maak dit tog saak, kind? Buitendien, ek het mos eers ná jou geboorte vir jou ma begin werk. Jou pa was toe al lankal weg.”
“En die man in die swart jas? Weet jy wie hy is? My ma het van hom gepraat net voor sy dood is.”
Mieta skud haar kop. “Jou ma se gedagtes was seker deurmekaar.”
Sy trek haar swart tjalie stywer om haar skouers en druk hom vooruit. Daar hang ’n lanferlap oor die huisorrel en die voorhuis ruik na siprestakke.
Die res van die oggend gaan in ’n waas verby. Sy ma se koue voorkop onder sy lippe toe hy haar vir oulaas groet. Oudok se arm om sy skouers. Die genooide begrafnisgangers wat gedemp opdaag. Mans wat hulle hoede afhaal voor hulle hul plek in die voorkamer inneem. Die dominee se temerige trooswoorde. Toe die stoet na die begraafplaas.
Langs die oop graf breek die son deur die wolke. Leopold leun vorentoe om ’n rooi roos op die kis te gooi. Die oomblik toe die roosknop op die kis beland, trek daar ’n aardige huilgeluid deur die begraafplaas. Vir ’n oomblik dink hy dis sy eie hartseer wat uit sy lyf skeur, maar toe waai Oudok met sy sambreel.
“Voertsek!”
Leopold kyk op, net betyds om die wit hond wat hy vroeër die week in die stad gesien het langs een van