Raaiselster. Troula Goosen
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Raaiselster - Troula Goosen страница 5
“Ek sê jou, die kind gaan nié weeshuis toe nie.” Mieta snuif hoorbaar. “Ons sal vir hom sôre, al is dit iewers in ’n pondok.”
Straat … weeshuis … pondok … Die woorde tuimel deurmekaar in Leopold se kop. Stadig gly hy af teen die muur en gaan sit in ’n hopie op die plankvloer.
Die muurhorlosie in die gang het pas halfnege geslaan toe Leopold die voordeur oopmaak. Buite sif die maanlig oor die laaste herfsrose in sy ma se voortuin, en die sterre lyk koud en ver. Hy versit die bondel op sy rug. Dis lig. Net ’n paar stukkies klere. Op soek na geld het hy in sy ma se juwelekissie gaan krap, maar tot sy verbasing was daar geen teken van die diamanthalssnoer en ringe waarmee sy altyd gespog het nie. Sy het dit lanklaas gedra. Seker vir Oudok gegee om in sy kluis te bêre.
Gelukkig het hy nog sy ma se beursie. Leopold vat-vat na sy baadjiesak waar hy dit ingedruk het. Nie dat daar veel in is nie, net ’n paar munte en ’n klip. Hoekom sy ma die klip gebêre het, weet hy nie. Hy sal dit maar hou vir ’n gelukbringer.
Behoedsaam sluip hy met die paadjie af. By die tuinhekkie gekom, kyk hy terug na die donker vensters van hulle spoghuis en sluk teen die knop in sy keel. Hopelik kom Mieta eers môre by ontbyt agter hy is weg.
Al is die strate verlate, vermy hy die poele lig wat die lampe gooi. Maar wie sal hom soek? Van vandag af is hy amptelik ’n brandarm weeskind.
Hy loop vinnig tot by Koningin Victoriastraat. Daar draai hy regs in Waal, dan tot by Breëstraat, van waar hy die buitelyne van die kerk ’n entjie verder in die maanlig sien. Sy hart skop in sy keel. Hy is op die punt om die vreemde in te vaar, en dit saam met ’n boggelrugtransportryer wat hy van g’n kant af ken nie. As sy ma dít moet weet, draai sy in haar graf om.
Hy trek sy asem diep in. Hy sal ’n sak vol geld op die diamantvelde maak, terugkom en vir Mieta en Moos kom sorg. Ten minste weet hy nou wie regtig vir hom omgee.
Tot sy verligting staan die transportwa nog in die hoek van die plein. ’n Flikkerende liggie verklap dat die kampvuur brand en daar hang ’n watertandgeur in die lug. Braaivleis. Leopold snuif dit diep in en sluk. Ten spyte van die bang wat soos ’n vasgekeerde kakkerlak in sy maag kriewel, kan hy voel dat hy gister laas – onder Mieta se wakende oog – ’n stukkie kos ingewurg het.
Hy loop om die wa. Barend en Sarel sit nog op dieselfde plek waar hy hulle gelos het. Sarel se vuur het kole gemaak, waaroor daar nou repies vleis hang. Met Asem langs hom, sit Barend op sy riempiestoel, besig om ’n figuur uit ’n stuk hout te kerf.
Leopold loop nader en gaan ’n entjie van hulle af staan.
Barend se hande word stil. Asem se stert klap-klap in die stof. Sarel vroetel met die vuuryster sodat blinkrooi vonkies in die lug spat.
“Ek kan nie skiet nie, Oom.”
Die togryer kyk op en sy lippe vertrek in ’n tandlose grynslag. Toe buk hy vooroor, tel ’n gebreide velletjie op en begin die houtsneewerk daarin toedraai. Leopold se oë volg sy bewegings. Wat is hy besig om te kerf? ’n Bobbejaan? Nee, dit lyk meer soos ’n leeu. Maar ook nie. Wat dit ook al is, die monsteragtige figuur se gesig is vertrek van vrees, asof dit vlug vir iets waarvoor dit banger is as vir die dood.
Help!” Leopold gooi homself teen die grond neer en keer met sy hande, maar dis te laat. Die monsterdier spring uit Barend se skoot en beland op sy bors. Spoeg drup uit die gedrog se bek en rol oor sy wang.
Hy spartel om weg te kom, maar sy spiere is styf, nes sy ma s’n toe sy in die doodskis gelê het. “Gaan weg!” skree hy, maar die woorde stol in sy keel.
Die monster se tamaai poot tref hom in die ribbes. “Hei, hou op droom!” raas ’n hoë stem bokant sy kop.
Leopold se oë vlieg oop. Sowaar, daar is nie ’n monster nie! Net twee kwaai blou oë wat hom aangluur.
“Sarel?” Die naam verander in ’n asemwolkie voor sy mond.
Die touleier se smerige hoed is laag oor sy voorkop getrek, maar nie laag genoeg om sy frons weg te steek nie. “Vir wat slaap jy so laat?” snou hy, sy stem nou dieper. “Ek’t lankal al die osse aangejaag.” Sonder om te kyk of Leopold hom volg, draai hy om en verdwyn regs om die wa.
Leopold kreun en vryf die plek waar Sarel se kaal groottoon hom geskop het. G’n wonder hy voel so goor nie. Dis die eerste keer in sy lewe dat hy buite slaap, plat op die grond op ’n seiltjie met net ’n ossewa om die snerpende winterwind af te skerm. Laas nag, nadat hulle klaar geëet het, het Barend hoes-hoes onder die wa ingekruip. Sarel het die kole aangeblaas en nog hout opgegooi, maar sy stywe rug het duidelik gewys dat Leopold nie welkom naby dié hitte is nie. Dis toe dat hy maar ’n seil gevat en dit agter die wa onder die sterre oopgegooi het.
Hoe lank hy op sy rug gelê en die donker ingestaar het, weet Leopold nie. Só onvriendelik en ver was die Suiderkruis nog nooit nie. Skielik het ’n verskietende ster ’n blink streep oor die donker lug geverf. Dalk ’n boodskap van sy ma? Hy het sy brandende oë toegeknyp en gewens. Ná ’n rukkie het die seer in sy hart dowwer geword en het hy aan die slaap geraak.
Leopold sug en vee die nattigheid wat op sy wang beland het af. Gelukkig is dit darem nie monsterspoeg nie, net dou wat op die bokseil gevorm en op hom gedrup het. Teen die horison glimmer ’n nuwe dag, ’n sweep klap en die lug ruik na beesmis en koffie. Dis tyd om op te hou om homself jammer te kry en ’n nuwe lewe te begin. Hy trek sy skouers reguit en loop om die wa na waar Barend langs die kampvuur staan.
Die togryer groet nie. Beduie net na die koffiekan en paraffienblik met boerbeskuit op die tafeltjie. “Eet klaar en maak dood die vuur, ek kyk solank of die vrag goed vasgemaak is,” sê hy en gee ’n skerp fluit.
Asem kom om die wa gehardloop, maar toe Leopold buk om die brakkie te streel, lig sy haar lippe sodat ’n ry vlymskerp tandjies wys. “Hiert!” raas hy en ruk sy hand weg.
“Los die hond!” Barend spoeg sy pruimpie eenkant en klap met sy hand teen sy knie. Asem spring teen hom op en toe hy na die wa loop, draf sy stertswaaiend agterna. Op die trappie steek hy vas. “Wat staan jy so?” raas hy met Leopold. “Die osse gaan hulle nie self inspan nie.” Toe lig hy die tentflap en kruip vinnig by die opening in. Leopold rek sy nek, maar Barend laat sak die flap voor hy kan sien wat alles binne gebêre word.
Leopold trek sy skouers op en haal ’n stuk beskuit uit die blik. Asof hy omgee wat die ou boggelrug karwei. Al wat hy wil doen, is om op die diamantvelde te kom en stap een is seker om iets in sy maag te kry.
Maar die bitter swart koffie en harde boerbeskuit steek in sy keel vas en laat hom só na Mieta se geurige mosbolletjies verlang dat sy hart pyn. Hy hoort nie hier nie. Hy ken die ou togryer van g’n kant af nie en wat weet hy van osse inspan, transport ry of diamante delf? As hy alles net so los en laat waai, is hy veilig terug in sy eie bed voor Mieta eens agtergekom het hy is weg.
En dan?
Sal hy regtig op Mieta en Moos se genade in ’n pondok kan leef? Dink net hoe sal die snobberige