Raaiselster. Troula Goosen
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Raaiselster - Troula Goosen страница 4
Dit is te veel vir Leopold. Hy stoot Oudok se arm van sy skouers af weg, druk tussen die begrafnisgangers deur en hardloop by die hek uit.
Iets taais vee oor Leopold se wang. Hy skreef sy een oog oop en kyk in die wit teefhond se jakkalsgesiggie vas. “Nee sies, brak!” spoeg hy en vee oor sy mond. “Waar kom jy vandaan?”
Die hond begin haar stert jaag.
Leopold skud sy kop dronkerig en kyk rond. Hy sit op die onderste trappie van die St. Stephen’s kerk, die kerk op Boereplein waarheen Mieta elke Sondag kom. Afgesien van ’n ossewa wat in die een hoek uitgespan is, lê die plein verlate.
Die begrafnis! Hy klap met sy handpalm teen sy voorkop. Teen dié tyd is dit lankal verby en vir al wat hy weet, is die testament ook al gelees. Arme Mieta is seker rasend van bekommernis.
Styf-styf staan hy op, klap die stof van sy rouklere af en begin aanstap huis toe. Toe hy in Breëstraat opdraai, laat ’n tjankgeluid hom opkyk. Die hond staan in die middel van die plein en waai haar stert. Toe sy sien hy kyk vir haar, hardloop sy tot ’n paar treë voor die ossewa. Die rooibruin kol op haar linkeroor gloei in die laaste daglig.
“Wat wil jy hê, hond?”
Die tefie se tong hang uit. Sy jaag haar stert en verdwyn om die voorkant van die ossewa.
Agterdogtig kyk Leopold na die wa. Dis die eerste keer dat hy dié wa sien, so met ’n swart tentseil en bloedrooi wiele. Wie s’n is dit? En waarom lyk dit of die hond hom nooi om nader te kom?
Hy staan nog besluiteloos toe iemand aamborstig in die watent hoes. Die tentflap lig, en ’n krom figuur sukkel by die trappie af. Afgeteken teen die bleek laatmiddaglig lyk dit amper monsteragtig. Leopold tree verskrik agteruit toe hy die boggelrug herken.
Eers lyk dit of die man hom nie raaksien nie. “Sarel!” roep hy en toe ’n stem van agter die wa antwoord, steun hy tevrede. “Hang die ketel oor, ons het gaste.” Dan draai hy sy kop en kyk na Leopold. ’n Onleesbare uitdrukking kruip oor sy gesig. “Toe, waarvoor wag jy?”
“Hoe nou, Oom?” Baie lus om die hasepad te kies, meet Leopold die afstand na die straat met sy oog.
Die boggelrug antwoord nie. Hink net om die hoek van die wa. Teen sy beterwete volg Leopold hom. Hy trek sy asem in toe hy die tengerige bruin seun met die ligblou oë langs ’n kampvuurtjie sien hurk. Langs hom, onder ’n opvoutafel waarop ’n ketel en ’n paraffienblik vol boerbeskuit staan, verwelkom die wit hond Leopold met ’n lagbek.
“Dis Sarel, my touleier.” Die boggelrug beduie na die seun, wat net sy velhoed dieper oor sy oë trek. “En daardie karnallie is Asem.” Hy wys na die hond. “Kan haar prooi enige plek uitsnuffel.”
Verbaas kyk Leopold na Asem. Dis moeilik om te glo dié vriendelike brakkie is ’n jaghond.
Steun-steun sak die boggelrug op ’n veldstoeltjie neer, vis ’n rol pyptabak uit sy sak en sny ’n stuk met ’n knipmes af. “My naam is Barend,” stel hy homself bekend.
“A-aangename kennis, Oom.” Leopold steek sy hand uit. “Ek is …”
“Leopold de Villiers.” As Barend die verbasing op Leopold se gesig gesien het, wys hy dit nie. Hy stop ’n pruimpie in sy kies. “Kan jy skiet?”
“Hoe nou, Oom?”
“Ek vra of jy kan skiet. Vir die pot. Roofdiere. Rowers. Of het jy gedink dis grappies om transport te ry?”
Leopold roer sy skouers ongemaklik. “Ek woon hier in die Tuine, Oom, ek ry nie transport nie.”
Die touleier se blou oë flits in sy rigting, maar toe spoeg hy in die kole en vroetel met die sakkie om sy nek. Die ketel begin sing en hy pak twee blikbekers op die kamptafel uit.
“Ek moet gaan, Oom.” Leopold draai om, maar dit kry die man nie van sy storie af nie.
“Dis drie en ’n half maande met die transportwa tot in Kimberley,” sê hy. “Goeie plek om jou fortuin te soek.”
“Ek soek nie …” begin Leopold weer, maar Barend vat die blikbeker wat Sarel vir hom aangee en blaas oor die stomende koffie.
“Môre, voor die oggendster bleek word, wil ek al ver trek.”
Leopold besluit dat dit nie sal help om met die ou man te stry nie. “Dis reg, Oom, dan sê ek maar nag, Oom,” paai hy terwyl hy tot by die hoek van die ossewa retireer. Toe hy daar kom, vlieg hy om en nael oor die plein. Hy weet nie hoekom nie, maar iets voel verkeerd. Baie verkeerd. Hoe meer treë hy tussen homself en die boggelrug sit, hoe beter.
Leopold hou eers op hardloop toe hy by die hoek van hulle straat kom. Hy gaan staan met sy hande op sy knieë om asem te skep. Geen teken van iemand wat hom agtervolg nie, dankie tog.
Sweet pêrel op sy voorkop en hy vee dit met sy mou af voor hy straatop loop. Hulle huis se vensters is donker. Dit beteken die begrafnisgangers is weg en Oudok het die testament laat lees sonder om vir hom te wag. Maar wat maak dit saak? Al wat hy nou wil doen, is slaap. Ten minste sal hy dan vir ’n rukkie kan vergeet dat hy sy ma nóóit weer gaan sien nie.
Gelukkig is die voordeur nie gesluit nie. Dis donker in die portaal, maar na agter gewaar hy die gloed van ’n olielamp. Leopold se hart lig. Ai, dié Mieta darem!
Sy het juis gister deeg uitgerol om hoenderpastei te bak vir die groot eet ná die begrafnis en soos hy haar ken, het sy ’n skeppie gebêre, spesiaal vir hom. Dalk het sy wakker gebly sodat hulle kan praat. Hy is nou alleen in die wêreld. Hy móét weet van sy pa.
’n Entjie in die gang af laat geluide hom vassteek. Gedempte stemme. Leopold frons. Wie sal dié tyd van die aand by Mieta kuier?
Hy spits sy ore. Een van die stemme ís Mieta s’n en dit klink of sy huil. Toe praat ’n man. Behoedsaam, sodat die houtvloer nie raas nie, sluip Leopold nader. Die kombuisdeur staan op ’n skreef oop en in die geel lig van binne af sien hy vir Mieta waar sy met haar elmboë op die skoongeskropte greinhouttafel sit. Haar gesig is in haar hande en haar skouers ruk.
“Mastag, Mieta,” herken Leopold Moos se stem. “Dit help nie jy verknies jou nie. Ons hande is afgekap.”
“Hoe kan jy so sê, Moos?” raas Mieta met haar man. “Die kind het voor ons grootgeraak, ons kan hom mos nie nou aan die genade oorlaat nie.”
Skrik skiet deur Leopold se lyf. Waarvan praat Mieta?
“En as daar nie geld is nie?” wil Moos weet. “Jy’t self gehoor Oudok het gesê daar’s nie ’n pennie in die boedel nie. Waar die rykdom vandaan gekom het waarvan sy mammie Isabella al die jare so lekker geleef het, weet g’n niemand nie.”
Leopold moet aan die muur vashou om nie om te kap nie. Niks hiervan kan waar wees nie! Al wat hy van sy pa weet, is dat hy dood is in ’n jagongeluk